Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Sleutels tot gesinsgeluk

Hoe om ’n sukses van julle eerste huweliksjaar te maak

Hoe om ’n sukses van julle eerste huweliksjaar te maak

Hy sê: “Ek is verbaas dat ek en my vrou soveel verskil! Ek hou byvoorbeeld daarvan om vroeg op te staan, maar sy hou daarvan om laat op te bly. Haar gemoedsveranderinge slaan my dronk! En nog iets—wanneer ek kos maak, raak sy so krities, veral as ek my hande aan die vadoek afvee.”

Sy sê: “My man is ’n man van min woorde. Maar ek is gewoond aan mý familie. Hulle praat baie, veral gedurende etenstye. En wanneer my man kos maak, gebruik hy dieselfde vadoek waarmee hy die skottelgoed afdroog om sy hande aan af te vee! Dit irriteer my! Waarom is mans so moeilik om te verstaan? Hoe maak mense ’n sukses van hulle huwelik?”

HET jy, as jy pas getroud is, al voor soortgelyke uitdagings te staan gekom? Lyk dit of jou maat skielik foute en swakhede het wat nie daar was toe julle nog uitgegaan het nie? Hoe kan jy die impak verminder van die “alledaagse probleme wat getroude mense sal hê”?—1 Korintiërs 7:28, Today’s English Version.

Eerstens, moenie verwag dat jy en jou huweliksmaat onmiddellik deskundiges oor die getroude lewe sal word net omdat julle huweliksgeloftes afgelê het nie. Jy het moontlik waardevolle sosiale vaardighede verkry toe jy ongetroud was, en dit het dalk verbeter terwyl julle uitgegaan het. Maar die huwelik sal daardie vaardighede op nuwe maniere op die proef stel, en jy sal waarskynlik nuwes moet aanleer. Sal jy foute begaan? Beslis. Kan jy die nodige vaardighede aanleer? Ongetwyfeld!

Die beste manier om enige vaardigheid te verbeter, is om ’n deskundige op die gebied te raadpleeg en dan sy raad toe te pas. Wanneer dit kom by die huwelik, is Jehovah God die vernaamste deskundige. Hy is immers die Een wat ons geskep het met die begeerte om te trou (Genesis 2:22-24). Kyk hoe sy Woord, die Bybel, julle kan help om uitdagings die hoof te bied en die nodige vaardighede te verkry sodat julle huwelik langer as ’n jaar sal hou.

 VAARDIGHEID 1. LEER OM MEKAAR TE RAADPLEEG

Wat is die uitdagings?

Keidji *, ’n man wat in Japan woon, het soms vergeet dat sy besluite sy huweliksmaat raak. “Ek het uitnodigings aanvaar sonder om my vrou te raadpleeg”, sê hy. “Dan het ek uitgevind dat dit vir haar ongerieflik was om hierdie afsprake na te kom.” Allen, ’n man in Australië, sê: “Ek het gedink dis onmanlik om my vrou oor dinge te raadpleeg.” Sy agtergrond het vir hom ’n uitdaging geskep. Dianne, wat in Brittanje woon, het ’n soortgelyke probleem gehad. Sy sê: “Ek was daaraan gewoond om by my familie raad te vra. Aan die begin het ek húlle dus geraadpleeg, pleks van my man, wanneer ek besluite geneem het.”

Wat is die oplossing?

Onthou dat Jehovah God ’n egpaar as “een vlees” beskou (Matteus 19:3-6). In sy oë is geen ander menseverhouding belangriker as dié tussen ’n man en ’n vrou nie! Om hierdie band sterk te hou, is goeie kommunikasie noodsaaklik.

’n Man en vrou kan baie leer deur te kyk na die manier waarop Jehovah God met Abraham gekommunikeer het. Lees asseblief die gesprek wat in Genesis 18:17-33 opgeteken is. Let daarop dat God op drie maniere aan Abraham eer bewys het. (1) Jehovah het verduidelik wat hy van plan was om te doen. (2) Hy het geluister terwyl Abraham sy beskouing verduidelik het. (3) Jehovah het sy handelswyse sover moontlik ter wille van Abraham aangepas. Hoe kan jy dieselfde stappe volg wanneer jy jou huweliksmaat raadpleeg?

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy sake bespreek wat jou huweliksmaat raak, (1) verduidelik hoe jy die situasie wil hanteer, maar bied jou idees aan as voorstelle, nie as finale besluite of ultimatums nie; (2) vra jou maat se mening, en erken dat jou maat die reg het om ’n ander beskouing te hê; en (3) ‘laat jou redelikheid bekend word’ deur jou maat se voorkeure te volg wanneer dit ook al moontlik is.—Filippense 4:5.

VAARDIGHEID 2. LEER OM TAKTVOL TE WEES

Wat is die uitdaging?

