Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is ’n regverdige ekonomiese stelsel moontlik?

Is ’n regverdige ekonomiese stelsel moontlik?

 In baie lande betoog mense in die strate omdat hulle voel dat ekonomiese toestande onregverdig is. Hierdie probleme het erger geword as gevolg van die COVID-19-pandemie. Dit het gemaak dat mense ontevrede is met hulle situasie omdat beperkings, tekorte en beperkte toegang tot gesondheidsorg duidelik gewys het dat daar ’n verskil tussen die rykes en die armes is.

 Sal die ekonomiese probleme wat soveel swaarkry veroorsaak, ooit tot ’n einde kom? Ja. Die Bybel beskryf wat God gaan doen om ons probleme op te los.

Ekonomiese probleme wat God sal oplos

 Probleem: Mense het nie ’n ekonomiese stelsel ontwikkel wat in alle mense se behoeftes voorsien nie.

 Oplossing: God gaan menseregerings vervang met sy eie regering. Dit word die Koninkryk van God genoem. Dit sal uit die hemel oor die hele aarde regeer. – Daniël 2:44; Matteus 6:10.

 Resultaat: Omdat God se Koninkryk oor die hele aarde sal regeer, sal dit die aarde se sake volmaak bestuur. Mense sal nooit weer arm wees of ekonomiese onsekerheid hê nie (Psalm 9:7-9, 18). Hulle sal eerder die werk van hulle hande geniet en ’n produktiewe, bevredigende lewe met hulle familie hê. Die Bybel belowe: “Hulle sal huise bou en daarin woon, en hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet. Hulle sal nie huise bou sodat ander daarin woon nie, en hulle sal nie plant sodat ander dit eet nie.” – Jesaja 65:21, 22.

 Probleem: Mense kan nie wegkom van die situasies wat veroorsaak dat hulle swaarkry en nie genoeg in die lewe het nie.

 Oplossing: Deur middel van God se Koninkryk sal hy alles wegneem wat veroorsaak dat mense bang en onseker voel.

 Resultaat: Onder God se sorg sal daar nie meer toestande wees wat veroorsaak dat mense en hulle familie nie genoeg het om aan die lewe te bly nie. Byvoorbeeld, oorloë, voedseltekorte en pandemies sal iets van die verlede wees (Psalm 46:9; 72:16; Jesaja 33:24). God sê: “My volk sal in ’n vreedsame plek woon, in veilige plekke waar daar kalmte en rus is.” – Jesaja 32:18.

 Probleem: Mense wat selfsugtig en gierig is, maak baie keer misbruik van ander.

 Oplossing: Mense onder God se Koninkryk sal leer om ander meer lief te hê as hulleself. – Matteus 22:37-39.

 Resultaat: Wanneer God se Koninkryk regeer, sal almal God se liefde, wat “nie sy eie belang [soek] nie”, weerspieël (1 Korintiërs 13:4, 5). Die Bybel sê: “Hulle sal niks slegs doen of enige skade aanrig op my hele heilige berg nie, want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah a soos die waters die seebodem bedek.” – Jesaja 11:9.

 Die Bybel verduidelik dat ons in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge lewe en dat God binnekort sy belofte sal nakom om ’n einde te maak aan alle ekonomiese probleme (Psalm 12:5). b Voordat dit gebeur, kan Bybelwaarhede jou help om die ekonomiese probleme wat jy nou het, te hanteer. Byvoorbeeld, sien die artikels “Hoe om met minder geld klaar te kom” en “’n Gebalanseerde beskouing van geld”.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.

b Om uit te vind hoekom jy die Bybel kan vertrou, sien die artikel “Die Bybel – ’n Betroubare boek van waarheid”.