Spring na inhoud

Wie is Jehovah?

Wie is Jehovah?

Die Bybel se antwoord

 Jehovah is die ware God van die Bybel, die Skepper van alle dinge (Openbaring 4:11). Die profete Abraham en Moses het hom aanbid, en Jesus ook (Genesis 24:27; Eksodus 15:1, 2; Johannes 20:17). Hy is die God, nie net van een volk nie, maar van “die hele aarde”.—Psalm 47:2.

 Jehovah is God se unieke naam soos dit in die Bybel geopenbaar word (Eksodus 3:15; Psalm 83:18). Dit kom van ’n Hebreeuse werkwoord wat beteken “om te word”, en ’n aantal geleerdes meen dat die naam beteken “Hy laat word”. Hierdie definisie pas goed by Jehovah se rol as die Skepper en Vervuller van sy voorneme (Jesaja 55:10, 11). Die Bybel help ons ook om die Persoon agter die naam Jehovah te ken, veral sy vernaamste eienskap liefde.—Eksodus 34:5-7; Lukas 6:35; 1 Johannes 4:8.

 Die naam Jehovah is ’n Engelse vertaling van die Hebreeuse naam vir God—die vier letters יהוה (YHWH) is bekend as die Tetragrammaton. Die presiese uitspraak van die goddelike naam in Ou Hebreeus is nie bekend nie. Maar die vorm “Jehovah” het ’n lang geskiedenis in die Engelse taal en het die eerste keer verskyn in William Tyndale se Bybelvertaling van 1530. a

Waarom is die uitspraak van God se naam in Ou Hebreeus nie bekend nie?

 Ou Hebreeus is sonder vokale geskryf en het slegs konsonante gehad. Dit was maklik vir ’n Hebreeussprekende leser om self die gepaste vokale te voorsien. Maar nadat die Hebreeuse Geskrifte (“Ou Testament”) voltooi is, het party Jode weens bygelowigheid begin glo dat dit verkeerd is om God se persoonlike naam uit te spreek. Wanneer hulle ’n teks wat God se naam bevat, hardop gelees het, het hulle dit vervang met woorde soos “Here” of “God”. Met verloop van die eeue het hierdie bygelowigheid versprei, en die oorspronklike uitspraak het mettertyd verlore gegaan. b

 Party meen dat die goddelike naam as “Jahweh” uitgespreek is, terwyl ander mense ander moontlikhede gee. ’n Dooie See-rol wat ’n deel van Levitikus in Grieks bevat, translitereer die naam as Iao. Eertydse Griekse skrywers meen ook dat dit as Iae, I·a·beʹ en I·a·ou·eʹ uitgespreek is, maar daar is nie bewyse dat dit die uitspraak in Ou Hebreeus is nie. c

Wanopvattings oor God se naam in die Bybel

 Wanopvatting: Vertalings wat die naam “Jehovah” gebruik, het hierdie naam bygevoeg.

 Feit: Die Hebreeuse woord vir God se naam in die vorm van die Tetragrammaton kom sowat 7 000 keer in die Bybel voor. d Die meeste vertalings verwyder God se naam eiemagtig en vervang dit met ’n titel soos “Here”.

 Wanopvatting: God die Almagtige het nie ’n unieke naam nodig nie.

 Feit: God het Bybelskrywers geïnspireer om sy naam duisende kere te gebruik en hy beveel sy aanbidders om sy naam te gebruik (Jesaja 42:8; Joël 2:32; Maleagi 3:16; Romeine 10:13). Trouens, God het valse profete veroordeel wat daarop uit was om die volk sy naam te laat vergeet.—Jeremia 23:27.

 Wanopvatting: Volgens Joodse tradisie moet God se naam uit die Bybel verwyder word.

 Feit: Dit is so dat party Joodse skrifgeleerdes geweier het om die goddelike naam uit te spreek. Maar hulle het dit nie uit hulle Bybels verwyder nie. Hoe dit ook al sy, God wil nie hê dat ons mensetradisies moet volg wat van sy wette afwyk nie.—Matteus 15:1-3.

 Wanopvatting: Die goddelike naam moenie in die Bybel gebruik word nie omdat die presiese Hebreeuse uitspraak onbekend is.

 Feit: Hierdie redenasie voer aan dat God verwag dat mense wat verskillende tale praat, sy naam presies dieselfde moet uitspreek. Maar die Bybel toon dat God se aanbidders wat verskillende tale in die verlede gepraat het, eiename verskillend uitgespreek het.

 Dink byvoorbeeld aan die Israelitiese rigter Josua. Eerste-eeuse Christene wat Hebreeus gepraat het, sou sy naam Jehoo·sjoeʹa uitgespreek het en die Griekssprekendes sou I·e·sousʹ gesê het. Die Bybel bevat die Griekse vertaling van Josua se Hebreeuse naam, wat toon dat eerste-eeuse Christene die verstandige weg gevolg het deur die vorm van die eiename te gebruik wat algemeen in hulle taal was.—Handelinge 7:45; Hebreërs 4:8.

Dieselfde beginsel kan toegepas word op die vertaling van die goddelike naam. Om God se naam sy regmatige plek in die Bybel te gee, is baie belangriker as die presiese uitspraak daarvan.

a Tyndale het die vorm “Iehouah” in sy vertaling van die eerste vyf boeke van die Bybel gebruik. Die Engelse taal het mettertyd verander, en die spelling van die goddelike naam is gemoderniseer. Byvoorbeeld, in 1612 het Henry Ainsworth die vorm “Iehovah” deurgaans in sy vertaling van die boek Psalms gebruik. Toe hy hierdie vertaling in 1639 hersien het, het hy die vorm “Jehovah” gebruik. In 1901 het die vertalers van die American Standard Version die vorm “Jehovah” gebruik waar die goddelike naam in die Hebreeuse teks verskyn het.

b Die New Catholic Encyclopedia, Tweede uitgawe, Deel 14, bladsy 883-884, sê: “Die een of ander tyd ná die ballingskap is daar begin om die naam Jahweh met spesiale eerbied te bejeën, en die gebruik het ontstaan om die woord ADONAI of ELOHIM in die plek daarvan te gebruik.”

c Vir meer inligting sien aanhangsel A4, “God se naam in die Hebreeuse Geskrifte,” in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel.

d Sien die Theological Lexicon of the Old Testament, Deel 2, bladsy 523-524.