Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om gegriefdheid te laat vaar

Hoe om gegriefdheid te laat vaar

DIE UITDAGING

Jy kan nie die lelike dinge wat jou huweliksmaat gesê of gedoen het, vergeet nie; die harde woorde en onbedagsame dade is onuitwisbaar in jou geheue ingegrif. Gevolglik is die geneentheid wat jy vroeër gehad het, deur gegriefdheid vervang. Dit lyk asof jy geen ander keuse het as om maar net tevrede te wees met ’n liefdelose huwelik nie. Ook dit laat jou gegrief voel teenoor jou maat.

Wees verseker dat die situasie kan verbeter. Maar kyk eers na ’n paar feite oor gegriefdheid.

WAT JY MOET WEET

As jy gegriefdheid nie laat vaar nie, sal dit ’n las word wat keer dat jou huwelik vorentoe beweeg

Gegriefdheid kan ’n huwelik vernietig. Waarom? Omdat dit die eienskappe ondermyn waarop ’n huwelik gebou moet word, waaronder liefde, vertroue en lojaliteit. In sekere sin is gegriefdheid dus nie die gevolg van ’n huweliksprobleem nie; dit is ’n huweliksprobleem. Die Bybel sê tereg: “Laat alle kwaadwillige bitterheid . . . van julle af weggeneem word.”—Efesiërs 4:31.

Jy benadeel jouself as jy nie gegriefdheid laat vaar nie. As jy gegrief bly, is dit soos om jouself te slaan en dan te verwag dat die ander persoon die pyn moet voel. “Die gesinslid teenoor wie jy gegrief voel, is dalk salig onbewus daarvan, geniet die lewe en is dalk glad nie bekommerd oor die saak nie”, skryf Mark Sichel in sy boek Healing From Family Rifts. Wat toon dit vir ons? “Gegriefdheid benadeel jou baie meer as die persoon teenoor wie jy gegrief voel”, sê Sichel.

As jy gegrief bly, is dit soos om jouself te slaan en dan te verwag dat die ander persoon die pyn moet voel

Jy kan kies of jy gegrief wil voel. Party mense twyfel dalk hieroor. Hulle sê miskien: ‘My huweliksmaat het veroorsaak dat ek gegrief voel.’ Die probleem is dat hierdie idee die klem plaas op iets wat nie beheer kan word nie—die dade van iemand anders. Die Bybel gee eerder hierdie raad: “Laat elkeen sy eie werk [of, “dade”] op die proef stel” (Galasiërs 6:4). Ons kan nie beheer wat iemand anders sê of doen nie, maar ons kan beheer hoe ons daarop reageer. Gegriefdheid is nie ons enigste keuse nie.

WAT JY KAN DOEN

Besef dat jy verantwoordelik is vir jou gegriefdheid. Dit is maklik om jou huweliksmaat die skuld te gee. Maar onthou dat jy kan kies of jy gegrief wil voel. Dit is ook die geval met vergifnis. Jy kan kies of jy die Bybel se raad wil volg: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). As jy vergewensgesind is, sal jy jou huweliksprobleme met ’n beter gesindheid kan aanpak.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:13.

Doen eerlike selfondersoek. Die Bybel erken dat party mense “gou toornig word” en “geneig is tot woede” (Spreuke 29:22). Is dit hoe jy is? Vra jou af: ‘Is ek geneig om verbitterd te word? Neem ek maklik aanstoot? Is ek geneig om ’n berg van ’n molshoop te maak?’ Die Bybel sê: “Hy wat oor ’n saak bly praat, skei dié wat vertroulik met mekaar omgaan” (Spreuke 17:9; Prediker 7:9). Dit kan ook in ’n huwelik gebeur. As jy tot gegriefdheid geneig is, moet jy jou dus afvra: ‘Kan ek geduldiger wees met my huweliksmaat?’—Bybelbeginsel: 1 Petrus 4:8.

Besluit wat werklik belangrik is. Volgens die Bybel is daar “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:7). Dit is nie nodig om alles wat jou aanstoot gee, te bespreek nie; soms kan jy eenvoudig ‘sê wat jy te sê het in jou hart, op jou bed, en stilbly’ (Psalm 4:4). Wanneer dit wel nodig is om te praat oor iets wat jou gegrief laat voel, moet jy wag totdat jy nie meer kwaad is nie. “Wanneer ek seergemaak voel”, sê ’n vrou met die naam Beatriz, “probeer ek eers bedaar. Soms besef ek later dat wat my man gedoen of gesê het, nie so erg is nie, en dan is ek meer geneig om met respek te praat.”—Bybelbeginsel: Spreuke 19:11.

Verstaan wat dit beteken om te vergewe. In die Bybel is die woord “vergewe” soms ’n vertaling van ’n woord wat in die oorspronklike taal daarop dui dat ’n mens iets laat vaar. Om te vergewe, behels dus nie dat jy die oortreding of daad verklein of maak asof dit nooit gebeur het nie; dit kan beteken dat jy dit eenvoudig laat vaar, in die wete dat gegriefdheid jou gesondheid en jou huwelik meer kan benadeel as die oortreding self.