Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

’n Gebalanseerde beskouing van geld

’n Gebalanseerde beskouing van geld

DAAR is ’n gesegde wat sê: “Geld regeer die wêreld.” Daar steek waarheid in hierdie gesegde. Dit kos immers geld om kos en klere te koop en huur te betaal of ’n huis te koop. “Geld speel ’n uiters belangrike rol in die samelewing”, skryf ’n finansiële redakteur. “As geld as ’n ruilmiddel verwyder word, sal ons binne ’n maand paniekbevange en in oorlog gewikkel wees.”

Geld het natuurlik beperkings. Die Noorse digter Arne Garborg het gesê dat geld “kos kan koop, maar nie eetlus nie; medisyne, maar nie gesondheid nie; sagte beddens, maar nie slaap nie; kennis, maar nie wysheid nie; glans, maar nie skoonheid nie; styl, maar nie hartlikheid nie; pret, maar nie vreugde nie; kennisse, maar nie vriende nie; knegte, maar nie getrouheid nie”.

Wanneer ’n mens ’n gebalanseerde beskouing van geld behou—en dit beskou as ’n middel tot ’n doel en nie die doel op sigself nie—is dit moontlik om groter tevredenheid te hê. Die Bybel waarsku: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, . . . het [party] hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:10.

Let op dat dit die liefde vir geld is—nie geld op sigself nie—wat skadelik is. Ja, ’n oordrewe begeerte na geld kan ’n wig tussen vriende en tussen familielede indryf. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Daniel: * “Ek het altyd gedink dat my vriend Thomas ’n aangename en eerlike persoon is. Ons het nooit enige probleme gehad totdat hy my tweedehandse motor gekoop het nie. Ek het nie geweet dat daar enigiets met die motor fout is nie. En hy het ingestem om die motor voetstoots te koop. Drie maande later het die motor gebreek. Thomas het gevoel dat ek hom ingeloop het en het woedend daarop aangedring dat ek sy geld teruggee. Ek was geskok! Toe ek met hom wou redeneer, het hy aggressief en vyandig geword. Toe geld ’n kwessie geword het, was hy nie meer die aangename Thomas wat ek geken het nie.”

Esin: “Nesrim is my enigste suster. Ons het altyd goed oor die weg gekom, en daarom het ek nooit gedink dat geld ons verhouding sou kon versuur nie. Maar dit is presies wat gebeur het. Toe my ouers gesterf het, het hulle vir ons ’n klein erfenis nagelaat en gesê dat die geld gelykop tussen ons verdeel moet word. My suster het my ouers se wense verontagsaam en meer as haar deel geëis. Omdat ek besluit het om my ouers se instruksies te volg, het sy in woede uitgebars en my gedreig. Sy koester tot vandag toe ’n wrok teen my.”

GELD EN VOOROORDEEL

’n Verwronge beskouing van geld kan veroorsaak dat ’n persoon ander veroordeel. Byvoorbeeld, iemand wat ryk is, neem dalk aan dat mense wat arm is, te lui is om hulle situasie te verbeter. Of iemand wat dit nie so breed het nie, kan maklik dink dat mense wat beter af is, materialisties of geldgierig is. Leanne, ’n tiener wat uit ’n gesin kom wat redelik welaf is, was ’n slagoffer van hierdie soort vooroordeel. Sy vertel:

Die Bybel se raad in verband met geld is vandag nog net so prakties as toe dit geskryf is

“Ek het bekend gestaan as die meisie wie se pa baie geld maak. Mense het dikwels dinge gesê soos: ‘As jy iets wil hê, hoef jy net jou pa te vra’ of ‘Jammer ons is nie almal ryk nie. Ons kan nie almal mooi motors bekostig soos julle gesin nie.’ Ek het my vriende uiteindelik gevra om op te hou om sulke dinge te sê en vir hulle verduidelik waarom hulle woorde my seermaak. Ek wou nie bekend staan as iemand wat geld het nie, maar as iemand wat goed doen aan ander.”

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel veroordeel nie geld en kritiseer nie mense wat dit het nie—al het hulle baie daarvan. Die punt is nie hoeveel iemand het nie, maar sy gesindheid teenoor wat hy het of wat hy wil hê. Die Bybel se raad in verband met geld is gebalanseerd, en dit is vandag net so prakties as toe dit geskryf is. Kyk na die volgende voorbeelde.

DIE BYBEL SÊ: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie.”—Spreuke 23:4, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Volgens die boek The Narcissism Epidemic is mense wat rykdom najaag, meer geneig om “emosionele probleme te hê; hulle het ook meer gesondheidsprobleme, soos ’n seer keel, rugpyn en hoofpyn en is meer geneig om alkohol te misbruik en dwelms te gebruik. Dit lyk asof dit mense baie ongelukkig maak wanneer hulle finansiële sukses najaag.”

DIE BYBEL SÊ: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge.”—Hebreërs 13:5.

Die feit dat iemand tevrede is met wat hy het, beteken nie dat hy nie finansiële bekommernisse sal hê nie; maar hy word nie deur angstigheid oorweldig nie. Byvoorbeeld, iemand wat tevrede is met wat hy het, sal nie oorreageer wanneer hy finansiële verlies ly nie. Hy sal eerder die gesindheid probeer hê van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.”—Filippense 4:12.

DIE BYBEL SÊ: “Wie op sy rykdom vertrou—hy sal val.”—Spreuke 11:28.

Navorsers sê dat geldelike probleme dikwels bydra tot huweliksprobleme wat tot egskeiding lei. Geldelike probleme lei ook soms tot selfmoord. Vir party mense is geld belangriker as hulle huweliksgelofte of selfs hulle lewe! Maar diegene met ’n gebalanseerde beskouing stel nie hulle vertroue in geld nie. Hulle erken eerder die wysheid van Jesus se woorde: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—Lukas 12:15.

WAT IS JOU BESKOUING VAN GELD?

’n Selfondersoek sal jou dalk laat besef dat jy ’n gebalanseerde beskouing van geld moet verkry. Vra jou byvoorbeeld die volgende vrae af.

  • Vind ek kitsrykwordskemas aanloklik?

  • Is dit vir my moeilik om vrygewig te wees?

  • Maak ek gewoonlik vriende met mense wat altyd praat oor geld en die dinge wat hulle besit?

  • Vertel ek leuens of maak ek my skuldig aan onetiese sakegebruike om geld te maak?

  • Laat geld my belangrik voel?

  • Dink ek heeltyd aan geld?

  • Het my gesindheid teenoor geld ’n negatiewe uitwerking op my gesondheid en my gesinslewe?

    Kweek vrygewigheid aan deur aan ander te gee

As jy ja op enige van hierdie vrae geantwoord het, moet jy ’n poging aanwend om materialistiese gedagtes en versoekings te verwerp. Vermy vriendskappe met mense vir wie geld en besittings te belangrik is. Probeer eerder assosieer met mense wat groter waarde aan hoë sedelike beginsels heg as aan besittings.

Moet nooit toelaat dat die liefde vir geld in jou hart wortelskiet nie. Hou geld eerder op sy plek—dit moet nooit belangriker wees as jou vriende, jou gesin of jou emosionele en fisiese gesondheid nie. Dan sal jy toon dat jy ’n gebalanseerde beskouing van geld het.

^ par. 7 Van die name in hierdie artikel is verander.