Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 4

Hoe om met geld te werk

Hoe om met geld te werk

“Deur raad word planne stewig bevestig.”—Spreuke 20:18

Ons almal het geld nodig om ons gesin te voorsien van die dinge wat hulle nodig het (Spreuke 30:8). “Geld [dien immers] as ’n beskerming” (Prediker 7:12). As ’n egpaar is dit dalk moeilik om oor geld te praat, maar moenie toelaat dat geld probleme in julle huwelik veroorsaak nie (Efesiërs 4:32). ’n Egpaar moet mekaar vertrou en saam besluit hoe om hulle geld te bestee.

1 BEPLAN NOUKEURIG

WAT DIE BYBEL SÊ: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Dit is noodsaaklik dat julle saam beplan hoe julle julle geld gaan bestee (Amos 3:3). Besluit wat julle moet koop en hoeveel julle kan uitgee (Spreuke 31:16). Die feit dat julle die geld het om iets te koop, beteken nie noodwendig dat julle dit moet koop nie. Probeer om skuld te vermy. Bestee net die geld wat julle het.—Spreuke 21:5; 22:7.

WAT JULLE KAN DOEN:

  • As julle geld aan die einde van die maand oorhet, moet julle saam besluit wat julle daarmee gaan doen

  • As julle ’n tekort het, moet julle spesifieke stappe doen om julle uitgawes te verminder. Julle kan byvoorbeeld julle eie maaltye voorberei pleks daarvan om uit te eet

2 WEES EERLIK EN REALISTIES

WAT DIE BYBEL SÊ: “Maak eerlike voorsiening, nie net voor die aangesig van Jehovah nie, maar ook voor die aangesig van mense” (2 Korintiërs 8:21). Wees eerlik met jou maat oor hoeveel jy verdien en hoeveel jy uitgee.

Raadpleeg altyd jou maat wanneer jy groot finansiële besluite neem (Spreuke 13:10). Om oor geld te kommunikeer, sal julle help om die vrede in julle huwelik te bewaar. Beskou jou inkomste, nie as jou eie geld nie, maar as die gesin se geld.—1 Timoteus 5:8.

WAT JULLE KAN DOEN:

  • Besluit saam op ’n bedrag wat elkeen van julle mag uitgee sonder om die ander een te raadpleeg

  • Moenie wag totdat ’n probleem ontstaan voordat julle oor geld praat nie