Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | CÉLINE GRANOLLERAS

’n Nierspesialis verduidelik waarom sy aan God glo

’n Nierspesialis verduidelik waarom sy aan God glo

Dr. Céline Granolleras is ’n dokter in Frankryk wat in niersiektes spesialiseer. Meer as 20 jaar nadat sy ’n dokter geword het, het sy tot die slotsom gekom dat daar ’n Skepper is wat vir ons omgee. Ontwaak! het met haar gesels oor haar werk en haar geloof.

Vertel ons van jou kinderjare.

Toe ek nege jaar oud was, het ons gesin van Spanje na Frankryk verhuis. My ouers was Katolieke, maar teen die tyd dat ek 16 was, het ek opgehou om aan God te glo. Vir my het godsdiens niks te doen gehad met die werklikheid nie. As iemand my gevra het hoe lewe ontstaan het as daar geen God is nie, het ek geantwoord: “Wetenskaplikes kan dit nie nou verduidelik nie, maar eendag sal hulle wel kan.”

Waarom het jy besluit om niersiektes te bestudeer?

Ek het aan ’n mediese fakulteit in Montpellier, Frankryk, gestudeer. ’n Professor daar het met my gepraat oor werk in nefrologie, ’n vertakking van die geneeskunde wat met die niere verband hou. Die werk het navorsing en die versorging van pasiënte ingesluit. Dit was presies wat ek wou hê. In 1990 het ek betrokke geraak by navorsing oor die kliniese gebruik van rekombinante eritropoiëtien (EPO) om die vervaardiging van rooibloedselle in ons beenmurg te beheer. Dit is destyds as ’n betreklik nuwe navorsingsgebied beskou.

Wat het jou aan God laat begin dink?

In 1979 het my man, Floréal, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Maar ek het nie belanggestel nie. As kind het ek oorgenoeg gehad van godsdiens. Maar my man en kinders het Getuies geword, en kort voor  lank was byna al ons vriende Getuies. Een van hulle, Patricia, het voorgestel dat ek probeer bid. “As daar niemand in die hemel is nie, sal jy niks verloor nie”, het sy gesê. “Maar as daar wel iemand is, sal jy sien wat gebeur.” Jare later het ek oor die sin van die lewe begin wonder, en ek het Patricia se woorde onthou. Ek het begin bid vir insig.

Wat het jou laat wonder oor die sin van die lewe?

Die terreuraanval op die World Trade Center in New York het my laat wonder waarom daar soveel boosheid in die samelewing is. Ek het gedink: ‘Godsdienstige ekstremisme stel ons toekoms in gevaar. Maar hier is ek, omring deur Jehovah se Getuies, wat vreedsaam is. Hulle is nie ekstremiste nie. Hulle volg die Bybel. Miskien moet ek ondersoek wat dit sê.’ Ek het dus self die Bybel begin lees.

Was dit vir jou as ’n dokter moeilik om aan ’n Skepper te glo?

Nee. Ek het diep respek gehad vir ons liggaam se merkwaardige ontwerp. Die manier waarop ons niere byvoorbeeld die hoeveelheid rooiselle in ons bloed beheer, is ontsagwekkend.

Waarom sê jy so?

Ek het besef dat net God so ’n vindingryke stelsel kon ontwerp

Soos jy moontlik weet, vervoer rooibloedselle suurstof. Jou liggaam sal ’n suurstoftekort ondervind as jy baie bloed verloor of as jy na ’n plek toe gaan wat hoog bo seespieël is. Ons niere het suurstofsensors. Wanneer die sensors ’n suurstoftekort in die bloed bespeur, sit hulle die vervaardiging van EPO aan die gang, en die hoeveelheid EPO in die bloed kan tot duisendvoudig toeneem. Die EPO stimuleer die beenmurg om nog rooiselle te vervaardig, wat dan meer suurstof vervoer. Dis wonderlik! Vreemd genoeg, ek het hierdie proses tien jaar lank bestudeer voordat ek besef het dat net God so ’n vindingryke stelsel kon ontwerp.

Wat was jou indruk van die Bybel?

Ek het al baie geskiedenisboeke en bekende romans gelees, maar ek het dadelik besef dat die Bybel anders is. Die raad daarin is so prakties dat dit beslis van ’n hoër bron as die mens moet kom. Jesus se karakter was vir my baie interessant. Ek het gesien dat hy ’n werklike persoon was. Hy het gevoelens gehad, en hy het vriende gehad. Aangesien ek nie die publikasies van Jehovah se Getuies wou gebruik nie, het ek navorsing in ensiklopedieë en ander naslaanwerke gedoen as ek oor iets gewonder het.

Waaroor het jy navorsing gedoen?

Ek het in geskiedenisboeke navorsing gedoen . . .  Ek het uiteindelik tot die slotsom gekom dat hierdie Bybelprofesie op tyd vervul is

Ek is onder andere gefassineer deur die manier waarop die Bybel die jaar van Jesus se doop voorspel het. Dit toon presies hoeveel tyd sou verloop tussen die 20ste regeringsjaar van die Persiese heerser Artasasta en die jaar waarin Jesus as die Messias sou verskyn. * Ek is gewoond daaraan om navorsing te doen—dit is deel van my werk. Daarom het ek in geskiedenisboeke navorsing gedoen om die jaartalle van Artasasta se heerskappy en die jaartalle van Jesus se bediening te bevestig. Ek het uiteindelik tot die slotsom gekom dat hierdie Bybelprofesie op tyd vervul is en dat dit beslis deur God geïnspireer is.

^ par. 19 Sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 197-199.