Spring na inhoud

Breek Jehovah se Getuies gesinne op?

Breek Jehovah se Getuies gesinne op?

 As Jehovah se Getuies doen ons ons bes om gesinne op te bou, ons eie sowel as dié van ander. Ons respekteer God as die Insteller van die gesinsreëling (Genesis 2:21-24; Efesiërs 3:14, 15). In die Bybel voorsien hy beginsels wat mense regoor die wêreld help om sterk en gelukkige huwelike te hê.

Hoe Jehovah se Getuies gesinne opbou

 Ons doen ons bes om die Bybel se raad te volg, aangesien dit ons help om beter mans, vrouens en ouers te word (Spreuke 31:10-31; Efesiërs 5:22–6:4; 1 Timoteus 5:8). Die wysheid in die Bybel help selfs gesinne waarvan die lede aan verskillende godsdienste behoort, om suksesvol te wees (1 Petrus 3:1, 2). Kyk na die volgende kommentare van persone wat nie Getuies is nie en wie se huweliksmaats Jehovah se Getuies geword het:

  •   “Gedurende die eerste ses jaar dat ons saam was, het ons dikwels gestry en was ons baie gefrustreerd. Maar nadat Ivete een van Jehovah se Getuies geword het, was sy liefdevoller en geduldiger. Die veranderinge wat sy aangebring het, het ons huwelik gered.”—Clauir, van Brasilië.

  •   “Ek het nie daarvan gehou toe my man, Chansa, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het nie, want ek het gedink dat hulle gesinne opbreek. Sedertdien het ek gesien dat die Bybel ons huwelik in werklikheid help.”—Agness, van Zambië.

 In ons bediening wys ons ander hoe die toepassing van die wysheid in die Bybel hulle kan help om

Veroorsaak dit konflik in ’n huwelik as ’n huweliksmaat van godsdiens verander?

 Ja, dit gebeur soms. Byvoorbeeld, volgens ’n verslag wat in 1998 deur die navorsingsmaatskappy Sofres saamgestel is, het 1 uit 20 huwelike waarin net een huweliksmaat ’n Getuie is, ernstige probleme ondervind toe daardie maat ’n Getuie geword het.

 Jesus het voorspel dat diegene wat sy leringe volg, soms onenigheid in die gesin sou ervaar (Matteus 10:32-36). Die geskiedskrywer Will Durant sê dat “die Christelike godsdiens [onder die Romeinse Ryk] daarvan beskuldig is dat dit gesinne opbreek”, a en vandag word dieselfde aantyging teen party Getuies van Jehovah gemaak. Maar beteken dit dat die Getuie die onenigheid veroorsaak?

Europese Hof van Menseregte

 Die Europese Hof van Menseregte het in sy beslissing oor die aantyging dat Jehovah se Getuies gesinne opbreek, gesê dat gesinslede wat nie Getuies is nie, dikwels konflik veroorsaak deur te weier “om hulle gesinslid se vryheid om sy of haar godsdiens te beoefen, te erken en te respekteer”. Die Hof het bygevoeg: “Hierdie situasie word ondervind in alle huwelike waar huweliksmaats aan verskillende godsdienste behoort, en Jehovah se Getuies is geen uitsondering nie.” b Maar selfs wanneer Jehovah se Getuies met godsdiensonverdraagsaamheid te kampe het, streef hulle daarna om die Bybel se raad toe te pas: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:17, 18.

Waarom Jehovah se Getuies glo dat hulle net met persone van hulle eie godsdiens moet trou

 Die Getuies gehoorsaam die Bybel se bevel om “net in die Here” te trou, dit wil sê om met iemand te trou wat aan dieselfde geloof behoort (1 Korintiërs 7:39). Hierdie opdrag is skriftuurlik sowel as prakties. In 2010 het ’n artikel in die Journal of Marriage and Family byvoorbeeld gesê dat “egpare waarvan albei maats aan dieselfde godsdiens behoort en dieselfde godsdiensgebruike en -oortuigings het”, oor die algemeen ’n beter verhouding geniet. c

 Maar die Getuies spoor nie diegene wat aan hulle godsdiens behoort, aan om ’n huweliksmaat wat nie ’n Getuie is nie, te verlaat nie. Die Bybel sê: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie; en laat ’n vrou wat ’n ongelowige man het wat nietemin bereid is om met haar saam te woon, haar man nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12, 13). Jehovah se Getuies gehoorsaam hierdie bevel.

a Sien Caesar and Christ, bladsy 647.

b Sien die beslissing wat gelewer is in die saak Jehovah’s Witnesses of Moscow and Others v. Russia, bladsye 26-​27, paragraaf 111.

c Sien die Journal of Marriage and Family, Deel 72, Nommer 4, (Augustus 2010), bladsy 963.