Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Hoop vir die haweloses en die armes

Hoop vir die haweloses en die armes

Joe is ’n oorlogsveteraan in die Verenigde State. Hy was ongeveer 18 jaar lank haweloos weens persoonlike en familietragedies. Eendag het hy ’n plaaslike biblioteek begin besoek, waar hy soms met ’n bibliotekaresse gepraat het. Hierdie gesprekke het sy lewe verander.

Martín, ’n jong man in Argentinië, het geestelik leeg gevoel. Die lewe het vir hom sinloos gelyk. In sy soeke na die doel van die lewe het hy die huis verlaat; uiteindelik het hy op ’n strand gewoon. Maar in plaas daarvan om die antwoorde te vind waarna hy gesoek het, het hy baie depressief geword. Hy het God in trane gesmeek: “As u bestaan, help my asseblief om u te vind.” Wat was die gevolg? Ons sal sien.

MENSE beland om verskeie redes op die straat. Party, soos Joe, ervaar persoonlike tragedies. Ander, soos Martín, verwerp eenvoudig ’n “normale” lewe omdat hulle dit as ’n sinlose roetine beskou. Nog ander is haweloos weens armoede, natuurrampe, gesinsgeweld, dwelm- of alkoholmisbruik, geestesiektes, ’n gebrek aan bekostigbare verblyf of werkloosheid.

Haweloosheid, wat mense vroeër gemeen het net voorkom in ontwikkelende lande of in dié wat deur oorlog of ekonomiese depressie geteister word, het nou “in die meeste ontwikkelde lande ’n groot maatskaplike probleem geword”, sê sielkundeprofessor Paul Toro. * ’n Paar bydraende faktore is regeringsbeleide oor bystand aan gesinne met ’n lae inkomste en toenemende inkomste-ongelykheid.

Baie mense is bekommerd oor die toekoms. Maar party kon ’n positiewer uitkyk verkry deur te ondersoek wat die Bybel oor die toekoms sê—’n onderwerp wat ons ’n bietjie later sal bespreek. Die Bybel kan ons ook nou help deur ons betroubare beginsels vir die lewe te gee—beginsels wat ons finansiële sekuriteit sowel as ons emosionele gesondheid verbeter, soos Joe en Martín uitgevind het.

DIE BYBEL HET SY LEWE VERANDER

“Joe het na ’n intelligente, beleefde en nederige man gelyk”, het Cindi gesê, wat hom dikwels gesien het in die biblioteek waar sy gewerk het. Omdat sy een van Jehovah se Getuies is, het sy hom eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gegee en hom na ’n Christelike vergadering genooi. Daar is hy met liefde en respek behandel; gevolglik het hy vergaderinge gereeld begin bywoon. Hy het ook ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar, wat een van die mans in die gemeente vir hom aangebied het.

Joe se studie van die Bybel het hom gehelp om selfrespek te verkry

Joe het groot vertroosting geput uit wat hy geleer het, en hy het Bybelleringe begin toepas, hoewel dit beteken het dat hy groot veranderinge in sy lewe moes aanbring. Hy het byvoorbeeld geleer dat die lewe ’n gawe van God is, wat gerespekteer moet word, en dat dit die liggaam besoedel as ’n mens rook (Psalm 36:9). Daarom het hy opgehou rook, in ooreenstemming met die beginsel in 2 Korintiërs 7:1: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees . . . reinig.” Joe se besluit was natuurlik nie net voordelig vir sy gesondheid nie, maar het hom ook baie geld gespaar.

Joe het die Bybel se raad dat ons alles in ons vermoë moet doen om self in ons materiële behoeftes te voorsien, ter harte geneem en het dus begin werk soek (1 Tessalonisense 4:11, 12). * “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie [of, vreugde] laat sien weens sy harde werk”, sê Prediker 2:24. Hierdie vreugde is ook ’n gevolg van selfrespek, want eerlike werk verleen waardigheid aan ons. Dit stel ons ook in staat om die behoeftiges te help.—Efesiërs 4:28.

Toe die gemeente sien hoe opreg Joe is, het hulle “hom met ope arms ontvang”, het Cindi gesê, en “party het hom gehelp om aansoek te doen vir geskikte behuising en ander dinge waarvoor hy gekwalifiseer het”. Joe het aangehou om vooruitgang te maak en is later as een van Jehovah se Getuies gedoop. Nou kan hy uit eie ondervinding praat wanneer hy ander aanspoor om die wysheid van God te verkry, wat in die Bybel gevind kan word.—Spreuke 3:13, 14.

