Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HET DIE WETENSKAP DIE BYBEL VERVANG?

Hoe die wetenskap jou lewe raak

Hoe die wetenskap jou lewe raak

Volgens een woordeboek is die wetenskap “die stelselmatige studie van die aard en optrede van die materiële en fisiese heelal, wat gebaseer is op waarneming, eksperimentering en meting”. Dit alles behels harde, en dikwels frustrerende, werk. Wetenskaplikes worstel weke, maande of selfs jare lank met eksperimente en waarnemings. Soms vind hulle geen oplossings nie, maar in baie gevalle vind die mensdom by hulle werk baat. Kyk na ’n paar voorbeelde.

’n Europese maatskappy het ’n produk uit sterk plastiek en gesofistikeerde filters vervaardig wat voorkom dat iemand wat besmette water drink, siek word. Sulke produkte is al gebruik ná natuurrampe, soos die aardbewing wat in 2010 in Haïti plaasgevind het.

Hoog bo die aarde is daar netwerke van satelliete wat die globale posisioneringstelsel (GPS) genoem word. Die GPS, wat oorspronklik vir militêre gebruik ontwerp is, help motoriste, vlieëniers, seevaarders en selfs jagters en voetslaners om hulle weg te vind. Danksy die wetenskaplikes wat dit uitgevind het, maak die GPS dit vir jou makliker om by jou bestemming uit te kom.

Gebruik jy ’n selfoon, ’n rekenaar of die Internet? Geniet jy nou beter gesondheid as gevolg van gevorderde geneeskunde? Reis jy soms per vliegtuig? Indien wel, vind jy baat by ’n paar van die maniere waarop die wetenskap vir die mensdom ’n seën is. Die wetenskap het jou lewe op talle maniere verbeter.

DIE BEPERKINGS VAN DIE MODERNE WETENSKAP

Om hulle kennis te verbreed doen hedendaagse wetenskaplikes noukeurige navorsing oor die sigbare wêreld. Kernfisikusse bestudeer die werking van die atoom, en astrofisikusse kyk miljarde jare terug in die geskiedenis van die heelal in ’n poging om die oorsprong daarvan te verstaan. Omdat wetenskaplikes so diep delf, selfs in onsigbare en ontasbare wêrelde, voel party dat hulle die God van die Bybel sou kon gevind het as hy bestaan.

Party vooraanstaande wetenskaplikes en filosowe gaan selfs verder. Volgens die wetenskapskrywer Amir D. Aczel voer hulle “wetenskaplike argumente [aan] teen die bestaan van God”. ’n Wêreldbekende fisikus het byvoorbeeld beweer: “Daar is geen bewyse dat enige God ’n belangrike rol in die heelal speel nie, en dit toon duidelik dat so ’n god nie bestaan nie.” Ander verwys na die bedrywighede van die God van die Bybel as “toorkuns” en “bonatuurlike kullery”. a

Maar die vraag bly staan: Het die wetenskap genoeg omtrent die sigbare wêreld geleer om tot die regte gevolgtrekkings te kom? Die eenvoudige antwoord is nee. Hoewel daar groot vooruitgang in die wetenskap gemaak is, erken baie wetenskaplikes dat daar nog baie dinge is wat hulle nie weet nie en dalk nooit sal weet nie. Die fisikus en Nobelpryswenner Steven Weinberg sê in verband met die natuur: “Ons sal dit nooit ten volle kan begryp nie.” Professor Martin Rees, die Koninklike Sterrekundige van Groot-Brittanje, het geskryf: “Daar is dinge wat die mens dalk nooit sal verstaan nie.” Die waarheid is dat ’n groot deel van die sigbare wêreld, van die kleinste sel tot die uitgestrekte heelal, nog steeds nie deur die moderne wetenskap verstaan kan word nie. Kyk na die volgende voorbeelde:

  • Bioloë verstaan nie presies hoe ’n lewende sel werk nie. Hoe selle energie verbrand, hoe hulle proteïene vervaardig en hoe hulle verdeel, is vrae wat die wetenskap nog nie ten volle beantwoord het nie.

  • Swaartekrag het elke sekonde van elke dag ’n uitwerking op ons. Maar eintlik is dit nog ’n raaisel vir fisikusse. Hulle weet nie heeltemal hoe swaartekrag jou na die grond terugtrek wanneer jy spring of hoe dit die maan in sy wentelbaan om die aarde hou nie.

  • Kosmoloë skat dat ongeveer 95 persent van wat die heelal uitmaak, onsigbaar is en nie deur wetenskaplike instrumente waargeneem kan word nie. Hulle verdeel hierdie vreemde entiteit in twee kategorieë, naamlik donker materie en donker energie. Hulle weet nog steeds nie presies wat dit is nie.

Daar is ander onbekende dinge wat wetenskaplikes verbyster. ’n Gewilde wetenskapskrywer sê byvoorbeeld: “Wat ons weet, word ver oortref deur wat ons nie weet nie.” Hy sê dat ’n mens se werk as ’n wetenskaplike ontsag by jou moet wek en jou leergierig en vatbaar vir nuwe idees moet maak, nie dogmaties nie.

As jy dus wonder of die wetenskap die Bybel sal vervang en geloof in God onnodig sal maak, kan jy dink aan die volgende: Briljante wetenskaplikes met hulle kragtige instrumente kon net ’n beperkte begrip van die sigbare wêreld verkry. Maak dit dan sin om eenvoudig die dinge te verwerp wat die wetenskap nie eens kan ondersoek nie? Aan die einde van ’n lang artikel oor die geskiedenis en ontwikkeling van die sterrekunde, kom die Encyclopedia Britannica heel gepas tot die slotsom: “Ná byna 4 000 jaar van sterrekunde is die heelal nog net so ’n raaisel vir ons soos dit vir die Babiloniërs moes gewees het.”

Jehovah se Getuies respekteer elkeen se reg om self oor hierdie saak te besluit. Ons probeer die volgende Bybelse riglyn volg: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Dit is in hierdie gees dat ons jou nooi om self te sien hoe die wetenskap en die Bybel met mekaar ooreenstem en mekaar aanvul.

a Party verwerp die Bybel as gevolg van kerkleringe van die verlede en die hede, soos die opvatting dat die aarde die middelpunt van die heelal is of dat God die wêreld in ses dae van 24 uur elk geskep het.—Sien die venster “ Die Bybel en bevestigde wetenskaplike feite”.