Volgens Johannes 8:12-59

  • Die Vader getuig oor Jesus (12-30)

    • Jesus, “die lig van die wêreld” (12)

  • Kinders van Abraham (31-41)

    • “Die waarheid sal julle vrymaak” (32)

  • Kinders van die Duiwel (42-47)

  • Jesus en Abraham (48-59)

8  12  Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig van die wêreld.+ Enigiemand wat my volg, sal nie in die duisternis loop nie, maar sal die lig van die lewe besit.”+ 13  Die Fariseërs het dus vir hom gesê: “Jy getuig oor jouself. Jou getuienis is nie waar nie.” 14  Jesus het vir hulle gesê: “Selfs al getuig ek oor myself, is my getuienis waar, omdat ek weet waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan.+ Maar julle weet nie waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan nie. 15  Julle oordeel volgens die standaarde van mense.*+ Ek oordeel niemand nie. 16  En selfs al oordeel ek, is my oordeel betroubaar, omdat ek nie alleen is nie, maar die Vader wat my gestuur het, is met my.+ 17  Daar is ook in julle eie Wet geskryf: ‘Die getuienis van twee mense is waar.’+ 18  Ek is een wat oor myself getuig, en die Vader wat my gestuur het, getuig oor my.”+ 19  Toe het hulle vir hom gevra: “Waar is jou Vader?” Jesus het geantwoord: “Julle ken my nie, en ook nie my Vader nie.+ As julle my geken het, sou julle my Vader ook geken het.”+ 20  Hierdie woorde het hy in die skatkisgedeelte+ gesê terwyl hy mense in die tempel geleer het. Maar niemand het hom gevange geneem nie, want sy uur het nog nie gekom nie.+ 21  Toe het hy weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal my soek, en tog sal julle in julle sonde sterf.+ Waarheen ek gaan, kan julle nie kom nie.”+ 22  Die Jode het toe begin sê: “Hy sal homself tog nie doodmaak nie, of hoe? Want hy sê: ‘Waarheen ek gaan, kan julle nie kom nie.’” 23  Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier onder. Ek is van daar bo.+ Julle is van hierdie wêreld. Ek is nie van hierdie wêreld nie. 24  Daarom het ek vir julle gesê: Julle sal in julle sondes sterf. Want as julle nie glo dat ek die een is nie, sal julle in julle sondes sterf.” 25  Daarom het hulle vir hom begin vra: “Wie is jy?” Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom praat ek nog met julle? 26  Ek het baie dinge om oor julle te sê en baie sake waaroor ek ’n oordeel moet uitspreek. Om die waarheid te sê, die Een wat my gestuur het, is betroubaar, en ek maak die dinge wat ek by hom gehoor het, in die wêreld bekend.”+ 27  Hulle het nie verstaan dat hy met hulle oor die Vader praat nie. 28  Toe het Jesus gesê: “Nadat julle die Seun van die mens opgelig het,*+ dan sal julle weet dat dit ek is,+ en dat ek niks uit my eie doen nie,+ maar ek sê hierdie dinge net soos die Vader my geleer het. 29  En die Een wat my gestuur het, is met my. Hy het my nie aan myself oorgelaat nie, want ek doen altyd die dinge wat sy hart bly maak.”+ 30  Terwyl hy hierdie dinge gesê het, het baie mense geloof in hom gestel. 31  Toe het Jesus vir die Jode wat hom geglo het, gesê: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle werklik my dissipels, 32  en julle sal die waarheid ken,+ en die waarheid sal julle vrymaak.”+ 33  Hulle het hom geantwoord: “Ons is Abraham se nageslag en ons was nog nooit enigiemand se slawe nie. Hoe is dit dat jy sê: ‘Julle sal vry word’?” 34  Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle: Elkeen wat sondig, is ’n slaaf van die sonde.+ 35  Wat meer is, die slaaf bly nie vir ewig in die huis nie, maar die seun bly vir ewig. 36  As die Seun julle dan vrymaak, sal julle werklik vry wees. 37  Ek weet dat julle Abraham se nageslag is, maar julle probeer my doodmaak omdat julle nie aanvaar wat ek sê nie. 38  Ek praat oor die dinge wat ek gesien het terwyl ek by my Vader was,+ maar julle doen die dinge wat julle by julle vader gehoor het.” 39  Hulle het vir hom gesê: “Ons vader is Abraham.” Jesus het vir hulle gesê: “As julle Abraham se kinders was,+ sou julle die werke doen wat Abraham gedoen het. 40  Maar nou probeer julle my doodmaak, ’n man wat vir julle die waarheid vertel het wat ek by God gehoor het.+ Abraham het dit nie gedoen nie. 41  Julle doen die werke van julle vader.” Hulle het vir hom gesê: “Ons is nie uit onsedelikheid* gebore nie. Ons het een Vader, God.” 42  Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle my liefhê,+ want ek het van God af gekom, en ek is hier. Ek het nie uit my eie gekom nie, maar Hy het my gestuur.+ 43  Hoekom verstaan julle nie wat ek sê nie? Omdat julle nie na my woorde kan luister nie. 44  Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen.+ Hy was ’n moordenaar van die begin af,*+ en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, want daar is nie waarheid in hom nie. Wanneer hy ’n leuen vertel, praat hy in ooreenstemming met sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.+ 45  Maar omdat ek julle die waarheid vertel, glo julle my nie. 46  Wie van julle kan bewys dat ek gesondig het? As ek die waarheid praat, hoekom glo julle my dan nie? 47  Die een wat aan God behoort, luister na die woorde van God.+ Daarom luister julle nie, omdat julle nie aan God behoort nie.”+ 48  Die Jode het vir hom gevra: “Is ons nie reg wanneer ons sê dat jy ’n Samaritaan is+ en ’n demoon het nie?”+ 49  Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n demoon nie, maar ek eer my Vader, en julle beledig my. 50  Ek probeer egter nie om myself te eer nie.+ Daar is Een wat wil hê dat ek geëer moet word en wat oordeel. 51  Ek verseker julle: As iemand my woorde gehoorsaam, sal hy die dood nooit sien nie.”+ 52  Die Jode het vir hom gesê: “Nou weet ons dat jy ’n demoon het. Abraham het gesterf, en die profete ook, maar jy sê: ‘As iemand my woorde gehoorsaam, sal hy die dood nooit ondervind* nie.’ 53  Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat gesterf het nie, of hoe? Die profete het ook gesterf. Wie dink jy is jy?” 54  Jesus het geantwoord: “As ek myself eer, beteken my eer niks nie. Dit is my Vader wat my eer,+ die een wat julle sê julle God is. 55  Tog het julle hom nie geken nie,+ maar ek ken hom.+ En as ek gesê het dat ek hom nie ken nie, sou ek soos julle wees, ’n leuenaar. Maar ek ken hom wel en is gehoorsaam aan sy woorde. 56  Abraham, julle vader, het uitgesien na die dag wanneer ek sou kom, en hy het dit gesien en was baie bly.”+ 57  Toe het die Jode vir hom gesê: “Jy is nog nie 50 jaar oud nie, en tog het jy Abraham gesien?” 58  Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle: Voordat Abraham bestaan het, het ek al bestaan.”+ 59  Toe het hulle klippe opgetel om hom daarmee te gooi, maar Jesus het weggekruip en uit die tempel uitgegaan.

Voetnote

Lett. “volgens die vlees”.
D.w.s. aan ’n paal gehang het.
Of “seksuele onsedelikheid”. Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “toe hy begin het”.
Lett. “proe”.