Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om te vergewe

Hoe om te vergewe

DIE UITDAGING

Wanneer jy en jou huweliksmaat stry, grawe julle dikwels ou koeie uit die sloot en haal julle griewe op wat lankal opgelos moes gewees het. Wat is die probleem? Een of albei van julle weet dalk nie hoe om te vergewe nie.

Jy kan leer om dit te doen. Maar kyk eerstens waarom dit dalk vir ’n man en vrou so moeilik is om mekaar te vergewe.

WAAROM DIT GEBEUR

Mag. Party mans en vrouens vergewe nie hulle huweliksmaat nie sodat hulle ’n mate van mag oor hulle maat kan behou. Wanneer ’n meningsverskil ontstaan, gebruik hulle dan iets wat in die verlede gebeur het, as ’n troefkaart om die oorhand te kry.

Gegriefdheid. Wanneer iemand gekwets is, kan dit lank neem voordat die wonde genees. ’n Huweliksmaat miskien: ‘Ek vergewe jou’, maar voel nog steeds gegrief oor wat gebeur het—en wil dalk met gelyke munt terugbetaal.

Teleurstelling. Wanneer party mense trou, glo hulle vas dat die lewe soos ’n sprokiesromanse sal wees. As ’n meningsverskil ontstaan, weier hulle dus om toe te gee en wonder hulle hoe op aarde hulle “ideale maat” ’n ander beskouing van sake as hulle kan hê. Onrealistiese verwagtinge kan maak dat ’n persoon meer geneig is om fout te vind en minder geneig is om te vergewe.

’n Wanbegrip. Baie huweliksmaats vergewe nie hulle maat nie omdat hulle ’n wanbegrip het van wat vergifnis sal beteken. Byvoorbeeld:

As ek vergewe, verklein ek die onreg.

As ek vergewe, moet ek vergeet wat gebeur het.

As ek vergewe, kan dit tot nog onregte aanleiding gee.

Vergifnis beteken in werklikheid nie enige van die bogenoemde nie. Tog kan dit moeilik wees om te vergewe—veral wanneer dit kom by die hegte verhouding tussen ’n man en vrou.

 WAT JY KAN DOEN

Verstaan wat vergifnis behels. In die Bybel beteken die woord “vergewe” soms “laat vaar”. Vergifnis vereis dus nie altyd dat jy vergeet wat gebeur het of die onreg verklein nie. Soms beteken dit dat jy die saak eenvoudig moet laat vaar, ter wille van jouself en jou huwelik.

Besef wat die gevolge sal wees as jy nie vergewe nie. Party deskundiges sê dat persone wat gegrief bly, groter gevaar loop om ’n groot verskeidenheid fisiese en emosionele probleme te ondervind, insluitende depressie en hoë bloeddruk—om nie eens te praat van die skade wat dit ’n huwelik aandoen nie. Die Bybel sê met goeie rede: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik.”—Efesiërs 4:32.

Besef watter voordele dit inhou as jy vergewe. Vergewensgesindheid stel jou en jou maat in staat om mekaar eerder die voordeel van die twyfel te gee as om “boek te hou” van onregte. En dít sal julle help om ’n omgewing te skep waarin gegriefdheid onder beheer gehou word en liefde toeneem.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:13.

Wees realisties. Dit is makliker om te vergewe as jy jou huweliksmaat aanvaar vir wie hy of sy is, met foute en al. “As jy tob oor wat jy nie gekry het nie, is dit alte maklik om heeltemal te vergeet van wat jy wel gekry het”, sê die boek Fighting for Your Marriage. “Waarop wil jy nóú konsentreer?” Onthou dat niemand volmaak is nie—ook nie jy nie.—Bybelbeginsel: Jakobus 3:2.

Wees redelik. Wanneer jou maat weer iets sê of doen wat jou aanstoot gee, moet jy jou afvra: ‘Is dit werklik so erg? Is dit nodig om aan te dring op ’n verskoning, of kan ek dit net oorsien en daarvan vergeet?’—Bybelbeginsel: 1 Petrus 4:8.

Bespreek die saak, indien nodig. Verduidelik op ’n kalm manier wat jou aanstoot gegee het en waarom dit jou so laat voel het. Moenie slegte beweegredes aan jou maat toeskryf of dogmatiese stellings maak nie, want dit sal jou maat net verdedigend laat optree. Verduidelik eerder net hoe jou maat se optrede jou geraak het.