Spring na inhoud

Is alle godsdienste dieselfde? Lei hulle almal na God?

Is alle godsdienste dieselfde? Lei hulle almal na God?

Die Bybel se antwoord

 Nee, alle godsdienste is nie dieselfde nie. Die Bybel bevat baie voorbeelde van godsdienste wat God mishaag. Hulle val in twee basiese kategorieë.

Kategorie 1: Aanbidding van valse gode

 Die Bybel beskryf die aanbidding van valse gode met terme soos “’n asemstoot”, “nietigheid” en “dinge wat glad nie voordelig” is nie (Jeremia 10:3-5; 16:19, 20). Jehovah a God het die eertydse nasie Israel beveel: “Jy mag geen ander gode teen my aangesig hê nie” (Eksodus 20:3, 23; 23:24). Toe die Israeliete ander gode aanbid het, het “die toorn van Jehovah ... ontvlam”.—Numeri 25:3; Levitikus 20:2; Rigters 2:13, 14.

 God se beskouing van die aanbidding van “sogenaamde gode” het nie verander nie (1 Korintiërs 8:5, 6, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling; Galasiërs 4:8). Hy beveel diegene wat hom wil aanbid, om op te hou assosieer met diegene wat valse godsdiens beoefen. Hy sê: “Gaan ... onder hulle uit en sonder julle af” (2 Korintiërs 6:14-17). Waarom sou God so ’n bevel gee as alle godsdienste dieselfde is en mense na God lei?

Kategorie 2: Aanbidding van die ware God op ’n manier wat hy nie goedkeur nie

 Soms het die Israeliete God aanbid met oortuigings en gebruike wat hulle oorsprong by die aanbidding van valse gode gehad het, maar vir Jehovah was hierdie poging om ware godsdiens met valse godsdiens te vermeng, onaanvaarbaar (Eksodus 32:8; Deuteronomium 12:2-4). Jesus het die godsdiensleiers van sy dag veroordeel weens die manier waarop hulle God aanbid het; hulle het voorgegee dat hulle godsdienstig is, maar hulle was huigelaars, want hulle het “die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid”.—Matteus 23:23.

 Net so lei slegs godsdiens wat op waarheid gegrond is, mense in ons dag na God. Hierdie waarheid word in die Bybel gevind (Johannes 4:24; 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Godsdienste met leringe wat in stryd is met die Bybel, lei mense in werklikheid van God weg. Baie leringe wat mense dink op die Bybel gegrond is—insluitende die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en ewige foltering—het hulle oorsprong by aanbidders van valse gode. Aanbidding wat sulke leringe bevorder, is “tevergeefs”, of nutteloos, want dit vervang God se vereistes met godsdienstradisies.—Markus 7:7, 8.

 God verag godsdienshuigelary (Titus 1:16). Om mense te help om nader aan God te kom, moet ’n godsdiens hulle alledaagse lewe beïnvloed en nie net uit rituele of formaliteite bestaan nie. Die Bybel sê byvoorbeeld: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs. Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar” (Jakobus 1:26, 27). Die King James Version gebruik die uitdrukking “rein aanbidding” vir hierdie suiwer, opregte aanbidding.

a Jehovah is die naam van die ware God soos geopenbaar in die Bybel.