Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | DR. GENE HWANG

’n Wiskundige verduidelik waarom hy aan God glo

’n Wiskundige verduidelik waarom hy aan God glo

Dr. Gene Hwang, wat in 1950 gebore is in Tainan, Taiwan, is ’n afgetrede professor van Wiskunde aan die Nasionale Tjoeng Tjeng-Universiteit in Taiwan. Hy is ook ’n emeritusprofessor by Cornell-Universiteit, VSA, waar hy navorsing gedoen het oor Statistiek en Waarskynlikheidsleer en dit aangebied het. Hy was jare lank een van die mees gepubliseerde vakkundiges op die gebied van Statistiek en hy werk nog steeds in hierdie veld. As ’n jong man het hy geglo dat lewe deur middel van evolusie begin het. Maar hy het later sy beskouing verander. Ontwaak! het met hom gesels oor sy werk en sy godsdiensoortuigings.

Aan watter leringe is jy as ’n kind blootgestel?

By die skool is ons die evolusieteorie geleer, maar niemand het verduidelik hoe lewe begin het nie. Toe my ouers Taoïste geword het, het ek na hulle godsdiensonderrigters geluister en hulle baie vrae gevra. Maar ek het min bevredigende antwoorde gekry.

Waarom het jy ’n wiskundige geword?

Toe ek op laerskool was, het wiskunde my gefassineer. Selfs op universiteit het dit my nog steeds gefassineer, en ek het Wiskunde en Waarskynlikheidsleer baie geniet.

Wat het jou belangstelling in die Bybel gewek?

In 1978 het my vrou, Djinghwei, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en ek het van tyd tot tyd aan die besprekings deelgeneem. Teen daardie tyd het ons in die Verenigde State gewoon. Djinghwei het kort tevore haar doktorsgraad in Fisika ontvang, en ek het Statistiek gestudeer aan Purdue-Universiteit, in Indiana.

Wat het jy van die Bybel gedink?

Ek is beïndruk deur die verslag van hoe die aarde vir menselewe voorberei is. Die beskrywing van die ses skeppingstydperke wat in Genesis gevind word, al is dit hoe eenvoudig, het blykbaar met die feite ooreengestem—anders as eertydse mites. * Tog het ek jare lank nie erken dat daar ’n Skepper is nie.

Waarom was dit vir jou moeilik?

Om aan ’n Skepper te glo, het beteken dat ek die godsdiens van my kinderdae moes verwerp

My gevoelens was betrokke. Om aan ’n Skepper te glo, het beteken dat ek die godsdiens van my kinderdae moes verwerp, aangesien tradisionele Taoïsme nie leer dat daar ’n persoonlike God, of Skepper, is nie.

Later het jou beskouing egter verander. Waarom?

Hoe meer ek aan die oorsprong van die lewe gedink het, hoe meer is ek daarvan oortuig dat die eerste lewende ding baie kompleks moes gewees het. Byvoorbeeld, dit moes kon voortplant, en om te kan voortplant, moes dit genetiese inligting hê, asook ’n meganisme om daardie inligting akkuraat te dupliseer. En selfs die eenvoudigste lewende sel het molekulêre masjiene nodig om al die dele van ’n nuwe sel te bou, en dit moet ’n manier hê om energie te benut en te reguleer. Hoe kon sulke komplekse meganismes toevallig uit nielewende materie ontstaan? As ’n wiskundige kon ek nie hierdie teorie aanvaar nie. Dit vereis eenvoudig te veel toevallige prosesse.

Waarom het jy besluit om die leringe van Jehovah se Getuies te ondersoek?

Ek het ’n paar keer met die Getuies gestudeer. En in 1995, toe ek Taiwan besoek het, het ek siek geword en hulp nodig gehad. My vrou het uit die Verenigde State met Jehovah se Getuies in Taiwan in verbinding getree. Hulle het my gevind waar ek gewag het buite ’n hospitaal wat geen beskikbare beddens gehad het nie. Een van die Getuies het my na ’n hotel geneem sodat ek kon rus. Hy het gereeld kom kyk hoe dit met my gaan en my toe vir behandeling na ’n kliniek geneem.

Hierdie opregte besorgdheid het my diep getref, en ek het gedink aan hoe dikwels Jehovah se Getuies op ander tye aan my gesin goedhartigheid betoon het. Die Getuies se godsdiens het hulle anders gemaak. Daarom het ek weer die Bybel met hulle begin studeer. Ek is die volgende jaar gedoop.

Bots jou oortuigings met jou sekulêre studies?

Glad nie! Die afgelope paar jaar gee ek wiskundige ondersteuning aan wetenskaplikes wat die werking van gene bestudeer. Genetika gee ons insig in die meganismes van die lewe—insig wat my met ontsag vir die Skepper se wysheid vervul.

Noem asseblief ’n voorbeeld van hierdie wysheid.

Dink ’n bietjie aan voortplanting. Party organismes, soos amoebas, is geslagloos. Hierdie eensellige mikrobes dupliseer eenvoudig hulle genetiese inligting en verdeel dan—’n proses wat ongeslagtelike voortplanting genoem word. Maar die meeste diere en plante plant geslagtelik voort deur die genetiese inligting van manlike en vroulike ouers te kombineer. Waarom is geslagtelike voortplanting merkwaardig?

Waarom sou ’n stelsel van voortplanting waarin een organisme eenvoudig in twee verdeel—en dit al wie weet hoe lank suksesvol doen—ontwikkel in ’n stelsel waarin twee dinge kombineer om een te vorm? Die meganismes wat nodig is om die helfte van die manlike genetiese inligting en die helfte van die vroulike genetiese inligting te neem en dit te kombineer, is uiters kompleks en skep ’n groot probleem vir evolusionêre bioloë. Volgens my is geslagtelike voortplanting ’n duidelike aanduiding van God se denke.

^ par. 11 Vir meer inligting oor die skeppingstydperke, sien die brosjure Is lewe geskep?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Dit is aanlyn beskikbaar op www.pr418.com/af.