HY HET DIE DOEL VAN DIE LEWE GEVIND

Martín het op 20-jarige ouderdom na die doel van die lewe begin soek. “Ek het godsdienste en filosofieë ondersoek en dwelms gebruik in ’n poging om die leemte in my te vul, maar tevergeefs”, het hy gesê. Hy het ’n ruk lank in Kalifornië, VSA, gewoon en toe na Hawaii gegaan. “Ek het gedink dat ek die paradys gevind het”, het hy vertel. Maar die natuurskoon het ook nie die leemte gevul nie. “Ek het so depressief geword dat ek selfs daaraan gedink het om selfmoord te pleeg”, het hy gesê. Dit was op hierdie stadium dat hy onbedaarlik gehuil het en God gesmeek het: “As u bestaan, help my asseblief om u te vind.”

Martín het nou ’n positiewe uitkyk op die lewe

Martín het toe onthou dat hy vroeër ’n teken gesien het wat sê: “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.” Hy het besluit om ’n Christelike vergadering daar by te woon. “Ek het met lang hare en ’n baard ingestap, en ek het klere aangehad wat ek al maande gedra het”, het hy gesê. “Ek is nogtans hartlik verwelkom.” Martín het ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar en gereeld van sy “huis” op die strand na die stadsplein gestap om sy Bybelstudie daar te hê.

Martín het uiteindelik bevredigende antwoorde op sy vrae begin kry. Gevolglik het sy depressie verdwyn, en hy het die vreugde ondervind waarvan Jesus gepraat het toe hy gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

‘Mense was verbaas oor die veranderinge wat ek aangebring het’

Martín se nuwe uitkyk op die lewe het kort voor lank duidelik geword toe hy dieselfde Bybelbeginsels toegepas het wat Joe gehelp het om beheer oor sy lewe te verkry. Martín het meer aandag aan sy voorkoms geskenk, en met die hulp van die Getuies het hy ’n werk en ’n blyplek gekry. “Eers het die plaaslike mense my die hawelose man op die plein genoem”, het hy gesê, “maar later was hulle verbaas oor die veranderinge wat ek aangebring het.”

Later het Martín teruggekeer na Argentinië, waar hy as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Nou koester hy die voorreg om ander wat geestelik honger is, te help om die antwoorde op belangrike vrae in die lewe te vind.

WANNEER HAWELOOSHEID EN ARMOEDE NIE MEER DAAR SAL WEES NIE

Jeremia, ’n eertydse kneg van God, het gedurende ’n baie moeilike tyd gelewe. ’n Wrede vyand het sy tuisland binnegeval en baie van sy volksgenote in ballingskap en slawerny weggevoer (Klaagliedere 1:3). Hoewel Jeremia se lewe gespaar is, het hy feitlik al sy besittings verloor. Bedroef het hy gebid: “Dink aan my ellende en my daklose toestand.”—Klaagliedere 3:19.

Ondanks sy lyding het Jeremia nie in wanhoop verval nie. Waarom nie? Eerstens, hy het geweet dat Jehovah hom nie sal verlaat nie (Jeremia 1:8). Tweedens, hy was ’n student van die Skrif, wat ’n tyd voorspel wanneer armoede en lyding sal eindig en deur ware vrede en veiligheid vervang sal word.—Psalm 37:10, 11.

Hierdie toestande sal nie deur mensepogings tot stand gebring word nie, maar deur middel van ’n volmaakte regering wat God se Koninkryk genoem word (Daniël 7:13, 14). Die Koning van hierdie Koninkryk is niemand anders as Jesus Christus nie, wat groot medelye vir die armes gehad het toe hy ’n mens op die aarde was (Lukas 7:22; 14:13). Onder sy heerskappy “sal die regverdige bloei, [asook] die oorvloed van vrede . . . Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos”.—Psalm 72:7, 12, 14.

“Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon.”—Jesaja 65:21

Jesus het God se Koninkryk die middelpunt van sy leringe gemaak (Lukas 4:43). Hy het mense selfs leer bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Hoe sal die lewe op die aarde wees wanneer God se Koninkryk heeltemal in beheer is? Die Bybel gee ons ’n aanloklike voorskou. Dit sê byvoorbeeld van die onderdane van God se Koninkryk:

  • “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. . . . Die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”Jesaja 65:21, 22.

  • “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”Miga 4:4.

Hierdie vaste hoop kan ons gedurende ons beproewinge moed gee. Terselfdertyd kan Bybelbeginsels ons help om nou reeds ’n sinvolle en bevredigende lewe te lei, soos Joe, Martín en baie ander uitgevind het. Ja, ons Skepper, Jehovah God, verseker ons: “Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spreuke 1:33). Mag hierdie woorde ook op jou van toepassing wees!

^ par. 6 Konflik, geweld of vervolging het miljoene mense gedwing om hulle huis te verlaat en vlugtelinge in ’n ander land of selfs in hulle eie land te word. Hierdie probleem is in die Ontwaak! van 22 Januarie 2002 bespreek.

^ par. 11 Party mense wil werk, maar kan nie, dalk weens ’n gestremdheid, slegte gesondheid of die ouderdom. God keur mense net af as hulle “nie wil werk nie”.—2 Tessalonisense 3:10.