Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | YAN-DER HSUUW

’n Embrioloog verduidelik waarom hy aan God glo

’n Embrioloog verduidelik waarom hy aan God glo

PROFESSOR Yan-Der Hsuuw is die direkteur van embrionavorsing aan Taiwan se Nasionale Pingtoeng-Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Hy het voorheen aan evolusie geglo, maar nadat hy ’n navorsingswetenskaplike geword het, het hy van mening verander. Hy het sy redes aan Ontwaak! verduidelik.

Vertel ons asseblief iets oor jou agtergrond.

Ek is in 1966 gebore en het in Taiwan grootgeword. My ouers se godsdiens was gebaseer op ’n mengsel van Taoïsme en Boeddhisme. Ons het ons voorouers aanbid en beelde in ons aanbidding gebruik, en ons het nie geglo aan ’n God wat alles geskep het nie.

Waarom het jy biologie studeer?

Ek het as kind baie van troeteldiere gehou, en ek wou leer hoe om diere en mense se lyding te verlig. Aanvanklik het ek veeartsenykunde gestudeer en later embriologie. Ek het gehoop dat hierdie veld my sou help om te verstaan hoe lewe begin het.

Jy het destyds aan evolusie geglo. Kan jy verduidelik waarom?

Op universiteit het die professors dit vir ons geleer, en volgens hulle was daar bewyse daarvoor. Ek het hulle geglo.

Waarom het jy die Bybel begin lees?

Ek het twee redes gehad. Eerstens, ek het gedink dat een van die baie gode wat mense aanbid, groter as al die ander moet wees. Maar watter een? Tweedens, ek het geweet dat mense groot respek vir die Bybel het. Daarom het ek by ’n Bybelstudieklas aangesluit.

Toe ek in 1992 aan die Katolieke Universiteit van Leuven in België begin studeer het, het ek na ’n Katolieke kerk gegaan. Ek het die priester gevra om my te help om die Bybel te verstaan, maar hy wou nie.

Hoe het jy antwoorde op jou vrae gekry?

Twee jaar later, terwyl ek nog in België wetenskaplike navorsing gedoen het, het ek ’n Poolse vrou met die naam Ruth ontmoet, wat een van Jehovah se Getuies is. Sy het Chinees leer praat sodat sy universiteitstudente kon help wat oor God wou leer. Ek het juis vir sulke hulp gebid, en daarom was ek baie bly om haar te ontmoet.

Ruth het vir my gewys dat die Bybel, hoewel dit nie ’n wetenskaphandboek is nie, met die wetenskap ooreenstem. Byvoorbeeld, die Bybelskrywer Dawid het in gebed tot God gesê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe, met betrekking tot die dae toe hulle gevorm is en nog nie een onder hulle daar was nie” (Psalm 139:16). Hoewel Dawid digterlike taal gebruik het, was hy in beginsel reg! Selfs voordat liggaamsdele gevorm word, is al die instruksies vir hulle ontwikkeling reeds daar. Die akkuraatheid van die Bybel het gehelp om my te oortuig dat dit God se Woord is. Ek het ook begin verstaan dat daar net een ware God, Jehovah, is. 1

Wat het jou daarvan oortuig dat God lewe geskep het?

Een van die doelwitte van wetenskaplike navorsing is om die waarheid te ontdek, nie om bewyse te vind vir die dinge waaraan jy reeds glo nie. My navorsing oor die ontwikkeling van die embrio het my beskouing verander—ek het tot die slotsom gekom dat lewe geskep is. Ingenieurs ontwerp byvoorbeeld monteerbane sodat die regte onderdele in die regte volgorde en op die regte manier inmekaargesit word. Die ontwikkeling van ’n embrio is soortgelyk, maar oneindig ingewikkelder.

Dit begin alles met ’n enkele bevrugte sel, nie waar nie?

Ja. Daardie mikroskopiese sel verdeel, en dit begin die proses van selverdeling. Aan die begin verdubbel die aantal selle elke 12 tot 24 uur. Vroeg in die proses vorm selle wat stamselle genoem word. 2 Stamselle kan in byna enige van die sowat 200 selsoorte ontwikkel wat vir ’n volledig gevormde baba nodig is, soos bloedselle, beenselle, senuselle, ensovoorts.

My navorsing oor die ontwikkeling van die embrio het my tot die slotsom laat kom dat lewe geskep is

Die regte selle moet in die regte volgorde en op die regte plekke vervaardig word. Hulle groepeer eers saam om weefsel te vorm, wat daarna organe of ledemate vorm. Watter ingenieur kan daarvan droom om instruksies vir so ’n proses te skryf? Tog word die instruksies vir die ontwikkeling van ’n embrio uitstekend in DNS uiteengesit. Wanneer ek dink aan hoe wonderlik dit alles is, oortuig dit my dat lewe deur God ontwerp is.

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Kortom, die rede is liefde. Jesus Christus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Hierdie soort liefde is onpartydig. Dit word nie beïnvloed deur ’n persoon se nasionaliteit, kultuur of velkleur nie. Ek het hierdie soort liefde gesien en ondervind toe ek met die Getuies begin assosieer het.

^ 2. Ter wille van sy Christelike gewete werk professor Yan-Der Hsuuw nie met die stamselle van menslike embrio’s nie.