Spring na inhoud

Wat is sonde?

Wat is sonde?

Die Bybel se antwoord

 Sonde is enige daad, gevoel of gedagte wat nie met God se standaarde ooreenstem nie. Dit sluit ongehoorsaamheid aan God se gebooie in deur te doen wat verkeerd, of onregverdig, is in God se oë (1 Johannes 3:4; 5:17). Die Bybel sê ook dat ’n versuim om te doen wat reg is, sonde is.—Jakobus 4:17.

 In die Bybel se oorspronklike tale beteken die woorde vir sonde “om ’n teiken te mis”. ’n Groep soldate in eertydse Israel kon klippe byvoorbeeld so goed slinger dat hulle “nie gemis” het nie. Hierdie uitdrukking kan letterlik vertaal word as “nie gesondig” het nie (Rigters 20:16). Om te sondig, beteken dus dat ons nie aan God se volmaakte standaarde voldoen nie, asof ons ’n teiken mis.

 As die Skepper het God die reg om standaarde vir die mensdom vas te stel (Openbaring 4:11). Ons is teenoor hom aanspreeklik vir ons dade.—Romeine 14:12.

Is dit moontlik om glad nie te sondig nie?

 Nee. Die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23; 1 Konings 8:46; Prediker 7:20; 1 Johannes 1:8). Waarom is dit so?

 Die eerste mense, Adam en Eva, het aanvanklik nie sonde gehad nie. Dit is omdat hulle volmaak geskep is, volgens God se beeld (Genesis 1:27). Maar hulle het hulle volmaaktheid verloor deur aan God ongehoorsaam te wees (Genesis 3:5, 6, 17-19). Toe hulle kinders gehad het, het hulle kinders sonde en onvolmaaktheid by hulle geërf (Romeine 5:12). Dit is soos koning Dawid van Israel gesê het: “In ongeregtigheid is ek . . . voortgebring.”Psalm 51:5.

Is party sondes erger as ander?

 Ja. Die Bybel beskryf die manne van eertydse Sodom byvoorbeeld as “sleg” en as “growwe sondaars” wie se sonde “baie swaar” was (Genesis 13:13; 18:20). Kyk na drie faktore wat bepaal hoe erg ’n sonde is.

  1.   Erns. Die Bybel waarsku ons teen ernstige sondes soos seksuele onsedelikheid, afgodediens, diefstal, dronkenskap, afpersing, moord en spiritisme (1 Korintiërs 6:9-11; Openbaring 21:8). Die Bybel stel dit teenoor sondes wat iemand nie doelbewus begaan nie, soos woorde of dade wat ander seermaak (Spreuke 12:18; Efesiërs 4:31, 32). Die Bybel spoor ons nogtans aan om geen sonde ligtelik op te neem nie, aangesien sulke sondes tot ernstiger oortredings van God se wette kan lei.—Matteus 5:27, 28.

  2.   Beweegrede. Party mense sondig omdat hulle nie weet wat God van hulle vereis nie (Handelinge 17:30; 1 Timoteus 1:13). Hoewel die Bybel dit nie verskoon nie, tref dit ’n onderskeid tussen hierdie sondes en sondes wat doelbewuste ongehoorsaamheid aan God se wette behels (Numeri 15:30, 31). Doelbewuste sondes kom uit ’n “slegte hart”.—Jeremia 16:12.

  3.   Aantal kere gepleeg. Die Bybel tref ook ’n onderskeid tussen ’n enkele sonde en die beoefening van sonde oor ’n lang tydperk (1 Johannes 3:4-8). Diegene wat “moedswillig sonde beoefen”, selfs nadat hulle geleer het om te doen wat reg is, word streng deur God veroordeel.—Hebreërs 10:26, 27.

 Diegene wat hulle skuldig gemaak het aan ernstige sonde, word moontlik deur skuldgevoelens oorweldig. Koning Dawid het byvoorbeeld geskryf: “My eie oortredings het oor my hoof gegaan; soos ’n swaar vrag is hulle vir my te swaar” (Psalm 38:4). Maar die Bybel bied hierdie hoop: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes; en laat hom tot Jehovah terugkeer, wat hom barmhartig sal wees, en tot ons God, want hy sal ryklik vergewe.”—Jesaja 55:7.