Spring na inhoud

Hoe kan ouers hulle kinders oor seks leer?

Hoe kan ouers hulle kinders oor seks leer?

Die Bybel se antwoord

 Wie moet kinders oor seks leer? Die Bybel plaas hierdie verantwoordelikheid op ouers, en baie ouers het die volgende wenke nuttig gevind:

  •   Moenie skaam wees nie. Die Bybel praat openhartig oor seks en die geslagsdele, en God het vir die nasie Israel gesê dat “die kindertjies” oor sulke dinge geleer moet word (Deuteronomium 31:12; Levitikus 15:2, 16-19). Jy kan respekvolle uitdrukkings gebruik wat nie die indruk skep dat seks of die geslagsdele iets skandeliks is nie.

  •   Leer jou kind geleidelik. In plaas van een groot bespreking oor seks te hê wanneer jou kind puberteit nader, moet jy eerder geleidelik besonderhede oordra namate jou kind dit kan verstaan.—1 Korintiërs 13:11.

  •   Leer jou kind sedelike standaarde. Skole voorsien dalk ’n mate van seksvoorligting aan kinders. Maar die Bybel spoor ouers aan om hulle kinders nie net die fisiese aspekte van seksuele sake te leer nie, maar ook die regte gesindhede en gedrag in verband met seks.—Spreuke 5:1-23.

  •   Luister na jou kind. Moenie oorreageer of oorhaastige gevolgtrekkings maak as jou kind vrae oor seks vra nie. Wees eerder ‘gou om te hoor, stadig om te praat’.—Jakobus 1:19.

Hoe om jou kind teen seksuele uitbuiters te beskerm

Leer jou kind om weerstand te bied as iemand hom of haar seksueel probeer molesteer

  •   Lig jouself in. Vind uit hoe ’n tipiese kindermolesteerder te werk gaan.—Spreuke 18:15; sien hoofstuk 32 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1.

  •   Wees betrokke by jou kind se lewe. Moet hom nie sommer aan iemand se sorg toevertrou sonder om vas te stel of daardie persoon betroubaar is nie, en moenie dat jou kind “aan homself oorgelaat word” nie.—Spreuke 29:15.

  •   Leer jou kind ’n gebalanseerde beskouing van gehoorsaamheid. Kinders moet leer om aan hulle ouers gehoorsaam te wees (Kolossense 3:20). Maar as jy jou kind leer om altyd aan enige volwassene gehoorsaam te wees, maak jy hom kwesbaar vir seksuele misbruik. Christenouers kan vir hulle kind sê: “As iemand vir jou sê om iets te doen wat God sê verkeerd is, moet jy dit nie doen nie.”—Handelinge 5:29.

  •   Oefen eenvoudige beskermende stappe. Help jou kind om te leer wat om te doen as iemand hom of haar probeer misbruik wanneer jy nie daar is nie. Kort oefensessies van wat om in sekere situasies te doen, kan jou kind die vertroue gee om te sê: “Hou op! Ek gaan sê wat jy doen!” en om vinnig weg te kom. Jy sal jou kinders dalk herhaaldelik moet herinner aan wat om te doen, aangesien hulle maklik kan vergeet.—Deuteronomium 6:7.