Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ná vele mislukkings was ek suksesvol

Ná vele mislukkings was ek suksesvol
  • GEBORE: 1953

  • GEBOORTELAND: AUSTRALIË

  • GESKIEDENIS: VERSLAAF AAN PORNOGRAFIE

MY VERLEDE:

My pa het in 1949 uit Duitsland na Australië geëmigreer. Hy het kom werk soek by ’n myn of by ’n kragstasie en het in die landelike gebied van Victoria gaan woon. Daar het hy met my ma getrou, en ek is in 1953 gebore.

’n Paar jaar later het my ma die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en ek onthou dat ek as kind van die Bybel geleer het. Maar my pa kon godsdiens glad nie verdra nie. Hy het gewelddadig en intimiderend geword, en my ma was baie bang vir hom. Sy het aangehou om die Bybel in die geheim te studeer en het lief geword vir wat sy daarin geleer het. Wanneer my pa nie by die huis was nie, het sy vir my en my suster vertel wat sy geleer het. Sy het ons vertel van ’n toekomstige paradysaarde en hoe ons gelukkig sal wees as ons volgens die Bybel se standaarde lewe.—Psalm 37:10, 29; Jesaja 48:17.

Toe ek 18 was, moes ek die huis verlaat omdat my pa so gewelddadig was. Hoewel ek geglo het wat my ma my uit die Bybel geleer het, het ek nie waardering daarvoor gehad nie. Daarom het ek nie daarvolgens gelewe nie. Ek het as elektrisiën in die steenkoolmyne begin werk. Toe ek 20 was, het ek getrou. Ons eerste dogter is drie jaar later gebore, en ek het begin dink aan wat belangrik is in die lewe. Omdat ek geweet het dat die Bybel ons gesin kan help, het ek die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin studeer. Maar my vrou was baie gekant teen die Getuies. Toe ek een van hulle vergaderinge bygewoon het, het sy ’n ultimatum aan my gestel—ek moes my Bybelstudie stopsit of ek moes uittrek. Omdat ek magteloos gevoel het, het ek na haar geluister en alle bande met die Getuies verbreek. Ek was later baie spyt dat ek nie gebly het by wat ek geweet het reg is nie.

Eendag het my werksmaats my aan pornografie bekend gestel. Dit was fassinerend maar ook walglik, en ek is deur skuldgevoelens oorweldig. Ek het onthou wat ek uit die Bybel geleer het en het geglo dat God my sou straf. Maar hoe meer ek na onsedelike materiaal gekyk het, hoe meer het my beskouing van pornografie verander. Mettertyd het ek daaraan verslaaf geraak.

Oor die volgende 20 jaar het ek al hoe verder afgedwaal van die standaarde wat my ma my probeer leer het. Die dinge waarmee ek my verstand gevoed het, het my gedrag beïnvloed. My spraak en my sin vir humor was vulgêr. Ek het ’n verdraaide beskouing van seks ontwikkel. Hoewel ek nog by my vrou gebly het, het ek verhoudings met ander vroue gehad. Op ’n dag het ek in ’n spieël gekyk en gedink: ‘Ek hou nie van jou nie.’ Ek het al my selfrespek verloor en myself gehaat.

My huwelik het tot ’n einde gekom, en my lewe was aan skerwe. Toe het ek met my hele hart tot Jehovah gebid. Ná meer as twee dekades het ek die Bybel weer begin studeer. Teen daardie tyd was my pa al oorlede en was my ma ’n gedoopte Getuie van Jehovah.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

My lewenswyse het glad nie met die Bybel se hoë standaarde ooreengestem nie. Maar hierdie keer was ek vasbeslote om die gemoedsrus te verkry wat die Bybel belowe. Ek het besluit om nie meer so lelik te praat nie en om my humeur te beteuel. Ek het ook besluit om my onsedelike lewenswyse, my gedobbel sowel as my oormatige drinkery te laat vaar en om nie meer by my werkgewer te steel nie.

My werksmaats kon nie verstaan waarom ek sulke drastiese veranderinge wou aanbring nie. Hulle het my drie jaar lank sover probeer kry om my slegte gewoontes te hervat. Wanneer ek ’n effense terugslag gehad het, soos om kwaad te word of ’n vloekwoord te gebruik, het hulle van lekkerkry uitgeroep: “Aha! Dís die Joe wat ons ken.” Hoe seer het hierdie woorde my tog gemaak! Ek het dikwels soos ’n mislukking gevoel.

Daar was baie pornografie by my werk, in elektroniese sowel as gedrukte vorm. My werksmaats het gedurig vieslike materiaal van hulle rekenaars af gestuur, net soos ek vroeër gedoen het. Ek het hard probeer om my verslawing te oorkom, maar dit was asof hulle net nie wou hê dat ek daarin moet slaag nie. Ek het die persoon wat die Bybel met my gestudeer het, gevra om my te ondersteun en aan te moedig. Hy het geduldig geluister terwyl ek my hart teenoor hom uitgestort het. Hy het spesifieke Bybeltekste gebruik om vir my te wys hoe ek my verslawing kan oorkom en het my aangemoedig om Jehovah voortdurend in gebed om hulp te vra.—Psalm 119:37.

Ek het my werksmaats eendag bymekaargeroep. Toe hulle almal daar was, het ek vir hulle gesê om vir twee van die mans, wat alkoholiste was, elkeen ’n bier te gee. Die groep het verontwaardig uitgeroep: “Jy kan nie dit doen nie! Hierdie mans sukkel om hulle verslawing te oorkom!” Ek het geantwoord: “Ja, en ek ook.” Van daardie dag af het hierdie mans besef dat ek probeer om my verslawing aan pornografie te oorkom en het hulle nie meer druk op my geplaas om na my slegte gewoontes terug te keer nie.

Mettertyd, en danksy Jehovah se hulp, het ek my verslawing aan pornografie oorkom. In 1999 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop, en ek is dankbaar dat ek ’n tweede kans gegun is om ’n ordentlike en gelukkige lewe te lei.

Ek verstaan nou waarom Jehovah die dinge haat waarvoor ek so lank lief was. As ’n liefdevolle Vader wou hy my teen die skadelike gevolge van pornografie beskerm. Hoe waar is die woorde van Spreuke 3:5, 6 tog! Dit sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Die Bybel se standaarde beskerm ’n mens en help jou boonop om suksesvol te wees.—Psalm 1:1-3.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

In die verlede het ek niks van myself gehou nie, maar nou het ek selfrespek en gemoedsrus. Ek lei ’n skoon lewe en weet dat Jehovah my vergewe het en ondersteun. In 2000 is ek getroud met Karolin, ’n pragtige Christensuster wat ook baie lief is vir Jehovah. Ons geniet vrede en eenheid in ons huis. Ons voel werklik bevoorreg om deel te wees van ’n wêreldwye Christenbroederskap wat rein en liefdevol is.