Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan ons God werklik vind?

Kan ons God werklik vind?

“God is onverstaanbaar.” —Filo van Aleksandrië, ’n eerste-eeuse filosoof.

“[God is] nie ver van elkeen van ons af . . . nie.” —Saulus van Tarsus, toe hy eerste-eeuse filosowe in Atene toegespreek het.

WATTER een van hierdie twee opmerkings beskryf jou beskouing? Die woorde van Saulus van Tarsus, wat ook die apostel Paulus genoem word, vind by baie mense byval en vertroos hulle (Handelinge 17:26, 27). En die Bybel bevat ander versekerings soos hierdie. Een van Jesus se gebede bevat byvoorbeeld ’n opregte versekering dat sy volgelinge God kan leer ken en Sy seën kan ontvang.—Johannes 17:3.

Maar filosowe soos Filo het ’n ander beskouing gehad. Deur te sê dat God heeltemal onverstaanbaar is, het hulle geïmpliseer dat ons hom nooit kan leer ken nie. Wat is die waarheid?

Die Bybel erken openlik dat daar dinge omtrent God is wat vir mense moeilik is om te verstaan. Hoe lank die Skepper bestaan, hoe briljant hy is en die diepte van sy wysheid is byvoorbeeld dinge wat nie gemeet of volkome begryp kan word nie. Dit gaan die menslike verstand eenvoudig te bowe. Maar hierdie aspekte van God verhinder ons nie om hom te leer ken nie. Om oor hierdie dinge te peins, kan ons eerder help om “nader aan God” te kom (Jakobus 4:8). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van sulke onverstaanbare dinge. Dan sal ons kyk na aspekte van God wat ons kan verstaan.

Watter aspekte van God is onverstaanbaar?

DIE FEIT DAT GOD VIR EWIG BESTAAN: Die Bybel leer dat God “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd” bestaan (Psalm 90:2). Met ander woorde, God het nie ’n begin gehad nie en sal ook nie ’n einde hê nie. Vanuit ’n menslike oogpunt is “die getal van sy jare . . . onnaspeurlik”.—Job 36:26.

Hoe jy baat vind: God belowe dat jy vir ewig kan lewe as jy hom werklik leer ken (Johannes 17:3). Hoe betroubaar sou so ’n belofte gewees het as God self nie vir ewig gelewe het nie? Net “die Koning van die ewigheid” kan so ’n belofte nakom.—1 Timoteus 1:17.

GOD SE VERSTAND: Die Bybel leer dat daar “geen deurgronding van [God se] verstand” is nie, dit wil sê, ons sal nooit sy denke volkome begryp nie, want sy gedagtes is soveel hoër as ons s’n (Jesaja 40:28; 55:9). Die Bybel vra dus gepas die retoriese vraag: “Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?”—1 Korintiërs 2:16.

Hoe jy baat vind: God kan terselfdertyd na miljoene gebede luister (Psalm 65:2). Hy sien selfs elke mossie wat op die grond val. Sal God se verstand ooit oorlaai word sodat hy jou nie kan raaksien en na jou gebede kan luister nie? Nee, want sy verstand het geen perke nie. Wat meer is, vir hom “is [jy] meer werd as baie mossies”.—Matteus 10:29, 31.

GOD SE WEË: Die Bybel leer dat die mens “nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie” (Prediker 3:11). Daarom sal ons nooit alles omtrent God weet nie. Die wysheid agter God se weë is “onnaspeurlik” (Romeine 11:33). Maar God is bereid om sy weë te openbaar aan diegene wat sy goedkeuring wil hê.—Amos 3:7.

Hoe lank die Skepper bestaan, hoe briljant hy is en die diepte van sy wysheid is dinge wat nie gemeet of volkome begryp kan word nie

Hoe jy baat vind: As jy die Bybel lees en bestudeer, sal jy nooit ophou om nuwe dinge omtrent God en sy weë te leer nie. Dit beteken dat ons tot in alle ewigheid al hoe nader aan ons hemelse Vader kan kom.

