Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | WENLONG HE

’n Eksperimentele fisikus verduidelik waarom hy aan God glo

’n Eksperimentele fisikus verduidelik waarom hy aan God glo

WENLONG HE het fisika aanvanklik gestudeer in Suzhou, Jiangsu-provinsie, China. Hy is lid van die redaksie van ’n internasionale tydskrif oor tegnologie, en tientalle van sy werkstukke het al in wetenskaplike lektuur verskyn. Op die oomblik werk Wenlong He vir Skotland se Strathclyde-universiteit. Toe hy jonk was, het hy aan evolusie geglo, maar later het hy tot die slotsom gekom dat lewe geskep is. Ontwaak! het met hom gesels oor sy geloof.

Vertel ons van jou agtergrond.

Ek is in 1963 gebore en het in China grootgeword in ’n dorp suid van die Jangtse-rivier in die Jiangsu-provinsie. Dit is ’n subtropiese gebied wat bekend is vir sy voedselproduksie, en daarom word dit dikwels die land van rys en vis genoem. As kind het ek soms gewonder: ‘Waarom voorsien die natuur soveel lekker kossoorte? Het dit toevallig ontstaan? Wat was eerste—die hoender of die eier?’ China is oorwegend ateïsties, en ek het dus evolusie op skool geleer.

Wat van julle gesin?

My ouers was ateïste. My ma het plaaswerk gedoen en my pa het as ’n argitek gewerk en ’n boumaatskappy gestig. Ek is die oudste van hulle vyf seuns. Ongelukkig is twee van my broers op ’n jong ouderdom oorlede. Ek was baie hartseer daaroor en het gewonder: ‘Waarom sterf mense? Sal ek my broers ooit weer sien?’

Waarom het jy wetenskap gestudeer?

Ek wou fisika studeer omdat ek baie belanggestel het in die sigbare wêreld en gedink het dat fisika dalk die vrae sal beantwoord waaroor ek van kleins af gewonder het.

Wat is jou navorsingsgebied?

Ek ondersoek maniere om die snelheid van gelaaide deeltjies te laat toeneem tot byna die snelheid van lig. Dit help my in my studie van die bou van atome. Ek probeer ook vasstel hoe om hoëkrag-straling met ’n frekwensie tussen dié van mikrogolwe en infrarooi-straling op te wek. Hoewel my navorsing in die handel gebruik kan word, hou dit ook verband met pogings om te verstaan hoe die heelal begin het.

Wat het jou in die Bybel laat belangstel?

In 1998 het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Hulle het aangebied om my te wys wat die Bybel se antwoorde op my vrae is. My vrou, Huabi, wat ook ’n wetenskaplike navorser is, het by ons aangesluit. Dit was die eerste keer dat ons ’n Bybel gesien het, maar die praktiese raad daarin het ons beïndruk. Ons het gesien hoe die Getuie-egpaar wat ons besoek het, daarby baat gevind het om Bybelbeginsels toe te pas. Hulle was gelukkig en het ’n eenvoudige lewe gelei. Maar wat die Bybel oor God sê, het my weer eens laat wonder of die heelal geskep is. As ’n fisikus is dit my werk om die natuur te verstaan. Daarom het ek besluit om goed na te dink oor die feite.

As ’n fisikus is dit my werk om die natuur te verstaan. Daarom het ek besluit om goed na te dink oor die feite

Oor watter feite het jy nagedink?

Eerstens het ek geweet dat ’n geslote stelsel nie georganiseerd kan bly of meer georganiseerd kan word tensy ’n eksterne krag daarop inwerk nie. Dit is die tweede wet van termodinamika. Aangesien die heelal en lewe op die aarde hoogs georganiseerd is, het ek tot die slotsom gekom dat dit ontstaan het weens ’n eksterne krag, ’n Skepper. Die tweede feit was dat die heelal en die aarde blykbaar spesifiek ontwerp is om lewe te onderhou.

Watter bewyse van ontwerp het jy gesien?

Feitlik alle lewe op die aarde is afhanklik van energie wat van die son af kom. Hierdie energie beweeg deur die ruimte in die vorm van straling. Dit bereik die aarde in ’n wye spektrum van golflengtes. Die kortste is die dodelike gammastrale. Dan volg X-strale, ultravioletstrale, sigbare lig, infrarooistrale, mikrogolwe en, die langste golwe, radiogolwe. Dit is merkwaardig dat ons atmosfeer baie van die skadelike straling keer terwyl dit toelaat dat ander nodige straling die aarde se oppervlak bereik.

Waarom het hierdie feit jou beïndruk?

Die inleiding tot die Bybel se skeppingsverslag en wat dit van lig sê, het my gefassineer. Dit sê: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees.’ Toe was daar lig.” * Net ’n baie smal strook van die wye spektrum van sonstraling is sigbare lig, maar lig is noodsaaklik vir lewe. Plante het dit nodig om voedsel te vervaardig, en ons het lig nodig om te kan sien. Die atmosfeer se spesiale vermoë om lig deur te laat, kan nie aan die toeval toegeskryf word nie. Maar die feit dat ’n klein hoeveelheid ultravioletlig die aarde se oppervlak bereik, is nog merkwaardiger.

Waarom is dit die geval?

’n Sekere hoeveelheid ultravioletstraling is noodsaaklik. Ons het ’n klein bietjie daarvan op ons vel nodig om vitamien D te vervaardig, wat noodsaaklik is vir beengesondheid en blykbaar beskerming bied teen kanker en ander siektes. Maar te veel ultravioletstraling veroorsaak velkanker en oogkatarakke. In sy natuurlike staat laat die atmosfeer toe dat net ’n klein hoeveelheid van hierdie ultravioletstraling die aarde se oppervlak bereik—en dit is net die regte hoeveelheid. Dit is vir my ’n bewys dat iemand die aarde ontwerp het om lewe te onderhou.

Ek en Huabi het mettertyd oortuig geraak dat daar ’n Skepper is en dat hy die Bybel geïnspireer het. Ons het in 2005 Jehovah se Getuies geword, en nou help ons ander om van die Bybel te leer.