Spring na inhoud

“Glo in Jesus” – Is geloof in Jesus genoeg vir redding?

“Glo in Jesus” – Is geloof in Jesus genoeg vir redding?

Die Bybel se antwoord

 Christene glo dat Jesus vir die sondes van die mensdom gesterf het (1 Petrus 3:18). Maar om gered te word, vereis meer as om net in Jesus as die Redder te glo. Die demone weet dat Jesus “die Seun van God” is, maar hulle sal vernietig word, nie gered word nie. – Lukas 4:41; Judas 6.

 Wat moet ek doen om gered te word?

  •   Jy moet glo dat Jesus sy lewe opgeoffer het vir ons sondes (Handelinge 16:30, 31; 1 Johannes 2:2). Dit sluit in dat ons glo dat Jesus ’n regte persoon was en dat alles wat die Bybel oor hom sê, akkuraat is.

  •   Vind uit wat die Bybel regtig leer (2 Timoteus 3:15). Die Bybel sê dat die apostel Paulus en Silas vir ’n tronkbewaarder gesê het: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.” Toe het hulle vir die tronkbewaarder “die woord van Jehovah” a geleer (Handelinge 16:31, 32). Dit wys dat die tronkbewaarder nie regtig in Jesus kon glo tensy hy nie die basiese dinge in God se Woord verstaan het nie. Hy het akkurate kennis nodig gehad wat op die Bybel gebaseer is. – 1 Timoteus 2:3, 4.

  •   Toon berou (Handelinge 3:19). Jy moet ook berou toon, of regtig jammer voel, oor verkeerde dinge wat jy gedink of gedoen het in die verlede. Dit sal vir ander duidelik wees dat jy regtig jammer is as jy ophou om dinge te doen waarvan God nie hou nie en deur “werke te doen wat by berou pas”. – Handelinge 26:20.

  •   Word gedoop (Matteus 28:19). Jesus het gesê dat mense wat sy dissipels word, gedoop sou word. Die tronkbewaarder wat vroeër genoem is, is gedoop (Handelinge 16:33). Net so, nadat die apostel Petrus ’n groot groep mense die waarheid oor Jesus geleer het, is “dié wat sy woorde met blydskap aanvaar het”, gedoop. – Handelinge 2:40, 41.

  •   Wees gehoorsaam aan Jesus se instruksies (Hebreërs 5:9). Mense wat ‘alles gehoorsaam’ wat Jesus hulle beveel het, wys deur hoe hulle lewe dat hulle sy volgelinge is (Matteus 28:20). Hulle is mense wat nie “net hoor wat die woord sê nie, maar [ook] doen . . . wat dit sê”. – Jakobus 1:22.

  •   Volhard tot die einde toe (Markus 13:13). Jesus se dissipels het “volharding nodig” om gered te word (Hebreërs 10:36). Byvoorbeeld, die apostel Paulus was baie gehoorsaam aan alles wat Jesus hom geleer het, en hy was altyd lojaal aan God. Hy het dit gedoen vandat hy ’n Christen geword het totdat hy gesterf het. – 1 Korintiërs 9:27.

 Wat van die “Gebed van ’n Sondaar”?

 In party godsdienste sê mense sekere gebede op soos die “Gebed van ’n Sondaar” en die “Reddingsgebed”. Gewoonlik wanneer mense bid, erken hulle dat hulle sondig is en sê hulle dat hulle glo dat Jesus vir hulle sondes gesterf het. Hulle vra ook dat Jesus in hulle hart of lewe moet kom. Maar die Bybel sê nie en beveel ook nie aan dat ons ’n gebed opsê wat vooraf uitgewerk is soos die “Gebed van ’n Sondaar” nie.

 Party mense dink dat nadat hulle die woorde van die “Gebed van ’n Sondaar” opgesê het, hulle seker kan wees dat hulle gered sal word. Maar niemand sal gered word net omdat hulle ’n gebed opsê nie. As onvolmaakte mense hou ons aan om foute te maak (1 Johannes 1:8). Dit is hoekom Jesus sy volgelinge geleer het om gereeld te bid dat hulle sondes vergewe moet word (Lukas 11:2, 4). En party Christene wat vir ewig kon gelewe het, het daardie vooruitsig verloor omdat hulle opgehou het om God te dien. – Hebreërs 6:4-6; 2 Petrus 2:20, 21.

 Waar het die “Gebed van ’n Sondaar” begin?

 Geskiedkundiges stem nie saam oor waar die “Gebed van ’n Sondaar” begin het nie. Party dink dat die tradisie gedurende die Protestantse Hervorming begin ontwikkel het. Ander glo dat mense die “Gebed van ’n Sondaar” begin opsê het toe nuwe godsdienste gevorm is gedurende die 1700’s en die 1800’s. In elk geval, die gebruik word nie deur die Bybel ondersteun nie, en dit bots eintlik met wat die Bybel leer.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah.