Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Jeremia 29:11 – “Ek weet wat ek vir julle beplan”

Jeremia 29:11 – “Ek weet wat ek vir julle beplan”

“‘Ek weet goed wat ek vir julle in gedagte het,’ sê Jehovah. a ‘Ek wil julle vrede gee, nie rampspoed nie. Ek wil julle ’n toekoms en ’n hoop gee.’” Jeremia 29:11, Nuwe Wêreld-vertaling.

“‘Ek weet wat ek vir julle beplan,’ sê die Here: ‘voorspoed en nie teenspoed nie; ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!’” Jeremia 29:11, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Jeremia 29:11

Jehovah God het vir sy aanbidders belowe dat hy vir hulle ’n toekoms van vrede sal gee. Al is hierdie woorde in die verlede geskryf, beskryf hierdie woorde nog steeds hoe God vandag voel. Hy is “die God wat hoop gee” (Romeine 15:13). Eintlik het hy sulke beloftes in die Bybel laat opteken sodat ons “hoop kan hê” vir ’n beter toekoms. Romeine 15:4.

Konteks van Jeremia 29:11

Hierdie woorde was deel van ’n brief wat aan die Israeliete gestuur is, wat gevange geneem is in Jerusalem en na Babilon gestuur is (Jeremia 29:1). b God het vir hulle gesê dat hulle nog vir ’n lang tydperk gevange sou wees en dat hulle huise moes bou, tuine moes plant en gesinne moes hê (Jeremia 29:4-9). Maar God het bygevoeg: “Wanneer 70 jaar in Babilon vervul is, sal ek aan julle aandag skenk, en ek sal my belofte nakom deur julle na [Jerusalem] terug te bring” (Jeremia 29:10). So God het hulle verseker dat hy nie van hulle sal vergeet nie en dat hulle hoop om terug te gaan huis toe, waar sal word. Jeremia 31:16, 17.

God het sy belofte aan die Israeliete nagekom. Soos hy voorspel het, is Babilon deur die Persiese koning Kores oorwin (Jesaja 45:1, 2; Jeremia 51:30-32). Daarna het Kores die Jode toegelaat om na hulle tuisland terug te keer. Ná 70 jaar in gevangenskap was hulle terug in Jerusalem. 2 Kronieke 36:20-23; Esra 3:1.

Die feit dat God sy belofte in Jeremia 29:11 nagekom het, versterk die vertroue van almal wat vandag in God se beloftes glo. Hierdie beloftes sluit wêreldwye vrede in deur middel van die Koninkryk van God onder die beheer van Christus Jesus. – Psalm 37:10, 11, 29; Jesaja 55:11; Matteus 6:10.

Verkeerde idees oor Jeremia 29:11

Verkeerde idee: God het ’n spesifieke “plan” vir elke individu.

Feit: God laat mense toe om self te kies wat hulle met hulle lewe wil doen. Sy woorde in Jeremia 29:11 was vir die Israeliete in Babilon as ’n groep bedoel, en hy het ’n toekoms van vrede vir daardie groep in gedagte gehad (Jeremia 29:4). Maar God het elke persoon toegelaat om te besluit of hy deel van God se belofte wil wees of nie (Deuteronomium 30:19, 20; Jeremia 29:32). Dié wat gekies het om God te soek, het dit gedoen deur opreg uit die hart tot hom te bid. – Jeremia 29:12, 13.

Verkeerde idee: God maak seker dat sy aanbidders voorspoedig is wanneer dit kom by materiële rykdom.

Feit: Die woord “voorspoed” wat in party Bybels in Jeremia 29:11 gevind word, is ’n vertaling van ’n Hebreeuse woord wat “vrede, gesondheid en welstand” beteken. Volgens die konteks het God nie belowe om die Israeliete wat in gevangenskap was, rykdom te gee nie, maar vrede en ’n goeie lewe. Die nasie sou aanhou bestaan en sou eendag terugkeer na Jerusalem. – Jeremia 29:4-10.

Lees Jeremia hoofstuk 29 saam met verduidelikende voetnote en kruisverwysings.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. Psalm 83:18.

b The Expositor’s Bible Commentary sê die volgende oor Jeremia 29:11: “Daar is seker nie ’n mooier belofte in die Bybel wat Jahweh [Jehovah] se tere meegevoel teenoor hierdie gevangenes beskryf nie. Hierdie belofte gee hulle uiteindelik ’n goeie rede om positief te wees en om hoop te hê.” Deel 7, bladsy 360.