Spring na inhoud

Wat was die eerste sonde?

Wat was die eerste sonde?

Die Bybel se antwoord

 Adam en Eva was die eerste mense wat gesondig het. Hulle was ongehoorsaam aan God deur van “die boom van die kennis van wat goed en wat sleg is” te eet. Baie mense noem dit die eerste sonde a (Genesis 2:16, 17; 3:6; Romeine 5:19). Adam en Eva was nie toegelaat om van hierdie boom te eet nie. Die rede was omdat dit God se gesag, of sy reg om te besluit tussen wat reg en verkeerd is vir die mens, verteenwoordig het. Toe Adam en Eva van die boom geëet het, het hulle sake in hulle eie hande geneem deur self te besluit wat reg en verkeerd is. Op hierdie manier het hulle God se gesag verwerp.

 Hoe het die “eerste sonde” Adam en Eva geraak?

 Omdat Adam en Eva gesondig het, het hulle oud geword en uiteindelik gesterf. Hulle het hulle vriendskap met God en hulle vooruitsig op ewige lewe met volmaakte gesondheid verloor. – Genesis 3:19.

 Hoe raak die “eerste sonde” ons?

 Adam en Eva het hulle sondige toestand aan hulle nakomelinge oorgedra. Dit is soortgelyk aan menseouers wat hulle genetiese swakhede aan hulle kinders oordra (Romeine 5:12). Daarom is alle mense “in sonde” b gebore, wat beteken dat ons onvolmaak gebore word en dat dit maklik vir ons is om verkeerde dinge te doen. – Psalm 51:5, voetnoot in NW; Efesiërs 2:3.

 As gevolg van oorgeërfde sonde, of onvolmaaktheid, word ons siek, oud en sterf ons (Romeine 6:23). Ons dra die gevolge van ons eie foute en dié van ander. – Prediker 8:9; Jakobus 3:2.

 Kan ons vry wees van die gevolge van die “eerste sonde”?

 Ja. Die Bybel sê dat Jesus gesterf het “as ’n versoeningsoffer vir ons sondes” (1 Johannes 4:10). Jesus se offerande kan ons vry maak van die gevolge van oorgeërfde sonde. Dit gee ons ook die geleentheid om te kry wat Adam en Eva verloor het – die vooruitsig op ewige lewe met volmaakte gesondheid. – Johannes 3:16. c

 Verkeerde idees oor die “eerste sonde”

 Verkeerde idee: As gevolg van die eerste sonde kan ons nooit ’n goeie verhouding met God hê nie.

 Feit: God blameer ons nie vir wat Adam en Eva gedoen het nie. Hy verstaan dat ons onvolmaak is, en hy verwag nie meer van ons as wat ons kan doen nie (Psalm 103:14). Al kry ons swaar as gevolg van oorgeërfde sonde, het ons die geleentheid en voorreg om ’n goeie vriendskap met God te hê. – Spreuke 3:32.

 Verkeerde idee: As jy gedoop word, maak dit jou vry van oorgeërfde sonde, en daarom moet babas gedoop word.

 Feit: Al is doop ’n belangrike stap vir redding, kan net Jesus se offerande ons van ons sondes reinig (1 Petrus 3:21; 1 Johannes 1:7). Omdat jy kennis nodig het om ware geloof te hê, is dit nie moontlik vir babas om geloof te hê nie. Daarom keer die Bybel nie kinderdoop goed nie. Dit kon duidelik gesien word onder die vroeë Christene. Hulle het nie babas gedoop nie maar gelowiges ­– “mans en vrouens” wat geloof in God se Woord gehad het. – Handelinge 2:41; 8:12.

 Verkeerde idee: God het vroue vervloek omdat Eva eerste van die verbode vrug geëet het.

 Feit: God het nie vroue vervloek nie, maar eerder “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” wat Eva oorreed het om te sondig (Openbaring 12:9; Genesis 3:14). En God het Adam hoofsaaklik verantwoordelik gehou vir die eerste sonde, nie sy vrou nie. – Romeine 5:12.

 Hoekom het God gesê dat Adam sy vrou sou oorheers? (Genesis 3:16). Toe God dit gesê het, het hy nie sulke gedrag goedgekeur nie. Hy het net voorspel dat sonde ’n slegte uitwerking op die verhouding tussen mans en vrouens sou hê. God verwag dat ’n man sy vrou moet eer en liefhê en diep respek vir alle vroue moet hê. – Efesiërs 5:25; 1 Petrus 3:7.

 Verkeerde idee: Die eerste sonde was seks.

 Feit: Die eerste sonde kon nie seks gewees het nie vir die volgende redes:

  •   God het Adam beveel om nie van die boom van kennis van wat goed en wat sleg is, te eet nie toe Adam nog alleen was, sonder ’n vrou. – Genesis 2:17, 18.

  •   God het Adam en Eva beveel: “Wees vrugbaar en word baie.” Dit het beteken dat hulle kinders moes hê (Genesis 1:28). Dit sou wreed van God gewees het om die eerste mensepaar te straf vir iets wat hy hulle beveel het om te doen.

  •   Adam en Eva het apart gesondig – eers Eva en toe haar man. – Genesis 3:6.

  •   Die Bybel keur seks goed tussen ’n man en vrou wat getroud is met mekaar. – Spreuke 5:18, 19; 1 Korintiërs 7:3.

a Die uitdrukking “eerste sonde” is nie in die Bybel nie. Eintlik is die heel eerste sonde wat in die Bybel opgeteken is, Satan se bedrieglike woorde aan Eva en toe hy opsetlik vir haar gelieg het. – Genesis 3:4, 5; Johannes 8:44.

b In die Bybel verwys die woord “sonde” nie net na verkeerde dade nie, maar ook na die onvolmaakte, of die sondige, toestand wat ons oorgeërf het.

c Om meer te leer oor Jesus se offerande en hoe dit ons kan help, sien die artikel “Jesus red – Hoe?”.