Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om verskoning te vra

Hoe om verskoning te vra

DIE UITDAGING

Jy en jou maat het so pas gestry. ‘Ek hoef nie om verskoning te vra nie’, sê jy vir jouself. ‘Ek’s nie die een wat die stryery begin het nie!’

Jy laat dit staan, maar daar is nog steeds spanning tussen julle. Jy oorweeg dit weer om verskoning te vra, maar jy kan jouself nie so ver kry om daardie eenvoudige woorde “Ek’s jammer” te sê nie.

WAAROM DIT GEBEUR

Trots. “Soms is dit moeilik om te sê ‘Ek’s jammer’ omdat my ego my nie toelaat nie”, erken ’n man met die naam Charles. * Oordrewe trots kan veroorsaak dat jy te verleë is om te erken dat jy ook skuldig is.

Beskouing. Dalk dink jy dat jy net om verskoning moet vra as jy die probleem veroorsaak het. ’n Vrou met die naam Jill sê: “Wanneer ek weet dat die probleem geheel en al my skuld is, is dit maklik om te sê dat ek jammer is. Maar as ons albei dinge gesê het waaroor ons spyt is, is dit moeilik. Waarom moet ek dan om verskoning vra as ons al twee verkeerd is?”

Jy voel dalk nog meer geregverdig as jy dink dat jou maat al die blaam dra vir wat gebeur het. “Wanneer jy werklik glo dat jy niks verkeerds gedoen het nie”, sê ’n man met die naam Joseph, “dui jy aan dat jy onskuldig is deur nie om verskoning te vra nie.”

Agtergrond. Dalk het jy grootgeword in ’n huis waar mense selde om verskoning gevra het. Indien wel, het jy dalk nie geleer om jou foute te erken nie. Omdat jy nie eintlik as ’n kind geleer het om opreg om verskoning te vra nie, is jy nie as ’n volwassene in die gewoonte om dit te doen nie.

WAT JY KAN DOEN

Om verskoning te vra kan die vlamme van konflik blus

Dink aan jou maat. Probeer dink aan ’n keer toe iemand jou om verskoning gevra het en hoe goed dit jou laat voel het. Waarom nie jou maat so laat voel nie? Selfs al glo jy nie dat jy verkeerd was nie, kan jy om verskoning vra vir hoe seergemaak jou maat voel of vir die onbedoelde gevolge van jou dade. Sulke woorde kan jou maat help om sy of haar seergemaakte gevoelens te oorkom.—Bybelbeginsel: Lukas 6:31.

Dink aan jou huwelik. Moenie dink dat jy verloor as jy om verskoning vra nie; beskou dit eerder as ’n oorwinning vir julle huwelik. Spreuke 18:19 sê immers dat iemand wat gegrief bly, “ontoegankliker [is] as ’n vestingstad” (Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Dit is moeilik, indien nie onmoontlik nie, om in so ’n verdedigende atmosfeer vrede te herstel. Maar as jy om verskoning vra, voorkom jy dat die misstap ’n skeidsmuur word. In werklikheid stel jy jou huwelik voor jouself.—Bybelbeginsel: Filippense 2:3.

Wees gou om verskoning te vra. Dit is natuurlik moeilik om “Ek is jammer” te sê as jy nie die enigste een is wat skuldig is nie. Maar jou maat se foute is nie ’n verskoning om jou sleg te gedra nie. Moet dus nie huiwer om om verskoning te vra omdat jy dink dat die verloop van tyd die misstap sal bedek nie. As jy om verskoning vra, kan dit dit vir jou maat makliker maak om dieselfde te doen. En hoe meer jy oefen om verskoning te vra, hoe makliker sal dit word.—Bybelbeginsel: Matteus 5:25.

Toon dat jy dit bedoel. Om jou gedrag te probeer regverdig is nie dieselfde as om daarvoor om verskoning te vra nie. En om, dalk ’n bietjie sarkasties, te sê: “Ek is jammer dat jy so sensitief hieroor is”, is glad nie hoe ’n mens om verskoning vra nie! Aanvaar verantwoordelikheid vir jou optrede en erken dat jou maat seergemaak voel, hetsy jy glo dat die gevoelens geregverdig is of nie.

Aanvaar die werklikheid. Aanvaar nederig dat jy foute sal maak. Almal doen dit immers! Selfs as jy dink dat jy heeltemal onskuldig is in ’n situasie, moet jy erken dat jou weergawe van wat gebeur het, waarskynlik nie die hele waarheid is nie. “Iemand wat in ’n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig”, sê die Bybel, “maar dan kom iemand anders en ondervra hom” (Spreuke 18:17; NAB). Jy sal meer geneig wees om om verskoning te vra, as jy ’n realistiese beskouing van jouself en jou tekortkominge het.

^ par. 7 Van die name in hierdie artikel is verander.