Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 2

Wie is God?

Wie is God?

1. Hoekom moet ons God aanbid?

Die ware God is die Skepper van alles. Hy het nie ’n begin gehad nie en sal nooit ’n einde hê nie (Psalm 90:2). Die goeie nuus in die Bybel kom van hom (1 Timoteus 1:11). Omdat God ons lewe gegee het, moet ons hom alleen aanbid. – Lees Openbaring 4:11.

2. Watter soort persoon is God?

Geen mens het God nog ooit gesien nie, want hy is ’n Gees. Dit beteken dat hy ’n hoër lewensvorm is as mense wat op die aarde woon (Johannes 1:18; 4:24). Maar ons kan uit die dinge wat God gemaak het, sien watter soort persoon hy is. Byvoorbeeld, die verskillende vrugte en blomme vertel ons van sy liefde en wysheid. Die grootte van die heelal vertel ons van sy krag. – Lees Romeine 1:20.

Wanneer ons die Bybel lees, kan ons selfs meer leer oor watter soort persoon God is. Dit vertel ons byvoorbeeld waarvan God hou en waarvan hy nie hou nie, hoe hy mense behandel en hoe hy in verskillende situasies reageer. – Lees Psalm 103:7-10.

3. Het God ’n naam?

Jesus het gesê: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Al het God baie titels, het hy net een naam. Dit word in elke taal anders uitgespreek. In Afrikaans word dit gewoonlik as “Jehovah” uitgespreek. Maar sommige mense sê “Jahweh”. – Lees Psalm 83:18.

God se naam is uit baie Bybels uitgehaal en met die titels Here of God vervang. Maar toe die Bybel geskryf is, het God se naam omtrent 7 000 keer daarin verskyn. Jesus het God se naam bekend gemaak toe hy mense van God geleer het. – Lees Johannes 17:26.

Kyk na die video Het God ’n naam?

4. Gee Jehovah vir ons om?

Soos hierdie liefdevolle pa, dink God aan wat goed is vir ons oor die langtermyn

Baie mense op die aarde kry swaar. Maar beteken dit dat Jehovah ’n God is wat nie vir ons omgee nie? Party mense sê dat hy ons laat swaarkry om ons te toets, maar dit is nie waar nie. – Lees Jakobus 1:13.

God het die mens die vryheid gegee om self besluite te maak. Waardeer ons nie ons vryheid om te kies om God te dien nie? (Josua 24:15). Maar baie mense kies om slegte dinge aan ander te doen, en daarom kry so baie mense swaar. Dit maak Jehovah seer om hierdie onregverdigheid te sien. – Lees Genesis 6:5, 6.

Jehovah is ’n God wat vir ons omgee. Hy wil hê dat ons die lewe moet geniet. Hy sal binnekort ’n einde maak aan swaarkry en mense wat dit veroorsaak. Intussen het hy ’n goeie rede hoekom hy toelaat dat mense vir ’n beperkte tyd swaarkry. Ons sal in Les 8 uitvind wat hierdie rede is. – Lees 2 Petrus 2:9; 3:7, 13.

5. Hoe kan ons nader aan God kom?

Jehovah nooi ons om nader aan hom te kom deur in gebed met hom te praat. Hy stel in elkeen van ons belang (Psalm 65:2; 145:18). Hy is bereid om te vergewe. Hy sien wanneer ons hom gelukkig wil maak, selfs al kry ons dit nie altyd reg nie. So, ons kan ’n goeie verhouding met God hê al is ons onvolmaak. – Lees Psalm 103:12-14; Jakobus 4:8.

Omdat Jehovah ons lewe gegee het, moet ons hom meer liefhê as enigiemand anders (Markus 12:30). Wanneer jy wys dat jy vir God lief is deur meer van hom te leer en te doen wat hy van jou vra, sal jy al hoe nader aan hom kom. – Lees 1 Timoteus 2:4; 1 Johannes 5:3.