Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 9

Moet ek in evolusie glo?

Moet ek in evolusie glo?

WAAROM DIT SAAK MAAK

As evolusie waar is, het die lewe geen blywende doel nie. As die skepping waar is, kan ons bevredigende antwoorde vind op vrae oor die lewe en die toekoms.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou hierdie toneel voor: Alex is verward. Hy het nog altyd aan God en aan die skepping geglo. Maar vandag het sy biologie-onderwyser daarop aangedring dat evolusie ’n feit is en dat dit op geloofwaardige wetenskaplike navorsing gebaseer is. Alex wil nie dom lyk nie. Hy dink by homself: ‘As wetenskaplikes bewys het dat evolusie waar is, wie is ek dan om hulle te bevraagteken?’

Sou jy, as jy Alex was, evolusie aanvaar net omdat die handboeke sê dat dit ’n feit is?

STOP EN DINK!

Mense aan albei kante van die geskil sal dikwels gou sê wat hulle glo sonder om werklik te weet waarom hulle dit glo.

  • Party mense glo aan die skepping net omdat hulle dit in die kerk geleer is.

  • Baie mense glo aan evolusie net omdat hulle dit op skool geleer is.

SES VRAE OM OOR NA TE DINK

Die Bybel sê: “Elke huis word . . . deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Is dit redelik om te glo?

Om te sê dat die lewe nie ’n Skepper het nie, is so belaglik soos om te sê dat hierdie huis nie ’n bouer het nie

BEWERING: Alles in die heelal het as gevolg van ’n toevallige oerknal ontstaan.

1. Wie of wat het die oerknal veroorsaak?

2. Wat maak meer sin—dat alles uit niks ontstaan het of dat alles by iemand ontstaan het?

BEWERING: Mense het uit diere geëvolueer.

3. As mense uit diere geëvolueer het—byvoorbeeld uit ape—waarom is daar dan so ’n groot gaping tussen die intellektuele vermoëns van mense en ape?

4. Waarom is selfs die “eenvoudigste” vorme van lewe so ongelooflik kompleks?

BEWERING: Evolusie is as ’n feit bewys.

5. Het die persoon wat hierdie bewering maak, die bewyse self ondersoek?

6. Hoeveel mense glo aan evolusie net omdat daar vir hulle gesê is dat alle intelligente mense daaraan glo?

“Sou jy, as jy deur ’n woud loop en ’n pragtige huis sien, dink: ‘Hoe ongelooflik! Die bome moes op presies die regte manier omgeval het om hierdie huis te maak.’ Natuurlik nie! Dit is eenvoudig nie redelik om so te redeneer nie. Waarom moet ons dan glo dat alles in die heelal toevallig ontstaan het?”—Julia.

“Stel jou voor dat iemand vir jou sê dat daar ’n ontploffing in ’n drukkery was en dat die ink op die mure en plafon gespat het en die teks van ’n volledige woordeboek gevorm het. Sal jy dit glo?”—Gwen.

WAAROM MOET EK AAN GOD GLO?

Die Bybel spoor jou aan om jou “denkvermoë” te gebruik (Romeine 12:1). Dit beteken dat jou geloof in God op meer gebaseer moet wees as

  • EMOSIE (Ek voel net dat daar ’n hoër mag moet wees)

  • DIE INVLOED VAN ANDER (Ek is deel van ’n godsdienstige gemeenskap)

  • DRUK (My ouers het my grootgemaak om aan God te glo —ek het nie ’n keuse gehad nie)

Jy moet eerder goeie redes hê vir jou oortuigings.

“Wanneer ek in die klas is en luister hoe die onderwyser verduidelik hoe ons liggaam werk, twyfel ek glad nie dat God bestaan nie. Elke liggaamsdeel het sy eie funksie, wat tot in die fynste besonderhede vasgestel is, en hierdie funksies word dikwels verrig sonder dat ons daarvan bewus is. Die menseliggaam is werklik verstommend!”—Teresa.

“Wanneer ek ’n wolkekrabber, ’n toerskip of ’n motor sien, vra ek my af: ‘Wie het dit gebou?’ Slegs intelligente mense kan byvoorbeeld ’n motor bou, want soveel klein onderdele moet presies reg werk sodat die hele ding kan funksioneer. En as motors deur iemand ontwerp moet word, dan is dit ook met ons as mense die geval.”—Richard.

“Hoe meer ek die wetenskap bestudeer het, hoe ongeloofwaardiger het evolusie gelyk. . . . Volgens my verg dit meer ‘geloof’ om aan evolusie te glo as aan ’n Skepper.”—Anthony.

IETS OM OOR TE DINK

Ondanks dekades se navorsing moet wetenskaplikes nog ’n verduideliking vir evolusie vind waarmee hulle almal saamstem. As wetenskaplikes nie oor evolusie kan saamstem nie—en hulle is veronderstel om die deskundiges te wees—sal dit dan verkeerd wees as jy die teorie bevraagteken?