Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Die ware skeppingsverhaal

Die ware skeppingsverhaal

MILJARDE mense het al gelees of gehoor wat die Bybel oor die begin van die heelal sê. Die 3 500 jaar oue verslag begin met die bekende woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”

Maar baie mense besef nie dat die Christendom se leiers, insluitende sogenoemde aanhangers van die skeppingsleer en fundamentaliste, baie stories oor die skepping versin het wat afwyk van wat die Bybel werklik daaroor sê nie. Hierdie vertolkings is lynreg in stryd met wetenskaplike feite. Hoewel hierdie stories nie in die Bybel gevind word nie, het dit veroorsaak dat party mense die Bybelverslag as ’n mitiese verhaal verwerp.

Die meeste mense ken nie die ware skeppingsverhaal in die Bybel nie. Dit is ’n jammerte, want die Bybel gee in werklikheid ’n baie logiese en geloofwaardige verduideliking van die begin van die heelal. Wat meer is, hierdie verduideliking strook met wetenskaplike ontdekkings. Ja, die ware skeppingsverhaal in die Bybel sal jou moontlik aangenaam verras!

DIE SKEPPER WAT NIE GESKEP IS NIE

Die Bybelverslag van die skepping is gegrond op die feit dat daar ’n Opperwese is, God die Almagtige, wat alles geskep het. Wie is hy, en wat is die aard van hierdie God? Die Bybel toon dat hy baie anders is as die godhede wat in volkskulture en hoofstroomgodsdienste gevind word. Hy is die Skepper van alles, maar die meeste mense weet baie min omtrent hom.

  • God is ’n persoon, ’n individu. Hy is nie ’n soort krag sonder persoonlikheid wat doelloos in die heelal rondsweef nie. Hy het gedagtes, gevoelens en doelwitte.

  • God het oneindige krag en wysheid. Dit verklaar die ingewikkelde ontwerp wat oral in die skepping gesien kan word, veral in lewende dinge.

  • God het alle materie geskep. Hy kan dus nie bestaan uit fisiese elemente wat hy self geskep het nie. Hy is eerder ’n geestelike, of onstoflike, wese.

  • God se bestaan word nie deur tyd beperk nie. Hy het nog altyd bestaan en sal altyd bestaan. Niemand het hom dus geskep nie.

  • God het ’n persoonlike naam, wat duisende kere in die Bybel gebruik word. Hierdie naam is Jehovah.

  • Jehovah God is lief vir mense en sorg vir hulle.

 HOE LANK HET DIT GOD GENEEM OM DIE HEELAL TE SKEP?

Die Bybel sê dat God “die hemel en die aarde” geskep het. Maar hierdie algemene stelling verwys glad nie na hoe lank dit hom geneem het om die heelal te skep of die metodes wat hy gebruik het om dit te vorm nie. Wat van die algemene opvatting van aanhangers van die skeppingsleer dat God die heelal in ses letterlike dae van 24 uur elk geskep het? Hierdie idee, wat deur die meeste wetenskaplikes verwerp word, is gegrond op ’n heeltemal verkeerde begrip van die Bybelverslag. Kom ons kyk wat die Bybel werklik sê.

Die Bybel steun nie fundamentaliste en aanhangers van die skeppingsleer se bewering dat die skeppingsdae letterlike dae van 24 uur elk was nie

  • Die Bybel steun nie fundamentaliste en aanhangers van die skeppingsleer se bewering dat die skeppingsdae letterlike dae van 24 uur elk was nie.

  • Die Bybel gebruik dikwels die woord “dag” vir tydperke van verskillende lengtes. In party gevalle word daar nie gesê hoe lank hierdie tydperke is nie. Die skeppingsverslag in die Bybelboek Genesis is ’n voorbeeld hiervan.

  • In die Bybelverslag was elkeen van die ses skeppingsdae moontlik duisende jare lank.

  • Teen die tyd dat die eerste skeppingsdag begin het, het God reeds die heelal geskep, insluitende die planeet Aarde, wat destyds leweloos was.

  • Die ses skeppingsdae was blykbaar lang tydperke waartydens Jehovah God die aarde voorberei het sodat mense daarop kon woon.

  • Die Bybelverslag van die skepping is nie in stryd met wetenskaplike gevolgtrekkings oor die ouderdom van die heelal nie.

HET GOD EVOLUSIE GEBRUIK?

Baie mense wat nie in die Bybel glo nie, aanvaar die teorie dat lewende dinge deur middel van onbekende en onintelligente prosesse uit nielewende chemiese stowwe voortgekom het. Na bewering het ’n bakterieagtige, selfrepliserende organisme op die een of ander tydstip ontstaan en geleidelik ontwikkel tot al die spesies wat vandag bestaan. Dit sou beteken dat die mens, wat ongelooflik ingewikkeld is, eintlik uit bakterieë geëvolueer het.

Die evolusieteorie word ook aanvaar deur baie mense wat sê dat hulle die Bybel as God se Woord beskou. Hulle glo dat God die eerste lewensvorm op die aarde laat ontstaan het en daarna die evolusieproses net gemonitor en miskien gerig het. Maar dit is nie wat die Bybel sê nie.

Die Bybelverslag van die skepping is nie in stryd met die wetenskaplike waarneming dat daar verskeidenheid in ’n soort voorkom nie

  • Volgens die Bybel het Jehovah God al die basiese soorte plante- en dierelewe geskep, sowel as ’n volmaakte man en vrou met die gawe van selfbewussyn en die vermoë om liefde, wysheid en geregtigheid te openbaar.

  • Die soorte diere en plante wat God geskep het, het klaarblyklik veranderinge ondergaan, en gevolglik het verskeidenheid in die soorte voorgekom. In baie gevalle is daar opmerklike verskille tussen die lewensvorme wat so ontstaan het.

  • Die Bybelverslag van die skepping is nie in stryd met die wetenskaplike waarneming dat daar verskeidenheid in ’n soort voorkom nie.

 DIE SKEPPING LEWER BEWYS VAN ’N SKEPPER

In die middel van die 19de eeu het die Britse bioloog Alfred Russel Wallace saamgestem met Charles Darwin se teorie van evolusie deur natuurlike seleksie. Maar selfs hierdie bekende evolusionis het glo gesê: “Vir mense met oë wat sien en ’n verstand wat voortdurend nadink, is daar in die kleinste selletjies, in die bloed, op die hele aarde en in die hele hemelruim . . . bewyse van intelligente en bewuste leiding; kortom, van Verstand.”

Amper tweeduisend jaar voor Wallace het die Bybel reeds gesê: “Want [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Nou en dan kan jy gerus ’n tydjie inruim om na te dink oor die wonderlike, ingewikkelde ontwerpe in die natuurvan ’n enkele grashalm tot die tallose hemelliggame. As jy die skepping ondersoek, sal jy die Skepper as ’t ware kan sien.

Maar jy vra dalk: ‘As daar ’n liefdevolle God is wat alles geskep het, waarom laat hy dan lyding toe? Het hy sy aardse skepping verlaat? Wat hou die toekoms in?’ Die Bybel bevat baie ander waarhedewaarhede waarvan die meeste mense nie weet nie omdat dit verberg word deur idees van mense en leringe wat deur godsdienste bevorder word. Die uitgewers van hierdie tydskrif, Jehovah se Getuies, sal jou met graagte help om onvervalste Bybelwaarheid te ondersoek en meer omtrent die Skepper en die toekoms van sy menseskepping te leer.