Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Steun die argeologie die Bybelverslag?

Die Assiriese Koning Sargon II, wat in Jesaja 20:1 genoem word

’n Artikel wat in Biblical Archaeology Review gepubliseer is, het gesê dat die bestaan van “ten minste 50” persone wat in die Hebreeuse Geskrifte genoem word, nou deur argeologiese ontdekkings bevestig kan word. Dit sluit 14 konings van Juda en Israel in, asook bekende figure soos Dawid en Hiskia en die minder bekende Menahem en Peka. Die lys sluit ook 5 farao’s en 19 konings van Assirië, Babilonië, Moab, Persië en Sirië in. Maar dit is nie net konings wat in die Bybel- en argeologiese verslae verskyn nie. Minder bekendes, soos hoëpriesters, ’n skrifgeleerde en ander amptenare, verskyn ook in die verslae.

Daar is “’n groot aantal geleerdes wat saamstem” oor hierdie individue se identiteit, sê die artikel. Die Christelike Griekse Geskrifte verwys natuurlik na baie ander geskiedkundige figure, en die bestaan van ’n hele paar van hulle—soos Herodes, Pontius Pilatus, Tiberius, Kajafas en Sergius Paulus—word deur argeologiese bewyse gesteun.

Wanneer het leeus uit Bybellande verdwyn?

’n Reliëf van geglasuurde steen uit eertydse Babilon

Hoewel geen leeus vandag in die Heilige Land in die natuur gevind kan word nie, word daar ongeveer 150 keer in die Bybel na leeus verwys, wat toon dat Bybelskrywers met hierdie dier bekend was. Die meeste van hierdie verwysings is figuurlik, maar party Bybelverslae meld werklike voorvalle met leeus. Daar word byvoorbeeld gesê dat Simson, Dawid en Benaja leeus doodgemaak het (Rigters 14:5, 6; 1 Samuel 17:34, 35; 2 Samuel 23:20). En ander persone is weer deur leeus doodgemaak.—1 Konings 13:24; 2 Konings 17:25.

In eertydse tye het die Asiatiese leeu (Panthera leo persica) voorgekom in Klein-Asië en Griekeland en tot in Palestina, Sirië, Mesopotamië en die noordweste van Indië. Hierdie gevreesde en gerespekteerde dier het dikwels in Nabye-Oosterse kuns verskyn. Die Prosessieweg van eertydse Babilon is met leeus versier wat deur reliëfs van geglasuurde stene uitgebeeld is.

Na bewering het kruisvaarders gedurende die laaste deel van die 12de eeu HJ leeus gejag in Palestina. Dit lyk asof leeus kort ná 1300 in hierdie gebied uitgesterf het. Maar daar was tot in die 19de eeu berigte van leeus in Mesopotamië en Sirië, en daar was so laat as die eerste deel van die 20ste eeu berigte van leeus in Iran en Irak.