’n Openbaring aan Johannes 5:1-14

  • ’n Boekrol met sewe seëls (1-5)

  • Die Lam neem die boekrol (6-8)

  • Die Lam waardig om die seëls oop te maak (9-14)

5  En in die regterhand van die Een wat op die troon sit,+ het ek ’n boekrol gesien waarop daar aan albei kante* geskryf is, en dit was goed verseël met sewe seëls.  En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en sy seëls te breek?”  Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boekrol oopmaak of dit lees nie.  Ek het baie gehuil omdat niemand waardig was om die boekrol oop te maak of dit te lees nie.  Maar een van die ouderlinge het vir my gesê: “Hou op huil. Kyk! Die Leeu uit die stam van Juda,+ die wortel+ van Dawid,+ het oorwin,+ en hy kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.”  En ek het in die middel van die troon en van die vier lewende wesens en in die middel van die ouderlinge+ ’n lam+ sien staan wat gelyk het asof hy geslag is,+ met sewe horings en sewe oë, en die oë beteken die sewe geeste van God+ wat oor die hele aarde uitgestuur is.  Hy het onmiddellik vorentoe gekom en dit uit die regterhand geneem van die Een wat op die troon sit.+  Toe hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge+ voor die Lam neergeval, en elkeen van hulle het ’n harp en goue bakke vol reukwerk gehad. (Die reukwerk beteken die gebede van die heiliges.)+  En hulle sing ’n nuwe lied+ en sê: “U is waardig om die boekrol te neem en sy seëls oop te maak, want u is geslag, en met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie+ vir God gekoop,+ 10  en u het hulle ’n koninkryk+ en priesters vir ons God gemaak,+ en hulle sal as konings oor die aarde regeer.”+ 11  En ek het gesien, en ek het ’n stem van baie engele rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge gehoor, en hulle getal was tienduisende maal tienduisende en duisende maal duisende.+ 12  Hulle het met ’n harde stem gesê: “Die Lam wat geslag is,+ is waardig om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid te ontvang en om geloof te word.”+ 13  En ek het elke wese in die hemel en op die aarde en onder die aarde+ en op die see, en alles wat in hulle is, hoor sê: “Mag die Een wat op die troon sit+ en die Lam+ geloof word, en mag hulle vir ewig en altyd die eer+ en die heerlikheid en die mag ontvang.”+ 14  Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” en die ouderlinge het neergeval en aanbid.

Voetnote

Lett. “aan die binnekant en aan die agterkant”.