Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Armoede

Armoede

Ondanks opregte pogings om die probleem op te los, lewe miljoene mense regoor die wêreld nog steeds in armoede.

Hoe kan die armes gelukkig wees?

WAT MENSE SÊ

Baie mense glo dat geluk en bevrediging van rykdom afhang en dat ware sukses grootliks gemeet kan word aan hoeveel geld iemand het. Diegene wat in armoede vasgevang is, het dikwels min of geen toegang tot ’n basiese skoolopleiding, goeie mediese sorg en ander voordele nie. En daarom word daar nie verwag dat hulle ’n gelukkige en bevredigende lewe kan lei nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel leer dat ware geluk nie van ’n mens se ekonomiese situasie afhang nie, maar van sy geestelike gesondheid en verhouding met die Skepper. Dit sê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Ongeag hulle finansiële status word diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, beweeg om God se denke oor sake te verkry en kan hulle dus Bybelwaarhede leer wat ware vertroosting en gemoedsrus meebring. Dit lei tot ware geluk.

Diegene wat Bybelraad verstaan en toepas, is beter toegerus om armoede te hanteer. Byvoorbeeld, Bybelraad help mense om skadelike gewoontes, soos die gebruik van tabak en die misbruik van alkohol, te vermy. Sulke gewoontes mors geld en kan daartoe lei dat iemand duur mediese behandeling nodig het.—Spreuke 20:1; 2 Korintiërs 7:1.

Die Bybel waarsku ook teen die skadelike gevolge van gierigheid en materialisme (Markus 4:19; Efesiërs 5:3). Hierdie raad kan verhoed dat ’n mens geld mors deur te dobbel of ’n “liefde vir geld” ontwikkel, wat die Bybel “’n wortel van allerhande skadelike dinge” noem (1 Timoteus 6:10). Die Bybel waarsku: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Eenvoudig gestel, geld kan nie lewe koop nie, ongeag hoeveel jy daarvan het. Maar as iemand in ooreenstemming met die Bybel se wyse raad optree, maak dit sy lewe betekenisvol en lei dit tot ware geluk.

Diegene wat in armoede lewe, vind dit dalk moeilik om kos, klere en behuising te bekostig, maar hulle kan groot geluk vind as hulle tevredenheid aankweek, probeer om hulle Skepper se hart te verbly en in ooreenstemming met sy wil lewe. Hulle erken dat die volgende Bybelbelofte waar is: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22.

SLEUTELTEKS: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”Matteus 5:3.

Sal armoede ooit tot ’n einde kom?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die mensdom se noodlenigingspogings het nie daarin geslaag om armoede uit te wis nie. Maar op sy bestemde tyd sal God aandag gee aan die kern van die probleem—die neiging van selfsugtige mense en regerings om net na hulle eie belange om te sien (Prediker 8:9). Ons Skepper sal menseregerings, wat deur selfsug aangedryf word, vervang. Sy Koninkryk, of hemelse regering, sal ryklik in die behoeftes van die aarde se inwoners voorsien, sonder om te diskrimineer. Die Bybel belowe dat die Koning van God se Koninkryk medelye sal hê en in die behoeftes van die armes sal voorsien. “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep . . . Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red.”—Psalm 72:12-14.

Die aarde sal ’n ware paradys wees met behuising en voedsel vir almal, sonder enige teken van armoede. In die Bybelboek Jesaja belowe God dat sy volk “huise [sal] bou en dit [sal] bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. . . . Die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut” (Jesaja 65:21, 22). Mense sal nie meer sukkel om die pot aan die kook te hou nie. Almal sal “’n feesmaal van olieryke geregte” en ander goeie dinge geniet wat deur Jehovah voorsien word.—Jesaja 25:6.

WAAROM MAAK DIT SAAK?

Wanneer mense wat onder onderdrukkende toestande lewe, nadink oor God se belofte van ’n wêreld sonder armoede, verseker dit hulle dat God vir hulle omgee en dat die einde van hulle probleme in sig is. As ’n mens hierdie hoop in gedagte hou, kan dit jou die krag gee om nou moeilike omstandighede te verduur.

SLEUTELTEKS: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, . . . Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red.”Psalm 72:12, 13.