Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het geleer dat Jehovah barmhartig en vergewensgesind is

Ek het geleer dat Jehovah barmhartig en vergewensgesind is
  • GEBORE: 1954

  • GEBOORTELAND: KANADA

  • GESKIEDENIS: SKELM, DOBBELAAR

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in ’n arm gebied in die stad Montreal. Toe ek ses maande oud was, het my pa gesterf, en daarna moes my ma na al die huishoudelike verantwoordelikhede omsien. Ek was die jongste in ’n gesin van agt kinders.

Terwyl ek grootgeword het, het my lewe gedraai om dwelms, dobbelary en geweld en het ek met misdadigers geassosieer. Teen die ouderdom van tien het ek vir prostitute en woekeraars takies begin doen. Ek het baie leuens vertel en het dit geniet om mense te manipuleer op enige bedrieglike manier waarop ek kon. Dit was vir my soos ’n dwelm.

Teen die tyd dat ek 14 jaar oud was, kon ek uitstekende planne uitdink om mense te kul. Ek het byvoorbeeld groot hoeveelhede horlosies, armbande en ringe van oorgeblaasde goud gekoop, dit met ’n graveerder se stempel as 14 karaat gemerk en dit dan op die straat of in die parkeerterreine van winkelsentrums verkoop. Dit was vir my opwindend om maklik geld te maak. Eenkeer het ek in net een dag $10 000 (ongeveer R100 000) gemaak!

Nadat ek op die ouderdom van 15 uit die verbeteringskool geskors is, het ek nie blyplek gehad nie. Ek het geslaap op die straat, in parke of in die huise van kennisse wat my ingeneem het.

As gevolg van my oneerlike bedrywighede is ek dikwels deur die polisie ondervra. Aangesien ek nie gesteelde goedere verkoop het nie, is ek nooit tronk toe gestuur nie. Maar ek het wel talle groot boetes betaal vir bedrog, wanvoorstelling en omdat ek goedere sonder ’n permit verkoop het. Omdat ek vir niemand bang was nie, het ek selfs vir woekeraars geld ingesamel. Dit was gevaarlik, en soms het ek ’n vuurwapen saamgeneem. By tye het ek by georganiseerde misdaad betrokke geraak.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Toe ek 17 jaar oud was, het ek vir die eerste keer in aanraking gekom met die Bybel. Ek en my meisie het saamgebly toe sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Maar ek het kapsie gemaak teen die Bybel se sedelike beperkings, en daarom het ek haar gelos en by ’n ander vrou ingetrek, met wie ek ook uitgegaan het.

Ek het ’n keerpunt bereik toe my tweede meisie ook saam met die Getuies begin studeer het! Sy het veranderinge in haar lewe aangebring, en die feit dat sy sagmoediger en geduldiger geraak het, het my beïndruk. Ek het ’n uitnodiging na ’n vergadering by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies aanvaar. Ek is deur ordentlike en vriendelike mense verwelkom. Hoe het dit tog verskil van die wêreld wat ek geken het! Ek het nooit gevoel dat my gesin my wou hê nie. Gedurende my kinderjare het ek altyd gevoel asof ek liefde en teerheid ontsê is. Die liefde wat ek onder Jehovah se Getuies ondervind het, was presies waarna ek gesmag het. Toe die Getuies aangebied het om die Bybel met my te studeer, het ek dit gretig aanvaar.

Wat ek uit die Bybel geleer het, het heel moontlik my lewe gered. Ek het ’n rooftog beplan met twee ander sodat ek ontslae kon raak van my dobbelskuld, wat meer as $50 000 (ongeveer R500 000) beloop het. Maar hoe bly is ek tog dat ek kop uitgetrek het! Die ander twee het die rooftog deurgevoer. Een van hulle is in hegtenis geneem, en die ander is doodgemaak.

Hoe meer ek van die Bybel geleer het, hoe meer het ek gesien hoeveel veranderinge ek moet maak. Ek het byvoorbeeld geleer wat die Bybel sê in 1 Korintiërs 6:10: “Diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk [nie] beërf nie.” Toe ek hierdie vers gelees het, het die erns van my situasie my tot trane beweeg. Ek het besef dat ek my lewenswyse heeltemal moet verander (Romeine 12:2). Ek was gewelddadig en aggressief, en my hele lewe was op leuens gegrond.

Maar uit my Bybelstudie het ek ook geleer dat Jehovah barmhartig en vergewensgesind is (Jesaja 1:18). Ek het vurig gebid en Jehovah gesmeek om my te help om van my vorige lewenswyse los te breek. Met sy hulp kon ek geleidelik ’n nuwe persoonlikheid aankweek. ’n Belangrike stap was toe ek en my meisie wettig getroud is.

Ek is vandag lewend omdat ek Bybelbeginsels toepas

Ek was 24 jaar oud en ek was getroud, met drie kinders. Nou moes ek ’n wettige manier vind om geld te verdien. Maar ek het min geleerdheid en geen verwysings gehad nie. Ek het weer vurig tot Jehovah gebid. Toe het ek werk gaan soek. Ek het vir potensiële werkgewers gesê dat ek my lewe wil verander en ’n eerlike dag se werk wil doen. Soms het ek verduidelik dat ek die Bybel bestudeer en dat ek ’n beter burger wou wees. Baie werkgewers het geweier om my aan te stel. Uiteindelik, nadat ek gedurende nog ’n onderhoud openlik oor my verlede gepraat het, het die persoon wat die onderhoud gevoer het, gesê: “Ek weet nie regtig waarom nie, maar iets sê vir my dat ek jou moet aanstel.” Ek glo dat dit die antwoord op my gebede was. Ná verloop van tyd is ek en my vrou as Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek is vandag lewend omdat ek Bybelbeginsels toepas en ’n Christelike lewe lei. Ek het ’n pragtige gesin van my eie. Omdat ek oortuig is dat Jehovah my vergewe het, het ek ’n skoon gewete.

Ek is al 14 jaar lank in die voltydse diens, wat beteken dat ek ander voltyds help om van die Bybel te leer. My vrou het onlangs by my in die voltydse diens aangesluit. Oor die afgelope 30 jaar het ek die vreugde gesmaak om 22 van my medewerkers te help om Jehovah te begin dien. Ek gaan nog na winkelsentrums toe—maar nie om mense te kul soos ek voorheen gedoen het nie. Wanneer ek nou soontoe gaan, praat ek dikwels met ander oor my geloof. Ek wil vir hulle iets gee: die hoop om te lewe in ’n toekomstige nuwe wêreld waarin daar geen skelms sal wees nie.—Psalm 37:10, 11.