Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 1

Wie is ek?

Wie is ek?

WAAROM DIT SAAK MAAK

As jy weet wie jy is en wat jou waardes is, sal dit jou help om wyse besluite te neem wanneer jy onder druk is.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou hierdie toneel voor: Karen is skaars tien minute by ’n partytjie toe sy ’n bekende stem agter haar hoor.

“Hoekom staan jy net daar?”

Toe Karen omdraai, sien sy haar vriendin Jessica met twee oop bottels in die hand. Sy weet dat dit alkohol is. Jessica druk een onder Karen se neus en sê: “Jy’s tog nie te jonk om ’n bietjie pret te hê nie, is jy?”

Karen wil nee sê, maar Jessica is haar vriendin. En Karen wil nie hê dat haar vriendin moet dink dat sy ’n “nat vadoek” is nie. Jessica is boonop een van die goeie meisies. En as sy drink, wat is dan so erg daaromtrent? ‘Dis net ’n drankie’, sê Karen vir haarself. ‘Dis nie soos om dwelms te gebruik nie.’

Wat sou jy doen as jy in Karen se situasie was?

STOP EN DINK!

Om in hierdie soort situasie ’n wyse besluit te neem, het jy ’n identiteit nodig. ’n Identiteit is ’n innerlike bewustheid wat vir jou sê wie jy is en wat jou waardes is. Hierdie kennis gee jou die vermoë om jou lewe self te beheer eerder as om toe te laat dat ander dit beheer.—1 Korintiërs 9:26, 27.

Hoe kan jy sulke selfvertroue aankweek? Jy kan begin deur die volgende vrae te beantwoord.

1 WAT IS MY STERK PUNTE?

As jy weet watter vermoëns en goeie eienskappe jy het, sal dit jou selfvertroue ’n hupstoot gee.

BYBELVOORBEELD: Die apostel Paulus het geskryf: “Selfs al is ek onbedrewe in spraak, is ek beslis nie in kennis nie” (2 Korintiërs 11:6). Omdat Paulus die Skrif baie goed verstaan het, kon hy standvastig bly toe ander hom uitdaag. Hy het nie toegelaat dat hulle negatiewe gesindheid sy selfvertroue ondermyn nie.—2 Korintiërs 10:10; 11:5.

ONDERSOEK JOUSELF: Skryf ’n talent of vaardigheid neer wat jy het.

Beskryf nou ’n goeie eienskap wat jy het. (Byvoorbeeld, is jy liefdevol? vrygewig? betroubaar? stiptelik?)

2 WAT IS MY SWAK PUNTE?

’n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. Net so kan jou identiteit gou verswak as jy toelaat dat jou tekortkominge jou lewe beheer.

BYBELVOORBEELD: Paulus was bewus van sy swak punte. Hy het geskryf: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde.”—Romeine 7:22, 23.

ONDERSOEK JOUSELF: Watter swakheid moet jy leer om onder beheer te hou?

3 WAT IS MY DOELWITTE?

Sal jy in ’n taxi klim en vir die bestuurder sê om heeltyd om die blok te ry totdat sy brandstof op is? Dit sal baie dom wees—en baie geld kos!

Die les? Doelwitte gee jou rigting in die lewe en keer dat jy doelloos deur die lewe gaan. Jy weet waarheen jy op pad is en hoe om daar te kom.

BYBELVOORBEELD: Paulus het geskryf: “Die manier waarop ek hardloop, [is] nie onseker nie” (1 Korintiërs 9:26). Paulus het nie doelloos deur die lewe gegaan en net gewag dat dinge gebeur nie; hy het eerder doelwitte gestel en dan daarvolgens gelewe.—Filippense 3:12-14.

ONDERSOEK JOUSELF: Skryf drie doelwitte neer wat jy binne die volgende jaar wil bereik.

4 WAT IS MY OORTUIGINGS?

As jy ’n sterk identiteit het, is jy soos ’n sterkgewortelde boom wat kragtige storms kan weerstaan

Sonder oortuigings sal jy besluiteloos wees. Soos ’n verkleurmannetjie sal jy van kleur verander om by ander jongmense in te pas—’n besliste teken dat jy nie jou eie identiteit het nie.

Maar wanneer jy in ooreenstemming met jou oortuigings optree—ongeag wat ander doen—behou jy jou identiteit.

BYBELVOORBEELD: Toe die profeet Daniël waarskynlik nog ’n tiener was, het hy “in sy hart besluit” dat hy God se wette sou gehoorsaam, al was hy ver van sy familie af (Daniël 1:8). Sodoende het hy getrou gebly aan homself. Daniël het in ooreenstemming met sy oortuigings gelewe.

ONDERSOEK JOUSELF: Wat is jou oortuigings? Byvoorbeeld: Glo jy aan God? Indien wel, waarom? Wat oortuig jou dat hy bestaan?

Glo jy dat God se sedelike standaarde tot jou voordeel is? Indien wel, waarom?

Ten slotte, wat sal jy verkies—om soos ’n blaar te wees wat deur elke ligte windjie rondgewaai word of soos ’n boom wat selfs kragtige storms weerstaan? Versterk jou identiteit, en jy sal soos daardie boom wees. En dit sal jou help om die vraag Wie is ek? te beantwoord.