Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Saam met my vrou, Tabitha, in die openbare getuieniswerk

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het nie geglo dat God bestaan nie

Ek het nie geglo dat God bestaan nie
  • GEBORE: 1974

  • GEBOORTELAND: DUITSE DEMOKRATIESE REPUBLIEK

  • GESKIEDENIS: ATEÏS

MY VERLEDE

Ek is gebore in ’n dorpie in Sakse, wat destyds deel was van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR). Ek het in ’n liefdevolle huis grootgeword, en my ouers het my goeie waardes geleer. Die DDR was ’n Kommunistiese staat, en daarom het die meeste mense in Sakse godsdiens as onbelangrik beskou. Ek het nie geglo dat God bestaan nie. Twee dinge het ’n groot invloed op die eerste 18 jaar van my lewe gehad: ateïsme en Kommunisme.

Hoekom het ek van Kommunisme gehou? Want ek het van die idee gehou dat alle mense gelyk is. Ek het ook geglo dat alle besittings regverdig verdeel moet word omdat dit sou keer dat mense te ryk of te arm word. Daarom het ek betrokke geraak by ’n Kommunistiese jeugorganisasie. Toe ek 14 jaar oud was, het ek baie tyd spandeer aan ’n omgewingsprojek om papier te herwin. Die dorpie Aue was so dankbaar vir die werk wat ek gedoen het dat die owerheid my op ’n spesiale manier vereer het. Al was ek nog jonk, het ek van die top-politici in die DDR leer ken. Ek het gedink dat ek die regte doelwitte nastreef en dat ek ’n blink toekoms voor my het.

Maar skielik het alles verander. In 1989 het die Berlynse Muur geval sowel as die Kommunistiese blok in Oos-Europa. Ek was nog verder teleurgestel. Kort daarna het ek uitgevind dat mense in die DDR dikwels onregverdig behandel is. Byvoorbeeld, mense wat nie Kommunisme ondersteun het nie, is nie dieselfde as ander burgers behandel nie. Hoe was dit moontlik? Ek het gedink dat ons as Kommuniste glo dat alle mense gelyk is. Was Kommunisme net ’n onrealistiese droom? Dit was alles net te veel vir my.

Ek het toe my prioriteite verander en eerder op kuns en musiek gefokus. Aangesien ek die kans gehad het om aan ’n musiekskool te studeer en moontlik universiteit toe kon gaan, het ek gedroom van ’n loopbaan as ’n musikant en ’n kunstenaar. Ek het ook opgehou om volgens die goeie waardes wat ek as kind geleer het, te lewe. Al wat nou saak gemaak het, was om ’n lekker tyd te hê. Dit het ook beteken dat ek sommer met ’n paar meisies op dieselfde tyd uitgegaan het. Maar kuns, musiek en ’n onsedelike en vrye lewenswyse het my nie beter laat voel nie. My innerlike vrees kon selfs gesien word in die skilderye wat ek geverf het. Wat het die toekoms ingehou? En wat was die doel van die lewe?

Een aand by die musiekskool het ek en ’n groep studente die toekoms bespreek. Een van die studente, Mandy *, was een van Jehovah se Getuies. Daardie aand het sy my goeie raad gegee. Sy het gesê: “Andreas, as jy antwoorde op jou vrae oor die lewe en die toekoms wil hê, moet jy kyk wat die Bybel sê.”

Ek was skepties, maar my nuuskierigheid het gemaak dat ek tog die Bybel begin ondersoek het. Mandy het vir my gewys wat Daniël hoofstuk 2 sê. Dit wat ek gelees het, het my verstom. Die profesie beskryf ’n reeks wêreldmoondhede, regerings wat tot in ons dag ’n groot invloed op die wêreld sou hê. Mandy het ook vir my ander Bybelprofesieë oor die toekoms gewys. Uiteindelik het ek antwoorde op my vrae begin kry! Maar waar het hierdie profesieë vandaan gekom? En wie kon die toekoms so akkuraat voorspel? Kon dit wees dat daar wel ’n God is?

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

Mandy het my voorgestel aan Horst en Angelika, ’n Getuiepaartjie wat my gehelp het om God se Woord beter te verstaan. Ek het gou agtergekom dat Jehovah se Getuies die enigste godsdiensorganisasie is wat die aandag op God se naam, Jehovah, vestig en dit altyd gebruik (Psalm 83:18; Matteus 6:9). Ek het geleer dat Jehovah God mense die vooruitsig gee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Psalm 37:9 sê: “Dié wat op Jehovah hoop, . . . sal die aarde besit.” Ek het gehou van die feit dat almal wat volgens God se standaarde in die Bybel probeer lewe, hierdie toekoms kan hê.

Maar ek het gesukkel om my onsedelike lewenswyse te verander en volgens Bybelstandaarde te lewe. My sukses as ’n musikant en ’n kunstenaar het veroorsaak dat ek trots geword het, en ek moes eers leer om nederig te wees. Daarom is ek baie dankbaar dat Jehovah ons situasie verstaan en ook geduldig en genadig is teenoor diegene wat hulle bes doen om te lewe volgens wat die Bybel leer!

Kommunisme en ateïsme het ’n groot invloed op die eerste 18 jaar van my lewe gehad. Sedertdien het die Bybel my lewe verander. Die dinge wat ek geleer het, het gemaak dat ek nie meer so bang is vir wat in die toekoms gaan gebeur nie. Dit het my ook ’n doel in die lewe gegee. Ek is in 1993 as een van Jehovah se Getuies gedoop. En in die jaar 2000 het ek met Tabitha, ’n ywerige mede-gelowige, getrou. Ons spandeer soveel tyd as moontlik om ander mense van die Bybel te leer. Kommunisme en ateïsme het ook ’n groot invloed op baie van hulle gehad. Daarom gee dit my innerlike vrede wanneer ek hulle wys hoe hulle Jehovah kan leer ken.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

Toe ek eers met Jehovah se Getuies begin assosieer het, was my ouers geskok. Maar sedertdien het hulle gesien hoe assosiasie met Jehovah se Getuies ’n positiewe uitwerking op my lewe het. Nou lees hulle ook die Bybel en woon hulle Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies by, en dit maak my baie bly.

Ek en Tabitha het ’n goeie huwelik omdat ons hard werk om die Bybelse raad aan getroude paartjies na te volg. Byvoorbeeld, dit help ons om ons huwelik sterk te hou wanneer ons die raad gehoorsaam om getrou aan mekaar te bly.—Hebreërs 13:4.

Ek is nie meer bang of bekommerd oor my lewe en wat die toekoms vir my inhou nie. Ek is nou deel van ’n wêreldwye familie van mede-gelowiges wat ware vrede en eenheid geniet. In hierdie familie is ons almal gelyk en word ons almal dieselfde behandel. Dit is iets wat ek nog altyd geglo het en wat vir my baie belangrik is.

^ par. 12 Naam is verander.