Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

PRAKTIESE WYSHEID UIT DIE OU TYD

Vergewe vryelik

Vergewe vryelik

BYBELBEGINSEL: “Hou aan om mekaar . . . vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:13.

Wat beteken dit? In die Bybel word sonde met skuld vergelyk, en vergifnis met skuld wat afgeskryf word (Lukas 11:4). ’n Naslaanwerk sê dat die Griekse woord wat in die Skrif met “vergewe” vertaal word, beteken “om iemand sy skuld kwyt te skeld, deur dit nie te eis nie”. Wanneer ons besluit om iemand te vergewe wat ons te na gekom het, verwag ons dus niks terug nie. Ons bereidwilligheid om te vergewe, beteken nie dat ons die verkeerde gedrag goedkeur of dat ons die pyn wat dit ons veroorsaak het, as niks afmaak nie. Ons besluit eerder om gegriefdheid te laat vaar, selfs al het ons dalk ’n geldige “rede tot klagte”.

Is dit prakties vir ons dag? As onvolmaakte mense sondig ons almal (Romeine 3:23). Dit sal dus wys wees om vergewensgesind te wees, want die een of ander tyd sal ons ander se vergifnis nodig hê. Wat meer is, wanneer ons kies om te vergewe, vind ons ook daarby baat. Hoe so?

Wanneer ons kwaad bly en ’n wrok koester—en dus nie vergewe nie—ly ons self daaronder. Sulke negatiewe gevoelens kan ons van ons geluk beroof, ons lewe beperk en ons sielsongelukkig maak. Dit kan ook tot ernstige gesondheidsprobleme lei. In ’n verslag in die Journal of the American College of Cardiology het dr. Yoichi Chida en Andrew Steptoe, ’n professor van Sielkunde, die volgende slotsom bereik: “Onlangse bevindings toon dat daar ’n negatiewe verband bestaan tussen woede en vyandigheid, en KHS [koronêre hartsiekte].”

Aan die positiewe kant, kyk na die voordele wat dit inhou om te vergewe. Wanneer ons ander vryelik vergewe, bewaar ons eenheid en vrede en sodoende verhoudings. Nog belangriker, ons toon dat ons God navolg, wat berouvolle sondaars vryelik vergewe en verwag dat ons dit ook moet doen.—Markus 11:25; Efesiërs 4:32; 5:1.