Wat jy kan weet

Net omdat daar aspekte van God is wat ons nie ten volle kan verstaan nie, beteken dit nie dat ons hom glad nie kan leer ken nie. Die Bybel bevat baie inligting wat ons help om God beter te leer ken. Kyk na ’n paar voorbeelde:

GOD SE NAAM: Die Bybel leer dat God homself ’n naam gegee het. Hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam.” God se naam verskyn sowat 7 000 keer in die Bybel, meer as enige ander naam.—Jesaja 42:8.

Hoe jy baat vind: Jesus het in sy modelgebed gesê: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Kan jy ook God se naam in jou gebede gebruik? Jehovah is bereid om almal te red wat die gepaste respek vir sy naam toon.—Romeine 10:13.

GOD SE WOONPLEK: Die Bybel toon dat daar twee “ryke” is—’n geesteryk waar geesskepsele met geesliggame woon en ’n fisiese ryk wat uit die aarde en die heelal bestaan (Johannes 8:23; 1 Korintiërs 15:44). In die Bybel verwys die woord “hemel” dikwels na die geesteryk. Die Skepper se “woonplek” is in hierdie “hemel”.—1 Konings 8:43.

Hoe jy baat vind: Jy kry ’n duideliker beeld van God. Die Skepper is nie ’n onbekende krag wat oral en in alles is nie. Jehovah is ’n werklike Persoon wat op ’n werklike plek woon. En tog “is [daar] nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie”.—Hebreërs 4:13.

GOD SE PERSOONLIKHEID: Die Bybel wys dat Jehovah eienskappe het wat ons tot hom aantrek. “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Hy lieg nooit nie (Titus 1:2). Hy is onpartydig, barmhartig, medelydend en word nie gou toornig nie (Eksodus 34:6; Handelinge 10:34). Iets wat baie mense dalk sal verbaas, is dat die Skepper “intimiteit”, oftewel ’n hegte vriendskap, wil geniet met diegene wat hom respekteer.—Psalm 25:14.

Hoe jy baat vind: Jy kan Jehovah se vriend wees (Jakobus 2:23). En wanneer jy Jehovah se persoonlikheid leer ken, sal jy Bybelverslae beter kan verstaan.

‘SOEK NA HOM’

Die Bybel gee ons ’n duidelike beeld van wie Jehovah God is. Hy is allesbehalwe onverstaanbaar. Trouens, die Skepper wil hê dat jy hom moet leer ken. Sy Woord, die Bybel, belowe: “As jy hom soek, sal hy hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Jy kan God leer ken deur Bybelverslae te lees en daaroor na te dink. As jy dit doen, belowe die Bybel dat God ‘nader aan jou sal kom’.—Jakobus 4:8.

As jy die Bybel lees en bestudeer, sal jy nooit ophou om nuwe dinge omtrent God en sy weë te leer nie

Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek ooit die Skepper se vriend wees, aangesien ek nie alles omtrent hom kan verstaan nie?’ Dink hieraan: Moet ’n snydokter se beste vriend ’n mediese graad hê? Glad nie! Die snydokter se vriend het dalk ’n ander loopbaan. Tog is dit vir hulle moontlik om ’n hegte vriendskap te hê. Wat werklik saak maak, is dat die vriend die snydokter se persoonlikheid ken en weet waarvan hy hou en nie hou nie. Net so kan jy uit die Bybel leer watter soort persoon Jehovah is—presies wat jy nodig het om ’n vriendskap met hom te smee.

Die Bybel gee nie ’n vae beskrywing van die Skepper nie. Dit bevat eerder die soort inligting wat ons nodig het om God te leer ken. Wil jy graag meer omtrent Jehovah God leer? Jehovah se Getuies bied ’n gratis tuisbybelstudieprogram aan. Ons nooi jou om die Getuies in jou gebied te kontak of te gaan na www.pr418.com/af.