Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 9

Hoe kan jou gesin gelukkig wees?

Hoe kan jou gesin gelukkig wees?

1. Hoekom is die huwelik nodig vir ’n gesin om gelukkig te wees?

Die goeie nuus kom van Jehovah, die gelukkige God, en hy wil hê dat gesinne gelukkig moet wees (1 Timoteus 1:11). Hy het die huwelik ingestel. ’n Wettige huwelik is nodig vir gesinsgeluk omdat dit almal in die gesin veilig laat voel. Christene moet plaaslike wette oor die registrasie van huwelike respekteer. – Lees Lukas 2:1, 4, 5.

God wil hê dat die huwelik ’n permanente band tussen ’n man en ’n vrou moet wees. Jehovah wil hê dat ’n man en vrou lojaal moet wees aan mekaar (Hebreërs 13:4). Hy haat egskeiding (Maleagi 2:16). Maar hy laat Christene wel toe om te skei en weer te trou as daar seksuele onsedelikheid plaasgevind het. – Lees Matteus 19:3-6, 9.

2. Hoe moet ’n man en vrou mekaar behandel?

Jehovah het die man en vrou gemaak om mekaar aan te vul (Genesis 2:18). As gesinshoof is dit die man se verantwoordelikheid om materieel vir sy gesin te sorg en hulle van God te leer. Hy moet selfopofferende liefde vir sy vrou hê. ’n Man en vrou moet mekaar liefhê en respekteer. Omdat alle mans en vrouens onvolmaak is, kan die gesin net gelukkig wees as hulle leer om mekaar te vergewe. – Lees Efesiërs 4:31, 32; 5:22-25, 33; 1 Petrus 3:7.

3. Moet jy ’n ongelukkige huwelik beëindig?

As julle probleme in julle huwelik het, moet julle hard werk om mekaar met liefde te behandel (1 Korintiërs 13:4, 5). God se Woord sê nie dat huweliksmaats uitmekaar moet gaan as ’n manier om probleme op te los nie. – Lees 1 Korintiërs 7:10-13.

4. Kinders, wat wil God vir julle hê?

Jehovah wil hê dat julle gelukkig moet wees. Hy gee julle die beste raad oor hoe om julleself te geniet terwyl julle jonk is. Hy wil hê dat julle by die wysheid en ondervinding van julle ouers moet leer (Kolossense 3:20). Jehovah wil ook hê dat julle moet sien hoe lekker dit is om dinge vir julle Skepper en sy Seun te doen. – Lees Prediker 11:9–12:1; Matteus 19:13-15; 21:15, 16.

5. Ouers, hoe kan julle kinders gelukkig wees?

Julle moet hard werk om seker te maak dat julle kinders kos, klere en ’n dak oor hulle kop het (1 Timoteus 5:8). Maar as julle wil hê dat julle kinders gelukkig moet wees, moet julle hulle ook leer om God lief te hê en om na hom te luister (Efesiërs 6:4). Die voorbeeld wat julle daarin stel om vir God lief te wees, kan julle kind se hart diep raak. As julle God se Woord gebruik om julle kind te leer, kan dit ’n positiewe uitwerking hê op hoe hulle dink. – Lees Deuteronomium 6:4-7; Spreuke 22:6.

Dit is goed vir kinders wanneer julle hulle aanmoedig en prys. Dit is ook nodig dat hulle reggehelp en gedissiplineer moet word. Hierdie opleiding help hulle om nie dinge te doen wat hulle ongelukkig kan maak nie (Spreuke 22:15). Maar dissipline moet nooit hard of wreed wees nie. – Lees Kolossense 3:21.

Jehovah se Getuies gee verskeie boeke uit wat spesifiek geskryf is om ouers en kinders te help. Hierdie boeke is op die Bybel gebaseer. – Lees Psalm 19:7, 11.