Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Evolusie

Evolusie

Party mense sê dat lewe as gevolg van evolusie ontstaan het. Ander beweer dat God bloot die skeppingsproses begin het en toe toegelaat het dat die proses van evolusie oorneem. Wat sê die Bybel?

Is die Bybelverslag oor die skepping in stryd met die teorie dat die heelal met die oerknal (big bang) begin het?

Die Bybel sê eenvoudig: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Die Bybel sê nie presies hoe God alles geskep het nie. Selfs al het ’n kosmiese ontploffing ons heelal voortgebring, sou dit nie in stryd wees met wat die Bybel sê nie. Genesis 1:1 sou eerder die vraag beantwoord: Wie het die oerknal veroorsaak?

Baie wetenskaplikes glo natuurlik dat die oerknal ’n spontane, ongerigte gebeurtenis was wat daartoe gelei het dat deeltjies materie hulleself oor ’n tydperk in sterre en planete gerangskik het. Die Bybel steun nie hierdie beskouing nie; dit sê eerder dat die ontstaan van die heelal direk deur God veroorsaak is, hetsy hy die een of ander kosmiese ontploffing gebruik het, of ’n ander skeppingsmetode.

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”Genesis 1:1.

Is dit volgens die Bybelverslag moontlik dat lewende dinge met verloop van tyd kan verander?

Ja. Die Bybel sê dat God lewende dinge “volgens hulle soorte” geskep het (Genesis 1:11, 12, 21, 24, 25). Kan variasie in ’n soort, oftewel spesie, plaasvind? Ja. Maar bewys veranderinge wat in ’n spesie waargeneem word, dat nuwe spesies uiteindelik kan evolueer? Nee.

Kyk na ’n voorbeeld: In die 1970’s het navorsers vinke op die Galápagoseilande bestudeer. Hulle het opgemerk dat klimaatsveranderinge veroorsaak dat vinke met effens groter snawels ’n groter kans op oorlewing het. Party het tot die gevolgtrekking gekom dat dit bewys lewer van evolusie. Maar was dit ’n bewys van evolusie of het die spesie bloot aangepas? Jare later het die vinke met kleiner snawels weer eens die bevolking oorheers. Hierdie studie het Jeffrey H. Schwartz, ’n professor wat die oorsprong van die mens bestudeer, tot die slotsom laat kom dat aanpassing, hoewel dit ’n spesie dalk help om veranderende omstandighede te oorleef, “nie enigiets nuuts skep nie”.

Kan die Bybel met die evolusieteorie versoen word?

Die Bybel sê: “[God] het alles geskep” (Openbaring 4:11). Hy het eers ‘gerus’ toe sy skeppingswerk voltooi is (Genesis 2:2). Dit lei ons tot ’n duidelike gevolgtrekking: God het nie ’n eenvoudige organisme geskep en toe agteroorgesit terwyl hierdie organisme oor miljoene jare in verskillende soorte visse, ape en mense geëvolueer het nie. * Hierdie idee, wat makro-evolusie genoem word, ontken die rol van ’n Skepper, van wie die Bybel sê: “[Hy het] die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat in hulle is.”Eksodus 20:11; Openbaring 10:6.

“U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep.Openbaring 4:11.

Om meer te leer: Die Bybel sê dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word], omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is” (Romeine 1:20). Om van God te leer kan die lewe werklik sinvol maak, aangesien hy ’n liefdevolle voorneme het wat almal insluit wat opreg na hom soek (Prediker 12:13; Hebreërs 11:6). Vir meer inligting, besoek www.pr418.com/af of tree in verbinding met Jehovah se Getuies. Kyk onder BYBELLERINGE > ANTWOORDE OP BYBELVRAE.

^ par. 12 In teenstelling met wat voorstanders van die skeppingsleer sê, ondersteun die Bybel nie die idee dat God die aarde in ses dae van 24 uur elk geskep het nie. Vir meer inligting, sien bladsy 24-27 van die brosjure Is lewe geskep? Die brosjure word uitgegee deur Jehovah se Getuies en kan gratis afgelaai word by www.pr418.com/af.