Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die voortplantingstelsel van die Rheobatrachus-padda

Die voortplantingstelsel van die Rheobatrachus-padda

DIE Rheobatrachus-padda, wat in Australië voorgekom het en vermoedelik sedert 2002 ’n uitgestorwe spesie is, het haar kleintjies op ’n eienaardige manier uitgebroei. Die wyfie het haar bevrugte eiers ingesluk, wat gedurende ’n tydperk van omtrent ses weke in haar maag uitgebroei en ontwikkel het. Haar kleintjies het later by haar mond uitgekom as ten volle ontwikkelde paddatjies.

Die padda moes nie net ophou eet om te voorkom dat haar eiers verteer word nie, maar die afskeiding van maagsuur moes ook ophou. Chemikalieë wat deur die eiers en kleintjies vrygestel is, het blykbaar die afskeiding van maagsuur beperk.

Die padda het omtrent 24 eiers op ’n slag uitgebroei. Kort voordat die kleintjies “gebore” is, het hulle tot 40 persent van haar totale liggaamsgewig uitgemaak. Dit kan vergelyk word met ’n vrou wat 68 kilogram geweeg het voordat sy met 24 babas van 1,8 kilogram elk swanger geword het! Die jong paddatjies het die ma se maag so laat rek dat haar longe heeltemal platgedruk is en sy noodgedwonge deur haar vel moes asemhaal.

Wanneer die paddatjies gereed was, het hulle gewoonlik oor ’n tydperk van ’n paar dae by haar mond uitgekom. Maar as die ma van gevaar bewus geword het, het sy “geboorte” gegee deur hulle uit te braak. Navorsers het eenkeer gesien hoe ’n wyfie ses jong paddatjies saam uitspoeg—hulle het ongeveer ’n meter ver deur die lug getrek.

As hierdie voortplantingstelsel deur evolusie ontstaan het, soos party beweer, sou hierdie padda tegelykertyd sy fisiese samestelling sowel as sy gedrag grootliks moes verander. “Sy voortplantingstelsel kon onmoontlik ’n stadige en stelselmatige verandering ondergaan het”, het die wetenskaplike en evolusionis Michael J. Tyler geskryf. “Die gewoonte is óf heeltemal doeltreffend óf ’n volslae mislukking.” Die enigste geloofwaardige verduideliking, sê Tyler, is “’n enkele, ontsaglike sprong”. Party sal so ’n ontsaglike sprong die skepping noem. *

Wat dink jy? Het die voortplantingstelsel van die Rheobatrachus-padda deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?

^ par. 7 In sy boek Origin of Species het Charles Darwin gesê: “Natuurlike seleksie maak slegs gebruik van geringe opeenvolgende veranderinge; dit kan nooit ’n groot . . . sprong neem nie.”