Spring na inhoud

Sal God my vergewe?

Sal God my vergewe?

Die Bybel se antwoord

 Ja, God sal jou sondes vergewe as jy die regte stappe doen. Die Bybel sê dat God “vergewensgesind” is en dat hy “ryklik vergewe” (Nehemia 9:​17; Psalm 86:5; Jesaja 55:7). Wanneer hy ons vergewe, vergewe hy ons heeltemal. Ons sondes word “uitgewis”, of uitgevee (Handelinge 3:​19). God se vergifnis is ook permanent, want hy sê: “Aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jeremia 31:34). Wanneer hy ons vergewe, haal hy nie weer ons sondes op om ons oor en oor te beskuldig of te straf nie.

 Maar die feit dat God vergewe, beteken nie dat hy swak of sentimenteel is nie. Sy regverdige standaarde verander nooit nie. Daarom weier hy om sekere sondes te vergewe.​—Josua 24:19, 20.

Stappe om God se vergifnis te verkry

  1.   Erken dat jou sonde ’n skending van God se standaarde was. Hoewel ander moontlik seergemaak is deur wat jy gedoen het, moet jy heel eerste besef dat jou sonde ’n oortreding teen God was.​—Psalm 51:​1, 4; Handelinge 24:16.

  2.   Bely jou sondes in gebed aan God.​—Psalm 32:5; 1 Johannes 1:9.

  3.   Wees diep bedroef oor jou sonde. “Om op ’n goddelike wyse bedroef te wees”, lei tot berou, of ’n verandering in hartstoestand (2 Korintiërs 7:​10). Dit sluit in dat jy spyt is oor die verkeerde optrede wat tot die sonde gelei het.​—Matteus 5:​27, 28.

  4.   Bring veranderinge aan in jou handelswyse, dit wil sê “draai om” (Handelinge 3:​19). Dit kan beteken dat jy ’n sekere oortreding of verkeerde gewoonte moet vermy of dit kan beteken dat jy jou denkwyse en optrede heeltemal moet verander.​—Efesiërs 4:​23, 24.

  5.   Doen stappe om die oortreding reg te stel of om die skade te herstel wat aangerig is (Matteus 5:​23, 24; 2 Korintiërs 7:​11). Jy moet diegene wat benadeel is deur wat jy gedoen of nie gedoen het nie, om verskoning vra en die situasie sover moontlik regstel.​—Lukas 19:​7-​10.

  6.   Bid tot God en vra hom om vergifnis op grond van Jesus se losprys (Efesiërs 1:7). As jy wil hê dat jou gebed beantwoord moet word, moet jy diegene vergewe wat teen jou gesondig het.​—Matteus 6:​14, 15.

  7.   As jou sonde ernstig is, moet jy met iemand praat wat bekwaam is om die geestelike hulp te verleen wat jy nodig het en wat vir jou kan bid.​—Jakobus 5:​14-​16.

Wanopvattings oor hoe om God se vergifnis te verkry

 “Ek het te veel gesondig om vergewe te word.”

God het Dawid vir egbreuk en moord vergewe

 Solank ons die stappe volg wat God in die Bybel uiteengesit het, sal ons vergewe word, aangesien sy vermoë om te vergewe groter is as ons sondes. Hy kan ernstige sondes vergewe sowel as dié wat oor en oor gepleeg is.​—Jesaja 1:​18.

 Byvoorbeeld, koning Dawid van Israel is vir egbreuk en moord vergewe (2 Samuel 12:​7-​13). Die apostel Paulus, wat gedink het dat hy die wêreld se grootste sondaar was, is ook vergewe (1 Timoteus 1:​15, 16). Selfs die eerste-eeuse Jode wat deur God vir die moord op Jesus, die Messias, verantwoordelik gehou is, is vergewe as hulle berou getoon het.​—Handelinge 3:​15, 19.

 “As ek my sondes teenoor ’n priester of predikant bely, word my sondes vergewe.”

 Geen mens het nou die gesag om ’n medemens te vergewe vir sondes teen God nie. Al kan dit ’n sondaar help om te herstel as hy sy sondes teenoor iemand anders bely, is dit net God wat sondes kan vergewe.​—Efesiërs 4:​32; 1 Johannes 1:​7, 9.

 Aangesien dit die geval is, wat het Jesus dan bedoel toe hy vir die apostels gesê het: “As julle mense se sondes vergewe, sal dit vir hulle vergewe wees; as julle mense se sondes behou, bly dit behoue”? (Johannes 20:23). Hy het die unieke gesag beskryf wat hy aan die apostels gegee het toe hulle die heilige gees ontvang het.​—Johannes 20:22.

 Soos beloof is, het die apostels hierdie gawe ontvang toe die heilige gees in 33 HJ uitgestort is (Handelinge 2:​1-4). Die apostel Petrus het hierdie gesag gebruik toe hy die dissipels Ananias en Saffira veroordeel het. Petrus het op wonderbaarlike wyse van hulle bedrieglike plan geweet, en sy oordeel het getoon dat hulle sonde nie vergewe sou word nie.​—Handelinge 5:​1-​11.

 Daardie wonderbaarlike gawe van die heilige gees het ná die apostels se dood tot ’n einde gekom, net soos die gawes om te genees en in tale te praat (1 Korintiërs 13:​8-​10). Daarom kan geen mens vandag ’n ander persoon se sonde vergewe nie.