Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet jy aan die Drie-eenheid glo?

Moet jy aan die Drie-eenheid glo?

Meer as tweemiljard mense sê dat hulle Christene is. Die meeste behoort aan kerke wat die Drie-eenheid leer—die leerstelling dat die Vader, die Seun en die heilige gees saam een God uitmaak. Hoe het die Drie-eenheid ’n amptelike leerstelling geword? Nog belangriker, is hierdie leerstelling in ooreenstemming met die Bybel?

DIE Bybel is in die eerste eeu HJ voltooi. In 325 HJ—meer as twee eeue later—is die leringe wat tot die ontwikkeling van die Drie-eenheidsleer gelei het, die eerste keer amptelik geformuleer by ’n konsilie in die stad Nicea in Klein-Asië, nou Iznik, Turkye. Volgens die New Catholic Encyclopedia het die geloofsbelydenis wat aan die Konsilie van Nicea toegeskryf word, die eerste amptelike uiteensetting van kerkleringe voorsien, insluitende die omskrywing van God en Christus. Maar waarom is dit nodig geag om God en Christus te omskryf eeue nadat die Bybel voltooi is? Is daar onduidelikheid in die Bybel oor hierdie belangrike onderwerpe?

IS JESUS GOD?

Toe Konstantyn die alleenheerser van die Romeinse Ryk geword het, was verklaarde Christene verdeeld oor die verhouding tussen God en Christus. Is Jesus God? Of is hy deur God geskep? Om die probleem op te los, het Konstantyn kerkleiers na Nicea ontbied, nie omdat hy op soek was na godsdienswaarheid nie, maar omdat hy nie wou hê dat godsdiens sy ryk moet verdeel nie.

“Daar [is] vir ons maar een God, die Vader.” —1 Korintiërs 8:6, Ou Afrikaanse Bybelvertaling

Konstantyn het die biskoppe, van wie daar moontlik honderde was, gevra om tot ’n eenparige besluit te kom, maar dit was tevergeefs. Hy het toe voorgestel dat die konsilie die onduidelike opvatting aanneem dat Jesus “een wese met” (homoousios) die Vader is. Hierdie onbybelse Griekse filosofiese term het die grondslag gelê vir die Drie-eenheidsleer wat later in die kerk se geloofsbelydenisse uiteengesit is. Ja, teen die einde van die vierde eeu het die Drie-eenheidsleer grotendeels die vorm aangeneem wat dit vandag het en die sogenaamde derde deel van die godheid, die heilige gees, ingesluit.

WAAROM MOET DIT VIR JOU SAAK MAAK?

Jesus het gesê dat “die ware aanbidders die Vader met . . . waarheid sal aanbid” (Johannes 4:23). Hierdie waarheid word in die Bybel gevind (Johannes 17:17). Leer die Bybel dat die Vader, die Seun en die heilige gees drie persone in een God is?

 Eerstens kom die woord “Drie-eenheid” nie in die Bybel voor nie. Tweedens het Jesus nooit beweer dat hy gelyk is aan God nie. Inteendeel, Jesus het God aanbid (Lukas 22:41-44). ’n Derde bewys hou verband met Jesus se verhouding met sy volgelinge. Selfs nadat hy uit die dood tot lewe in die geesteryk opgewek is, het Jesus sy volgelinge “my broers” genoem (Matteus 28:10). Was hulle broers van God die Almagtige? Natuurlik nie! Maar deur hulle geloof in Christus—God se voortreflikste Seun—het hulle ook seuns van die een Vader geword (Galasiërs 3:26). Vergelyk nog ’n paar tekste met die volgende stelling in die geloofsbelydenis wat aan die Konsilie van Nicea toegeskryf word.

Wat die Niceense Geloofsbelydenis sê:

“Ons glo . . . in een Here, Jesus Christus, . . . uit die wese van die Vader, God uit God, Lig uit Lig, ware God uit ware God.”

Wat die Bybel sê:

  • “My Vader [is] groter . . . as Ek [Jesus].”—Johannes 14:28. *

  • “Ek [Jesus] vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”—Johannes 20:17.

  • “Daar [is] vir ons maar een God, die Vader.”—1 Korintiërs 8:6.

  • “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus.”—1 Petrus 1:3.

  • “Dít sê die Amen [Jesus], . . . die begin van die skepping van God.”Openbaring 3:14. *

^ par. 13 Ons kursiveer. Al die aanhalings in hierdie gedeelte kom uit die Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

^ par. 17 Die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik? bevat onder meer hierdie twee hoofstukke: “Wat is die waarheid omtrent God?” en “Wie is Jesus Christus?” Jy kan ’n eksemplaar by Jehovah se Getuies kry of dit aanlyn lees by www.pr418.com/af.