Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Siriese Pesjitta—’n Kykie in die wêreld van vroeë Bybelvertalings

Die Siriese Pesjitta—’n Kykie in die wêreld van vroeë Bybelvertalings

In 1892 het die tweelingsusters Agnes Smith Lewis en Margaret Dunlop Gibson nege dae lank op kamele deur die woestyn gereis na die St. Catharina-klooster aan die voet van die berg Sinai. Waarom het dié twee vroue wat in hulle laat 40’s was, hierdie reis onderneem toe dit so gevaarlik was om te reis in wat die Ooste genoem is? Die antwoord sal moontlik help om jou geloof in die juistheid van die Bybel te versterk.

Agnes Smith Lewis en die St. Catharina-klooster

KORT voordat Jesus teruggekeer het hemel toe, het hy sy dissipels die opdrag gegee om van hom te getuig “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Die dissipels het hierdie opdrag met ywer en moed uitgevoer. Maar hulle bediening in Jerusalem het kort voor lank hewige teenstand tot gevolg gehad, wat tot die marteldood van Stefanus gelei het. Baie van Jesus se dissipels het gevlug na een van die grootste stede in die Romeinse Ryk, Antiogië in Sirië, sowat 550 kilometer noord van Jerusalem.—Handelinge 11:19.

In Antiogië het die dissipels aangehou om “die goeie nuus” oor Jesus te verkondig, en baie nie-Jode het gelowiges geword (Handelinge 11:20, 21). Die mense in Antiogië het hoofsaaklik Grieks gepraat, maar buite die stad se poorte en in die provinsie het die mense Siries gepraat.

DIE GOEIE NUUS WORD IN SIRIES VERTAAL

Toe die aantal Siriessprekende Christene in die tweede eeu toegeneem het, het die behoefte ontstaan om die goeie nuus in hulle taal te vertaal. Siries, en nie Latyn nie, was dus blykbaar die eerste volkstaal waarin dele van die Christelike Griekse Geskrifte vertaal is.

 Teen omstreeks 170 HJ het die Siriese skrywer Tatianus (ca. 120-173 HJ) die vier kanonieke Evangelies saamgevoeg en die werk wat gewoonlik die Diatessaron genoem word, in Grieks of Siries, voortgebring. Diatessaron is ’n Griekse woord wat “deur [die] vier [Evangelies]” beteken. Later het Efraem die Siriër (ca. 310-373 HJ) ’n kommentaar op die Diatessaron saamgestel, wat bevestig dat Siriese Christene dit gereeld gebruik het.

Die Diatessaron is vandag vir ons van groot belang. Waarom? In die 19de eeu het party geleerdes aangevoer dat die Evangelies eers in die tweede eeu, tussen 130 HJ en 170 HJ, geskryf is en dus nie ware verslae van Jesus se lewe kan wees nie. Maar eertydse manuskripte van die Diatessaron wat sedertdien ontdek is, het bewys dat die Evangelieverslae van Matteus, Markus, Lukas en Johannes teen die middel van die tweede eeu reeds algemeen gebruik is. Hierdie verslae is dus ongetwyfeld vroeër geskryf. En aangesien Tatianus hoofsaaklik van die vier aanvaarde Evangelies gebruik gemaak het toe hy die Diatessaron saamgestel het, is dit duidelik dat die apokriewe evangelies nie as betroubaar of kanoniek beskou is nie.

Die Siriese Pesjitta van die Pentateug, 464 HJ, die tweede oudste gedateerde manuskrip van die Bybelteks

Teen die begin van die vyfde eeu is ’n Siriese Bybelvertaling algemeen in die noorde van Mesopotamië gebruik. Hierdie vertaling is waarskynlik gedurende die tweede of derde eeu HJ voortgebring en het al die boeke van die Bybel behalwe 2 Petrus, 2 en 3 Johannes, Judas en Openbaring ingesluit. Dit staan bekend as die Pesjitta, wat “Eenvoudig” of “Duidelik” beteken. Die Pesjitta is een van die oudste en belangrikste bewyse dat die Bybel vroeg reeds aan mense beskikbaar gestel is.

Interessant genoeg, op een manuskrip van die Pesjitta is daar ’n datum wat ooreenstem met 459/460 HJ, wat beteken dat dit die oudste Bybelmanuskrip met ’n spesifieke datum is. Omstreeks 508 HJ het ’n hersiening van die Pesjitta die lig gesien, wat die vyf boeke ingesluit het wat vroeër nie in die Pesjitta was nie. Dit staan bekend as die Filokseniaanse vertaling.

