Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Openbaring 21:1 – “’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde”

Openbaring 21:1 – “’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde”

 “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die vorige hemel en die vorige aarde was nie meer daar nie, en die see was ook nie meer daar nie.” – Openbaring 21:1, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.” – Openbaring 21:1, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Openbaring 21:1

 Hierdie vers gebruik figuurlike taal om te wys dat God se hemelse Koninkryk alle menseregerings sal vervang. Die Koninkryk sal goddelose mense verwyder en oor ’n nuwe gemeenskap van mense regeer wat bereid is om hulle aan die Koninkryk se gesag te onderwerp.

 Die boek Openbaring gebruik “tekens”, of simbole (Openbaring 1:1). So dit is redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die hemel en die aarde wat in hierdie vers genoem word, nie letterlik is nie, maar simbolies. En die figuurlike “nuwe hemele” en “nuwe aarde” word ook in ander Bybelverse genoem (Jesaja 65:17; 66:22; 2 Petrus 3:13). Om hierdie en ander Skriftuurlike verslae te ondersoek, help ons om hulle betekenis te verstaan.

 “’n Nuwe hemel.” Die Bybel gebruik partykeer die woord “hemel” om na heerskappy of regerings te verwys (Jesaja 14:12-14; Daniël 4:25, 26). Daarom sê een naslaanwerk dat in profetiese visioene “verteenwoordig hemel in ’n simboliese sin die heersende mag of regering”. a In Openbaring 21:1 verwys “nuwe hemel” na God se Koninkryk. Hierdie hemelse regering, wat soms “die Koninkryk van die hemel” genoem word, word regdeur Openbaring en in ander boeke van die Bybel genoem (Matteus 4:17; Handelinge 19:8; 2 Timoteus 4:18; Openbaring 1:9; 5:10; 11:15; 12:10). God se Koninkryk, met Jesus as Koning, sal uiteindelik “die vorige hemel” vervang, dit wil sê al die onvolmaakte regerings wat mense opgerig het. – Daniël 2:44; Lukas 1:31-33; Openbaring 19:11-18.

 “’n Nuwe aarde.” Die Bybel sê dat die letterlike aarde nooit vernietig of vervang sal word nie (Psalm 104:5; Prediker 1:4). Wat is die simboliese aarde dan? Die Bybel gebruik dikwels die woord “aarde” om na die mensdom te verwys (Genesis 11:1; 1 Kronieke 16:31; Psalm 66:4; 96:1). Daarom moet “’n nuwe aarde” na ’n nuwe gemeenskap van mense verwys wat bereid is om hulle aan God se hemelse regering te onderwerp. Die “vorige aarde”, of gemeenskap van mense wat God se Koninkryk teëstaan, sal nie meer daar wees nie.

 “Die see was ook nie meer daar nie.” In ooreenstemming met die res van Openbaring 21:1 is “die see” ook simbolies. Die see raak maklik onstuimig en dikwels stormagtig. Daarom verteenwoordig dit die opstandige mensdom wat van God vervreemd is (Jesaja 17:12, 13; 57:20; Openbaring 17:1, 15). Hulle sal ook nie meer daar wees nie. Psalm 37:10 sê: “Nog net ’n klein rukkie en die goddeloses sal nie meer bestaan nie. Jy sal kyk na die plek waar hulle was, en hulle sal nie daar wees nie.”

Konteks van Openbaring 21:1

 Die boek Openbaring voorspel wat gedurende “die dag van die Here” sal gebeur (Openbaring 1:10). Volgens Bybelprofesieë het daardie dag in 1914 begin toe Jesus as Koning van God se Koninkryk begin regeer het. b Maar hy sou nie dadelik volle beheer oor die aarde hê nie. Om die waarheid te sê, ander profesieë sê dat wêreldtoestande baie slegter sou word gedurende die eerste deel van “die dag van die Here”. Hierdie tydperk word “die laaste dae” genoem (2 Timoteus 3:1-5, 13; Matteus 24:3, 7; Openbaring 6:1-8; 12:12). Wanneer hierdie swaar en moeilike tye tot ’n einde kom, sal God se Koninkryk die ou simboliese hemel en aarde verwyder en ’n nuwe tyd van vrede en eenheid laat begin. Mense waaroor die Koninkryk sal regeer – die “nuwe aarde” – sal dan perfekte toestande en volmaakte gesondheid geniet. – Openbaring 21:3, 4.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Openbaring te kry.

a McClintock en Strong se Cyclopedia (1891), Deel IV, bladsy 122.