Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om met waardigheid oud te word

Hoe om met waardigheid oud te word

HOE voel jy wanneer jy besef dat jy ouer word? Baie mense voel bekommerd, angstig of selfs bang. Dit is omdat veroudering gewoonlik verband hou met negatiewe dinge, soos om ouer te lyk, ’n swak liggaam, geheueverlies en chroniese siektes.

Maar die feit is dat die manier waarop iemand ouer word, grootliks van persoon tot persoon verskil. Party mense geniet redelik goeie gesondheid in hulle latere jare, fisies sowel as verstandelik. Vooruitgang op mediese gebied het dit vir ander moontlik gemaak om chroniese siektes te behandel of te beheers. In party lande lei al hoe meer mense dus langer en gesonder lewens.

Die meeste mense wil graag met waardigheid oud word, hetsy hulle ouderdomsverwante probleme het of nie. Hoe kan ’n mens dit doen? In ’n mate hang dit af van ons gesindheid asook ons bereidwilligheid en vermoë om by hierdie nuwe fase in ons lewe aan te pas. Kom ons kyk na ’n paar eenvoudige en praktiese Bybelbeginsels wat ons hiermee kan help.

WEES BESKEIE: “Wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). In hierdie konteks kan “die beskeidenes” verwys na bejaardes wat die beperkings van hulle ouderdom erken en aanvaar en dit nie probeer ontken of ignoreer nie. Die 93-jarige Charles, in Brasilië, is realisties wanneer hy sê: “As jy lank lewe, sal jy oud word. Dit is nie moontlik om die tyd terug te draai nie.”

Maar om beskeie te wees, beteken geensins dat ’n mens pessimisties moet wees en moet dink: “Ek is oud, en die lewe hou niks meer vir my in nie.” So ’n gesindheid kan jou van jou entoesiasme beroof. “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees”, sê Spreuke 24:10. ’n Beskeie persoon openbaar eerder wysheid en maak die beste van die situasie.

Corrado, wat 77 jaar oud is en in Italië woon, sê wyslik: “Wanneer jy teen ’n heuwel opry, moet jy ratte wissel sodat die motor nie gaan staan nie.” Ja, ’n mens moet aanpassings maak wanneer jy ouer word. Corrado en sy vrou het ’n gebalanseerde beskouing van huistakies. Hulle ooreis hulle nie sodat hulle nie aan die einde van die dag heeltemal uitgeput is nie. Die 81-jarige Marian, in Brasilië, het ook ’n realistiese benadering wanneer dit kom by veroudering. “Ek het geleer om redelik te wees en nie te veel eise aan myself te stel nie”, sê sy. “Ek neem ’n blaaskans tussen takies wanneer dit nodig is. Ek sit of lê ’n bietjie om te lees of na musiek te luister. Ek het geleer om my beperkings te erken en dit in ag te neem.”

Wees gebalanseerd

WEES GEBALANSEERD: “Vroue [moet] hulle met goed versorgde kleredrag . . . versier, met beskeidenheid en gesonde verstand” (1 Timoteus 2:9). Die woorde “versorgde kleredrag” dui op balans en goeie smaak. Barbara, wat 74 jaar oud is en in Kanada woon, sê: “Ek probeer om netjies en skoon te lyk. Ek wil nie onversorg lyk en mense die indruk gee dat ek dink: ‘Ek is oud; ek gee nie om hoe ek lyk nie.’” Die 91-jarige Fern, in Brasilië, sê: “Ek koop elke nou en dan vir my nuwe klere om my op te beur.” En wat sê ouer mans? “Ek doen my bes om deftig te lyk deur seker te maak dat my klere altyd skoon is”, sê Antônio, ’n 73-jarige in Brasilië. Wanneer dit kom by persoonlike higiëne, voeg hy by: “Ek stort en skeer elke dag.”

Aan die ander kant is dit belangrik om nie so besorg oor jou voorkoms te raak dat jy nie “gesonde verstand” aan die dag lê nie. Bok-im, ’n 69-jarige in Suid-Korea, het ’n gebalanseerde beskouing van kleredrag. Sy sê: “Ek weet goed dat dit nie vir my gepas is om die klere te dra wat ek gedra het toe ek jonk was nie.”

Wees positief

WEES POSITIEF: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spreuke 15:15). Wanneer jy ouer word, sal jy dalk sleg voel wanneer jy terugdink aan die krag wat jy gehad het toe jy jonk was en alles wat jy vroeër kon doen. Dit is verstaanbaar. Maar probeer hard om nie toe te laat dat sulke negatiewe gevoelens jou oorweldig nie. Om oor die verlede te sit en tob, kan jou terneergedruk laat voel en jou daarvan terughou om te doen wat jy nog kan doen. Die 79-jarige Joseph, in Kanada, het ’n positiewe uitkyk: “Ek probeer om die dinge wat ek kan doen, te geniet en om nie hartseer te wees oor wat ek nie meer kan doen nie.”

Om te lees en te leer kan jou ook positiewer laat voel omdat dit jou ’n breër beskouing van dinge gee. Daarom moet jy sover moontlik op die uitkyk wees na geleenthede om te lees en nuwe dinge te leer. Ernesto, wat 74 jaar oud is en in die Filippyne woon, gaan na die biblioteek en neem interessante boeke uit om te lees. Hy sê: “Ek geniet nog steeds die opwinding van avonture, die vreugde wat ek ervaar wanneer ek na ander plekke reis deur middel van die geskrewe woord.” Die 75-jarige Lennart, in Swede, het selfs die groot uitdaging aanvaar om ’n nuwe taal te leer.

Wees vrygewig

WEES VRYGEWIG: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee” (Lukas 6:38). Kom in die gewoonte om jou tyd en middele te gebruik om ander te help. Dit sal jou tevrede en gelukkig laat voel. Hosa, ’n 85-jarige in Brasilië, maak ’n punt daarvan om ander te help ten spyte van haar fisiese beperkings. Sy sê: “Ek bel vriende wat siek of ontmoedig is en ek skryf vir hulle. Soms stuur ek vir hulle klein geskenkies. Ek hou ook daarvan om kos te kook of iets soets te bak vir dié wat siek is.”

As ’n mens vrygewig is, is ander ook vrygewig teenoor jou. “Wanneer jy aan ander liefde betoon, sal hulle jou ook liefdevol behandel”, sê Jan, ’n 66-jarige in Swede. Ja, ’n vrygewige persoon skep ’n atmosfeer van hartlikheid en waardering wat ander aantrek.

WEES VRIENDELIK: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek” (Spreuke 18:1). Hoewel daar tye is wanneer jy dalk alleen wil wees, moet jy jou nie afsonder en afsydig hou nie. Die 72-jarige Innocent, in Nigerië, geniet die geselskap van vriende. “Ek geniet dit om met mense van alle ouderdomme te assosieer.” Börje, ’n 85-jarige in Swede, sê: “Ek probeer om tyd met jongmense deur te bring. Hulle lewenslus laat my weer jonk voel—ten minste innerlik.” Neem die inisiatief om van tyd tot tyd vriende oor te nooi. Die 72-jarige Han-sik, in Suid-Korea, sê: “Ek en my vrou hou daarvan om vriende van alle ouderdomme—bejaardes en tieners—vir ’n geselligheid of ’n ete te nooi.”

Wees vriendelik

Vriendelike mense hou daarvan om te gesels. Maar aangesien kommunikasie ’n tweerigtingstraat is, moet jy ’n punt daarvan maak om goeie geselskap te wees. Toon persoonlike belangstelling in ander. Helena, ’n 71-jarige in Mosambiek, sê: “Ek probeer om vriendelik te wees en ander met waardigheid te behandel. Ek luister na wat hulle sê sodat ek kan uitvind wat hulle dink en waarvan hulle hou.” Die 73-jarige José, in Brasilië, sê: “Mense geniet die geselskap van goeie luisteraars—dié wat medelye en belangstelling in ander toon, hulle op die regte tyd prys en ’n sin vir humor het.”

Wanneer jy jou gedagtes uitspreek, moet jy daarop let om ‘jou woorde smaaklik te maak met sout’ (Kolossense 4:6). Wees bedagsaam en aanmoedigend.

WEES DANKBAAR: “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). Toon waardering wanneer iemand jou help. Blyke van dankbaarheid bevorder goeie verhoudings. “Ek en my man het onlangs van ’n huis na ’n woonstel getrek. Baie van ons vriende het ons gehelp. Ons was baie dankbaar. Ons het vir elkeen ’n dankiesêkaartjie gestuur, en ons het al ’n paar van hulle vir ’n ete oorgenooi”, sê Marie-Paule, ’n 74-jarige in Kanada. Die 76-jarige Jae-won, in Suid-Korea, waardeer dit dat ander haar na die Koninkryksaal neem. Sy sê: “Ek is so dankbaar vir al die hulp dat ek altyd aanbied om iets vir die brandstof by te dra. Soms maak ek klein geskenkies en skryf ek dankiesêbriefies.”

Wees bowenal dankbaar vir die lewe. “’n Lewende hond [is] beter daaraan toe . . . as ’n dooie leeu”, sê die wyse koning Salomo (Prediker 9:4). Ja, as jy die regte gesindheid openbaar en bereid is om aanpasbaar te wees, is dit moontlik om met waardigheid oud te word.

Wees dankbaar