Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om stilstuipe te voorkom

Hoe om stilstuipe te voorkom

DIE UITDAGING

Hoe bereik twee mense wat belowe het om mekaar lief te hê, die punt waar hulle ure—of selfs dae—lank weier om met mekaar te praat? ‘Ons het darem ophou stry’, sê hulle vir hulleself. Maar die probleem is nie opgelos nie, en albei voel ongelukkig.

WAAROM DIT GEBEUR

Vergelding. Party huweliksmaats gebruik stilswye as ’n vorm van wraak. Gestel byvoorbeeld ’n man beplan iets vir die naweek sonder om dit eers met sy vrou te bespreek. Wanneer sy daarvan uitvind, is sy kwaad en sê sy dat hy onbedagsaam is. Hy sê dat sy liggeraak is. Die vrou storm weg en kook in stilte van woede. Sy sê as ’t ware: “Omdat jy my seergemaak het, gaan ek jou ook seermaak.”

Manipulasie. Party gebruik stilstuipe om hulle sin te kry. Gestel byvoorbeeld ’n man en vrou beplan ’n vakansie en die vrou wil graag haar ouers saamneem. Die man maak beswaar: “Jy’s met my getroud, nie met jou ouers nie.” Dan hou hy op om met sy vrou te praat en vermy hy haar in die hoop dat sy die stryd gewonne sal gee.

As ’n egpaar ’n ruk lank stilbly wanneer ’n rusie begin handuit ruk, kan dit hulle natuurlik die geleentheid gee om te kalmeer. Hierdie soort stilswye kan voordelig wees. Volgens die Bybel is daar “’n tyd om stil te bly” (Prediker 3:7). Maar wanneer stilswye vir vergelding of manipulasie gebruik word, verleng dit nie net die konflik nie, maar ondermyn dit ook die egpaar se respek vir mekaar. Hoe kan julle voorkom dat dit met julle gebeur?

WAT JY KAN DOEN

Die eerste stap om stilstuipe te voorkom, is om te besef wat dit werklik is—’n taktiek wat, op sy beste, net ’n korttermynoplossing is. As jy weier om te praat, bevredig dit miskien jou begeerte na vergelding of plaas dit druk op jou maat om te doen wat jy wil hê. Maar is dit werklik hoe jy iemand wil behandel wat jy belowe het om lief te hê? Daar is beter maniere om geskille op te los.

Gebruik onderskeidingsvermoë. Die Bybel sê: “Die liefde . . . raak nie ergerlik nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Moet dus nie oorreageer as jou maat weens woede of frustrasie iets sê soos “Jy is altyd laat” of “Jy luister nooit nie”. Onderskei eerder wat jou maat eintlik probeer sê. Byvoorbeeld, “Jy luister nooit nie”, beteken dalk eintlik “Dit voel vir my asof jy my beskouing nie in ag neem nie”.—Bybelbeginsel: Spreuke 14:29.

Beskou jou huweliksmaat as jou spanmaat, nie as jou teenstander nie

Praat sagter. ’n Rusie word gewoonlik al hoe hewiger. Maar jy kan verhoed dat die stryery vererger. Hoe? Die boek Fighting for Your Marriage sê: “Om sagter te praat en erkenning te gee aan jou maat se beskouing, kan baie help om spanning te ontlont en te keer dat die rusie hewiger word. Dit is dikwels al wat nodig is.”—Bybelbeginsel: Spreuke 26:20.

Dink in terme van “ons”, nie “ek” nie. Die Bybel sê: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). As jy jou huweliksmaat as jou spanmaat beskou, nie as jou teenstander nie, sal jy minder geneig wees om aanstoot te neem, te stry en dan te weier om met jou maat te praat.—Bybelbeginsel: Prediker 7:9.

Stilstuipe is in stryd met die Bybel se raad: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Dink jy nie dit sal goed wees as jy en jou maat saam besluit dat stilstuipe onaanvaarbaar is in julle huwelik nie?