Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrouens se veiligheid – Die Bybel se beskouing

Vrouens se veiligheid – Die Bybel se beskouing

 Miljoene vrouens en meisies regoor die wêreld is al mishandel. Is jy een van hulle? Vind uit hoekom jou veiligheid vir God saak maak en wat hy oor die mishandeling van vrouens sal doen.

 “Toe ek ’n kind was, het my broer my elke dag fisies en mondelings mishandel. Nadat ek getrou het, het my skoonma my ook mishandel. Sy en my skoonpa het my soos ’n slaaf behandel. Ek het met selfmoordgedagtes gesukkel.” – Madhu, a Indië.

 Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê: “Geweld teen vrouens is algemeen regoor die wêreld.” Hulle skat dat byna een uit elke drie vrouens fisiese of seksuele geweld op die een of ander stadium in hulle lewe ondervind.

 As dit met jou gebeur het, voel jy dalk asof jy op enige tyd mondelings, fisies of seksueel mishandel kan word, maak nie saak waarheen jy gaan nie. As gevolg van sulke geweld en mishandeling op grond van geslag voel jy dalk dat die meeste mense dink: ‘Vrouens is nie belangrik nie’. Maar is vrouens regtig vir God belangrik?

Die Bybel wys dat die veiligheid van vrouens vir God saak maak

Wat is God se beskouing van vrouens?

 Bybelteks: “Man en vrou het [God] hulle geskep.” – Genesis 1:27.

 Betekenis: God het mans en vrouens geskep. Hy wil hê dat albei met respek behandel moet word. Hy verwag ook van ’n man om “sy vrou lief [te] hê soos homself” en nie om haar te probeer beheer nie, veral nie met lelike woorde of geweld nie (Efesiërs 5:33; Kolossense 3:19). Dit is duidelik dat die veiligheid van vrouens vir God saak maak.

 “Toe ek ’n kind was, is ek deur familielede seksueel gemolesteer. Toe ek 17 jaar oud was, het my werkgewer gedreig om my af te dank as ek nie seks met hom het nie. As ’n volwassene is ek deur my man, ouers en bure op ’n disrespekvolle manier behandel. Maar uiteindelik het ek oor Jehovah, b die Skepper, geleer. Sy beskouing is dat vrouens gerespekteer moet word. Dit verseker my dat hy vir my lief is en dat ek kosbaar in sy oë is.” – Maria, Argentinië.

Wat kan jou help om emosioneel te begin herstel?

 Bybelteks: “Daar is ’n vriend wat lojaler is as ’n broer.” – Spreuke 18:24.

 Betekenis: ’n Ware vriend sal jou ondersteun. As jy dink dat dit sal help, sê vir iemand wat jy vertrou, hoe jy voel.

 “Ek het 20 jaar lank vir niemand vertel dat ek seksueel gemolesteer is nie. As gevolg daarvan het ek ongelukkig, angstig en depressief geword. Maar toe ek uiteindelik vir iemand wat bereid was om te luister, van my ondervinding vertel, was dit vir my ’n groot verligting.” – Elif, Türkiye.

 Bybelteks: “Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” – 1 Petrus 5:7.

 Betekenis: Wanneer jy bid, luister God regtig (Psalm 55:22; 65:2). Omdat hy omgee, kan hy jou help om te verstaan hoe kosbaar jy regtig is.

 “Om oor Jehovah te leer het my begin help om te herstel van die diep emosionele pyn wat ek gevoel het. Nou kan ek vir God deur middel van gebed sê hoe ek voel. Hy is soos ’n vriend wat regtig verstaan hoe ek voel.” – Ana, Belize.

Sal God ooit ’n einde aan die mishandeling van vrouens maak?

 Bybelteks: “Jehovah . . . sal geregtigheid gee aan die weeskinders en dié wat verpletter is, sodat die sterflike mens van die aarde hulle nie meer sal bang maak nie.” – Psalm 10:​17, 18.

 Betekenis: God sal binnekort ’n einde maak aan alle ongeregtigheid, insluitende wreedheid en geweld teenoor vrouens.

 “Dit is vir my soos ’n geneesmiddel om te leer dat Jehovah binnekort ’n einde aan die mishandeling van vrouens en jong meisies sal maak. Dit het my innerlike vrede gegee.” – Roberta, Mexiko.

 Om meer te leer oor die hoop wat die Bybel gee, hoekom jy die beloftes daarin kan vertrou en hoe Jehovah se Getuies vandag ondersteuning uit die Bybel bied, vra as jy gratis besoek wil word.

 Laai ’n weergawe van hierdie artikel af wat gedruk kan word.

a Name is verander.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:​18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?