Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek wou nie doodgaan nie!

Ek wou nie doodgaan nie!
  • GEBORE: 1964

  • GEBOORTELAND: ENGELAND

  • GESKIEDENIS: EIESINNIGE TIENERMA

MY VERLEDE

Ek is gebore in Paddington, ’n digbevolkte gebied in Londen, Engeland. Ek het saam met my ma en drie ouer susters gewoon. My pa het ’n drankprobleem gehad, en daarom was hy nie altyd ’n deel van ons lewe nie.

Toe ek ’n kind was, het my ma my geleer om elke aand te bid. Ek het ’n Bybeltjie gehad met net die Psalms in, en ek het wysies opgemaak sodat ek dit kon sing. Ek onthou dat ek in een van my sekulêre boeke iets gelees het wat ek nie uit my kop kon kry nie: “Ons is almal die dood te wagte.” Daardie woorde het my snags laat wakker lê en dink oor die toekoms. ‘Die lewe moet tog ’n dieper betekenis hê’, het ek gedink. ‘Waarom is ek hier?’ Ek wou nie doodgaan nie!

Ek het nuuskierig begin raak oor die okkulte. Ek het met die dooies probeer praat, saam met skoolmaats na begraafplase toe gegaan en saam met hulle na gruwelflieks gekyk. Ons het gedink dat dit opwindend is, maar dit het ons terselfdertyd banggemaak.

Ek het begin handuit ruk toe ek maar tien jaar oud was. Ek het begin rook en gou daaraan verslaaf geraak. Later het ek dagga begin rook. Teen die tyd dat ek 11 was, het ek al met alkohol geëksperimenteer. Al het ek nie van die smaak gehou nie, het ek daarvan gehou om dronk te word. Ek was ook mal oor musiek en dans. Wanneer ek ook al kon, het ek na partytjies en nagklubs toe gegaan. Ek het gereeld snags uitgesluip en dan net voor dagbreek weer ingesluip. Gewoonlik was ek die volgende dag moeg en dan het ek stokkiesgedraai. Wanneer ek wel skool toe gegaan het, het ek dikwels tussen periodes alkohol gedrink.

In my laaste jaar op skool was my punte baie swak, en my ma was baie teleurgesteld en kwaad. Sy was die meeste van die tyd nie bewus van als wat ek aangevang het nie. Ons het ’n uitval gehad, en ek het van die huis af weggeloop. Ek het ’n ruk lank by my kêrel, Tony, gebly. Hy was ’n Rastafariër en was betrokke by diefstal. Hy het ook dwelms verkoop, en almal het geweet dat hy baie gewelddadig is. Kort voor lank het ek swanger geraak, en ek was maar 16 toe ons seun gebore is.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

Ek het by ’n tehuis vir ongetroude ma’s en hulle babas gewoon toe ek vir die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het. Die plaaslike owerheid het vir my ’n kamer daar gegee. Twee Getuie-vroue het ’n paar van die ander jong ma’s gereeld besoek. Eendag het ek by die gesprek betrokke geraak. Ek wou die Getuies verkeerd bewys. Maar hulle het al my vrae kalm en duidelik uit die Bybel beantwoord. Hulle was so vriendelik en liefdevol, en ek het baie daarvan gehou. Daarom het ek tot my eie Bybelstudie ingestem.

Kort nadat ek begin studeer het, het ek iets uit die Bybel geleer wat my lewe verander het. Ek was van kleins af bang om dood te gaan. Maar nou het ek uitgevind wat Jesus oor die opstanding geleer het! (Johannes 5:28, 29). Ek het ook geleer dat God vir my omgee (1 Petrus 5:7). Die woorde in Jeremia 29:11 het my veral geraak, waar dit sê: “‘Want ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester’, is die woord van Jehovah, ‘gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee.’” Ek het begin glo dat ek die hoop kan hê om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe.—Psalm 37:29.

Jehovah se Getuies het opregte liefde aan my betoon. Toe ek vir die eerste keer na een van hulle vergaderinge gegaan het, was die atmosfeer hartlik en aangenaam—almal was so vriendelik! (Johannes 13:34, 35). Dit was baie anders as die manier waarop ek by ’n plaaslike kerk behandel is. Die Getuies het my verwelkom ten spyte van my omstandighede. Hulle het tyd aan my afgestaan, aandag aan my geskenk, vir my omgegee en my ook op talle praktiese maniere gehelp. Dit het vir my gevoel asof ek deel van ’n groot, liefdevolle gesin is.

My studie van die Bybel het my laat besef dat ek veranderinge in my lewe moet aanbring om aan God se hoë sedelike standaarde te voldoen. Dit was vir my moeilik om op te hou om tabak te rook. Ek het ook besef dat sekere soorte musiek my lus gemaak het om dagga te rook, en daarom het ek na ander musiek begin luister. Omdat ek nugter wou bly, het ek opgehou om na partytjies en nagklubs te gaan waar ek in die versoeking sou kom om dronk te word. Ek het nuwe vriende gemaak wat ’n goeie invloed op my sou hê en my sou help.—Spreuke 13:20.

Intussen het Tony ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Die Getuies het sy vrae uit die Bybel beantwoord, en dit het hom laat besef dat die dinge wat hy leer, die waarheid is. Hy het groot veranderinge in sy lewe gemaak. Hy het opgehou om met gewelddadige persone te assosieer, misdade te pleeg en dagga te rook. Ons het besef dat ons ons onsedelike lewenswyse moet verander as ons Jehovah se goedkeuring wil hê en vir ons seun ’n veilige omgewing wil bied. Ons is in 1982 getroud.

“Ek lê nie meer snags wakker omdat ek bekommerd is oor die toekoms en die dood nie”

Ek onthou hoe ek artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! * gesoek het met verhale van mense wat dit reggekry het om die veranderinge te maak wat ek wou maak. Hulle voorbeelde het my baie aangemoedig! Dit het my die krag gegee om aan te hou en hard te probeer om nie moed op te gee nie. Ek het tot Jehovah bly bid om geduldig te wees met my. Ek en Tony is in Julie 1982 as Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET

Die vriendskap wat ek met Jehovah God opgebou het, het my lewe gered. Ek en Tony het ook gesien hoe Jehovah ons gedurende moeilike tye ondersteun het. Ons het geleer om gedurende sulke tye op God te vertrou, en ons voel dat hy ons gesin nog altyd gehelp en ondersteun het.—Psalm 55:22.

Ek het dit baie geniet om ons seun en dogter te help om Jehovah te leer ken soos ek hom ken. En ek voel nou dieselfde vreugde wanneer ek sien hoe hulle kinders ook meer van God leer.

Ek lê nie meer snags wakker omdat ek bekommerd is oor die toekoms en die dood nie. Ek en Tony lei ’n bedrywige lewe en reis elke week na verskillende gemeentes van Jehovah se Getuies om hulle aan te moedig. Ons werk saam met hulle om ander te leer dat hulle, as hulle geloof in Jesus stel, ook die ewige lewe kan verkry.

^ par. 18 Ook uitgegee deur Jehovah se Getuies.