Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 4

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?

1. Hoe het Jesus se lewe begin?

Watter eienskappe het Jesus gehad wat mense na hom toe getrek het? – MATTEUS 11:29; MARKUS 10:13-16.

Anders as enige ander mens het Jesus as ’n geespersoon in die hemel gelewe voordat hy op die aarde gebore is (Johannes 8:23). God het eerste vir Jesus geskep, en hy het gehelp om alle ander dinge te skep. Hy is die enigste een wat direk deur Jehovah geskep is, en daarom word hy God se “eniggebore” Seun genoem (Johannes 1:14). Jesus het as God se Woordvoerder gedien en word dan ook “die Woord” genoem. – Lees Spreuke 8:22, 23, 30; Kolossense 1:15, 16.

2. Hoekom het Jesus na die aarde toe gekom?

God het sy Seun na die aarde gestuur. Hy het Jesus se lewe vanuit die hemel na die baarmoeder van ’n Joodse maagd met die naam Maria oorgeplaas. So, Jesus het nie ’n menslike vader gehad nie (Lukas 1:30-35). Jesus het na die aarde toe gekom (1) om ander die waarheid oor God te leer, (2) om vir ons ’n voorbeeld te stel van hoe om God se wil te doen selfs wanneer ons probleme het en (3) om sy volmaakte lewe as “’n losprys” te gee. – Lees Matteus 20:28.

3. Hoekom het ons ’n losprys nodig?

’n Losprys is die prys wat betaal word om iemand te bevry wat gedreig word met die dood (Eksodus 21:29, 30). Dit was nooit deel van God se doel vir die mens dat hulle moes oud word en sterf nie. Hoe weet ons dit? God het vir die eerste mens, Adam, gesê dat hy sou sterf as hy ongehoorsaam is. Die Bybel noem ongehoorsaamheid aan God “sonde”. So, as Adam nie gesondig het nie, sou hy nooit gesterf het nie (Genesis 2:16, 17; 5:5). Volgens die Bybel het die dood deur Adam in die mensewêreld “ingekom”. Daarom het Adam sonde en die straf daarvoor, die dood, aan sy nageslag oorgedra. Ons het ’n losprys nodig om ons te bevry van die straf van die dood wat ons van Adam geërf het. – Lees Romeine 5:12; 6:23.

Wie kon die losprys betaal om ons van die dood te bevry? Wanneer ons sterf, betaal ons net vir ons eie sondes. Geen onvolmaakte mens kan vir die sondes van ’n ander mens betaal nie. – Lees Psalm 49:7-9.

4. Hoekom het Jesus gesterf?

Jesus was volmaak en het nooit gesondig nie. Daarom hoef hy nooit vir sy sondes te sterf nie. Jesus het eerder vir die sondes van ander gesterf. God het groot liefde vir die mens gewys deur sy Seun te stuur om vir ons te sterf. Jesus het ook liefde vir ons gewys deur aan sy Vader gehoorsaam te wees en sy lewe vir ons sondes te gee. – Lees Johannes 3:16; Romeine 5:18, 19.

Kyk na die video Waarom het Jesus gesterf?

5. Wat doen Jesus nou?

Toe Jesus op die aarde was, het hy siek mense gesond gemaak, die dooies weer laat lewe en mense gehelp wat swaargekry het. Hy het hierdeur gewys wat hy in die toekoms vir alle gehoorsame mense sal doen (Matteus 15:30, 31; Johannes 5:28). Nadat Jesus gesterf het, het God hom as ’n geespersoon lewend gemaak (1 Petrus 3:18). Jesus het toe aan God se regterhand gewag totdat Jehovah hom die mag gegee het om as Koning oor die hele aarde te regeer (Hebreërs 10:12, 13). Nou regeer Jesus as Koning in die hemel, en sy volgelinge verkondig hierdie goeie nuus wêreldwyd. – Lees Daniël 7:13, 14; Matteus 24:14.

Jesus sal binnekort sy mag as Koning gebruik om ’n einde te maak aan alle swaarkry en aan mense wat dit veroorsaak. Almal wat in Jesus geloof beoefen deur gehoorsaam te wees aan hom, sal lewe op ’n paradysaarde geniet. – Lees Psalm 37:9-11.