Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 IS DIT ONTWERP?

Die energiebesparende vlug van die grootalbatros

Die energiebesparende vlug van die grootalbatros

VOËLS wat sweef, kan met baie min inspanning in die lug bly. Die grootalbatros is ’n uitsonderlike voorbeeld hiervan. Hierdie voël, wat ’n vlerkspan van 3,4 meter het en byna 8,5 kilogram weeg, gebruik bitter min energie om duisende kilometers ver te vlieg! Die geheim lê in sy anatomie sowel as sy sweeftegniek.

Dink hieraan: Wanneer ’n albatros se vlerke tydens die vlug heeltemal uitgestrek is, hou spesiale senings sy vlerke oop sodat die spiere kan rus. Nog iets wat hom help om ure aaneen te sweef, is die feit dat hy die kuns bemeester het om die seewinde te benut.

Wanneer albatrosse oor die see sweef, klim, draai en sak hulle in herhaalde boogpatrone—’n beweging wat die voëls genoeg momentum gee om te vergoed vir die momentum wat hulle weens lugweerstand verloor. Wetenskaplikes het eers onlangs uitgevind hoe die voëls dit regkry. Met behulp van hoëresolusie-volgtoestelle en spesiale rekenaarsagteware het hulle uitgevind dat albatrosse die nodige energie verkry wanneer hulle op die hoogste punt van elke boog draai sodat hulle nie meer teen die wind vlieg nie, maar saam met die wind. “Die verkryging van energie” verloop “gladweg en ononderbroke”, sê die wetenskaplikes. Die gevolg? Die voël kan ure aaneen sweef sonder ’n enkele vlerkklap!

Hierdie kennis sal ingenieurs moontlik help om lugvaartuie te ontwerp wat ligter op brandstof is en miskien nie eers enjinaandrywing nodig het nie.

Wat dink jy? Is die energiebesparende vlug van die albatros, sowel as sy besondere anatomie, die gevolg van evolusie? Of is dit ontwerp?