Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 7

Hoe om julle kind te leer

Hoe om julle kind te leer

“Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp.”—Deuteronomium 6:6, 7

Toe Jehovah die gesinsreëling ingestel het, het hy ouers gesag oor hulle kinders gegee (Kolossense 3:20). Dit is julle verantwoordelikheid as ouers om julle kind te leer om Jehovah lief te hê en ’n verantwoordelike volwassene te word (2 Timoteus 1:5; 3:15). Julle moet ook uitvind wat in julle seun of dogter se hart is. Julle voorbeeld is natuurlik baie belangrik. Julle sal in die beste posisie wees om julle kind Jehovah se Woord te leer as dit eers in julle hart is.—Psalm 40:8.

1 MAAK DIT VIR JULLE KINDERS MAKLIK OM MET JULLE TE PRAAT

WAT DIE BYBEL SÊ: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Julle wil sekerlik hê dat julle kinders moet voel dat hulle vryelik met julle kan praat. Hulle moet weet dat julle bereid is om te luister wanneer hulle met julle moet praat. Skep ’n vreedsame atmosfeer sodat dit vir hulle maklik sal wees om te sê wat hulle dink (Jakobus 3:18). As hulle dink dat julle ongevoelig of veroordelend sal wees, sal hulle dalk nie werklik openlik met julle praat nie. Wees geduldig met julle kinders en verseker hulle dikwels van julle liefde.—Matteus 3:17; 1 Korintiërs 8:1.

WAT JULLE KAN DOEN:

  • Wees beskikbaar wanneer julle kinders met julle moet praat

  • Gesels gereeld met hulle, nie net wanneer daar probleme is nie

2 PROBEER VERSTAAN WAT HULLE WERKLIK BEDOEL

WAT DIE BYBEL SÊ: “Hy wat insig in ’n saak toon, sal die goeie vind” (Spreuke 16:20). Soms sal julle verder as julle kinders se woorde moet kyk om te verstaan hoe hulle werklik voel. Dit is algemeen vir jongmense om te oordryf of om dinge te sê wat hulle nie werklik bedoel nie. “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid” (Spreuke 18:13). Moenie gou kwaad word nie.—Spreuke 19:11.

WAT JY KAN DOEN:

  • Wees vasbeslote om nie jou kinders in die rede te val of te oorreageer nie, ongeag wat hulle sê

  • Probeer onthou hoe jy op hulle ouderdom gevoel het en wat vir jou belangrik was

3 VORM ’N VERENIGDE FRONT

WAT DIE BYBEL SÊ: “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie” (Spreuke 1:8). Jehovah het die vader en die moeder gesag oor hulle kinders gegee. Julle moet julle kinders leer om julle te respekteer en te gehoorsaam (Efesiërs 6:1-3). Kinders kan sien as hulle ouers nie “verenig . . . in dieselfde denke” is nie (1 Korintiërs 1:10). As julle ’n meningsverskil het, moet julle probeer om dit nie voor julle kinders te bespreek nie, want dit kan hulle respek vir julle as ouers ondermyn.

WAT JY KAN DOEN:

  • Bespreek en kom ooreen oor hoe julle julle kinders sal dissiplineer

  • As jy van jou maat verskil oor hoe om julle kinders op te lei, moet jy probeer om jou maat se beskouing te verstaan

4 JULLE MOET ’N PLAN HÊ

WAT DIE BYBEL SÊ: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom” (Spreuke 22:6). Julle kan nie die opleiding van julle kinders aan die toeval oorlaat as julle suksesvol wil wees nie. Julle het ’n opleidingsplan nodig, wat die dissipline van julle kinders insluit (Psalm 127:4; Spreuke 29:17). Dissipline behels nie bloot dat julle julle kinders straf nie, maar dat julle julle kinders help om die redes vir die reëls te verstaan (Spreuke 28:7). Leer hulle ook om vir Jehovah se Woord lief te wees en die beginsels daarin te onderskei (Psalm 1:2). Dit sal hulle help om ’n gesonde gewete te ontwikkel.—Hebreërs 5:14.

WAT JY KAN DOEN:

  • Maak seker dat jou kinders God beskou as ’n werklike Persoon wat hulle kan vertrou

  • Help hulle om te leer hoe om sedelike gevare, soos dié op die Internet en sosiale netwerke, te identifiseer en te vermy. Leer hulle hoe om seksuele uitbuiters te vermy

“Lei ’n seun op volgens die weg vir hom”