NOG SIRIESE MANUSKRIPTE WORD ONTDEK

Tot die 19de eeu het feitlik al die bekende Griekse afskrifte van die Christelike Griekse Geskrifte uit die vyfde eeu of baie later gedateer. Daarom het Bybelgeleerdes veral belanggestel in vroeë vertalings soos die Latynse Vulgaat en die Siriese Pesjitta. Destyds het party gemeen dat die Pesjitta die resultaat was van ’n hersiening van ’n ouer Siriese vertaling. Maar hierdie vertaling was nog nie ontdek nie. Aangesien die ontstaan van die Siriese Bybel teruggevoer kan word tot die tweede eeu, sou so ’n vertaling ’n kykie bied in die vroeë Bybelteks, en dit sou beslis vir Bybelgeleerdes van onskatbare waarde wees! Was daar werklik ’n ou Siriese vertaling? Sou dit gevind word?

Die palimpses wat die Sinaïties-Siriese manuskrip genoem word. Die teks van die Evangelies wat oorspronklik daarop was, kan in die kantruimte gesien word

Die antwoord is ja! Trouens, twee kosbare Siriese manuskripte is gevind. Die eerste is ’n manuskrip wat uit die vyfde eeu dateer. Dit was een van ’n groot aantal Siriese manuskripte wat die Britse Museum in 1842 by ’n klooster in die Nitriaanse Woestyn in Egipte gekry het. Dit is die Cureton-Siriese manuskrip genoem omdat dit ontdek en gepubliseer is deur William Cureton, die museum se assistent-bewaarder van manuskripte. Hierdie kosbare dokument bevat die vier Evangelies in dié volgorde: Matteus, Markus, Johannes en Lukas.

Die tweede manuskrip wat tot in ons dag behoue gebly het, is die Sinaïties-Siriese manuskrip. Die ontdekking daarvan hou verband met die avontuurlustige tweelingsusters wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Hoewel Agnes nie ’n universiteitsgraad gehad het nie, het sy agt vreemde tale geleer, waarvan een Siries was. In 1892 het Agnes ’n merkwaardige ontdekking gedoen in die St. Catharina-klooster in Egipte.

Daar, in ’n donker kas, het sy ’n Siriese manuskrip gevind. Sy het vertel: “Dit was in ’n slegte toestand, want dit was baie vuil, en byna al die blaaie het aan mekaar vasgesit omdat dit [eeue lank] nie gebruik is nie.” Dit was ’n palimpses, * ’n manuskrip waarvan die oorspronklike skrif verwyder is  en waarop ’n nuwe teks omtrent vroulike heiliges in Siries geskryf is. Maar Agnes kon van die oorspronklike skrif op die manuskrip uitmaak en het die woorde “van Matteus”, “van Markus” of “van Lukas” boaan gesien. In haar hand was ’n feitlik volledige Siriese kodeks van die vier Evangelies! Geleerdes meen nou dat hierdie kodeks laat in die vierde eeu geskryf is.

Die Sinaïties-Siriese manuskrip word beskou as een van die belangrikste Bybelmanuskripte wat nog ontdek is, tesame met Griekse manuskripte soos die Codex Sinaiticus en die Codex Vaticanus. Daar word nou oor die algemeen gedink dat die Curetonmanuskrip sowel as die Sinaïtiese manuskrip afskrifte van die ou Siriese Evangelies is wat behoue gebly het en uit die laat tweede of vroeë derde eeu dateer.

‘DIE WOORD VAN ONS GOD BLY TOT ONBEPAALDE TYD BESTAAN’

Kan hierdie manuskripte vandag vir Bybelstudente nuttig wees? Beslis! Beskou byvoorbeeld die sogenoemde lang slot van die Evangelie van Markus, wat in party Bybels op Markus 16:8 volg. Dit verskyn in die Griekse Codex Alexandrinus van die vyfde eeu, die Latynse Vulgaat en elders. Maar die twee gesaghebbende vierde-eeuse Griekse manuskripte—Codex Sinaiticus en Codex Vaticanus—eindig albei met Markus 16:8. Die Sinaïties-Siriese manuskrip het ook nie hierdie lang slot nie, wat verdere bewys lewer dat die lang slot later bygevoeg is en oorspronklik nie deel was van Markus se Evangelie nie.

Kyk na nog ’n voorbeeld. In die 19de eeu het feitlik alle Bybelvertalings ’n vervalste byvoeging in 1 Johannes 5:7 gehad wat die Drie-eenheid ondersteun. Maar hierdie byvoeging verskyn nie in die oudste Griekse manuskripte nie. En dit verskyn ook nie in die Pesjitta nie, wat bewys dat die byvoeging in 1 Johannes 5:7 ’n vervalsing in die Bybelteks is.

Dit is duidelik dat Jehovah God sy Heilige Woord behoue laat bly het soos hy belowe het. Sy Woord gee ons hierdie versekering: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan” (Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25). Die vertaling wat as die Pesjitta bekend staan, speel ’n beskeie maar belangrike rol daarin om die boodskap van die Bybel akkuraat oor te dra aan die hele mensdom.

^ par. 15 Die Griekse woord pa·lim’pse·stos beteken “weer geskraap”.