Afhangende van jou familie- of kulturele agtergrond is jy dalk in die gewoonte om jou mening ferm, selfs taktloos, uit te druk. Liam, wat in Europa woon, sê byvoorbeeld: “Waar ek vandaan kom, is mense geneig om taktloos te wees. Die bot manier waarop ek my uitgedruk het, het my vrou   dikwels ontstel. Ek moes leer om dinge op ’n mooier manier te stel.”

Wat is die oplossing?

Moenie aanneem dat jou maat wil hê dat jy op dieselfde manier met hom of haar moet praat as dié waaraan jy gewoond is nie (Filippense 2:3, 4). Die raad wat die apostel Paulus ’n sendeling gegee het, is ook vir pasgetroudes nuttig. Hy het geskryf: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees.” In die oorspronklike Grieks kan die woord wat met “teer” vertaal word, ook met “taktvol” weergegee word (2 Timoteus 2:24; voetnoot in NW). Takt is die vermoë om ’n sensitiewe situasie te onderskei en die saak met teerheid te hanteer, sonder om aanstoot te gee.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy jou vir jou huweliksmaat vererg, kan jy jou verbeel dat jy met ’n goeie vriend of met jou werkgewer praat en nie met jou maat nie. Sal jy nog steeds dieselfde stemtoon of woorde gebruik? Dink dan aan redes waarom jou huweliksmaat verdien dat jy met selfs meer respek en takt met hom of haar praat as met jou vriend of werkgewer.—Kolossense 4:6.

VAARDIGHEID 3. LEER OM BY JULLE NUWE ROLLE AAN TE PAS

Wat is die uitdaging?

Aanvanklik oefen ’n man dalk sy hoofskap op ’n lomp manier uit of is ’n vrou dalk nie daaraan gewoond om taktvolle voorstelle te maak nie. Antonio, ’n man in Italië, sê byvoorbeeld: “My pa het my ma amper nooit oor gesinsbesluite geraadpleeg nie. Aan die begin het ek dus soos ’n koning oor my gesin regeer.” Debbie, ’n vrou in Kanada, sê: “Ek het daarop aangedring dat my man netjieser moet wees. Maar dit was asof my baasspelerige benadering hom net koppiger gemaak het.”

Wat is die oplossing vir ’n man?

Party mans verwar wat die Bybel sê oor ’n vrou se onderdanigheid met wat dit sê oor ’n kind se gehoorsaamheid aan sy ouer (Kolossense 3:20; 1 Petrus 3:1). Die Bybel sê egter dat ’n man “sy vrou  [moet] aankleef, en die twee sal een vlees wees”; dit sê nie dieselfde oor ’n ouer en ’n kind nie (Matteus 19:5). Jehovah beskryf ’n vrou as die komplement, of eweknie, van haar man (Genesis 2:18). Hy verwys nooit na ’n kind as ’n komplement, of eweknie, van ’n ouer nie. Wat dink jy—respekteer ’n man die huweliksreëling as hy sy vrou soos ’n kind behandel?

Trouens, God se Woord spoor jou aan om jou vrou op dieselfde manier te behandel as wat Jesus die Christengemeente behandel. Jy kan dit vir jou vrou makliker maak om jou as haar hoof te beskou as (1) jy nie van haar verwag om onmiddellik en foutloos haar onderdanigheid aan jou te toon nie en (2) jy haar soos jou eie liggaam liefhet, selfs wanneer probleme ontstaan.—Efesiërs 5:25-29.

Wat is die oplossing vir ’n vrou?

Erken dat jou man nou jou hoof is, wat God oor jou aangestel het (1 Korintiërs 11:3). As jy jou man eer, eer jy God. As jy sy hoofskap verwerp, toon jy nie net hoe jy oor jou man voel nie, maar ook hoe jy oor God en sy vereistes voel.—Kolossense 3:18.

Wanneer julle moeilike kwessies bespreek, moet jy leer om die probleem aan te val—nie jou man se karakter nie. Koningin Ester wou byvoorbeeld hê dat haar man, koning Ahasveros, ’n onreg regstel. Sy het hom nie persoonlik aangeval nie, maar haar eerder taktvol uitgespreek. Haar man het haar voorstel aanvaar en uiteindelik die regte ding gedoen (Ester 7:1-4; 8:3-8). Dit sal makliker vir jou man wees om jou innig lief te kry as (1) jy hom tyd gee om sy nuwe rol as hoof van ’n gesin te bemeester en as (2) jy hom met respek behandel, selfs wanneer hy foute maak.—Efesiërs 5:33.

PROBEER DIE VOLGENDE: Moenie dink aan maniere waarop jou maat volgens jou moet verander nie; hou eerder ’n lysie van die veranderinge wat jy moet maak. Mans: Wanneer jy jou vrou ontstel deur die manier waarop jy jou hoofskap uitoefen of nie uitoefen nie, moet jy haar vra hoe jy kan verbeter en die voorstel dan neerskryf. Vroue: Wanneer jou man voel dat jy hom nie respekteer nie, moet jy hom vra hoe jy kan verbeter en dan op die voorstel ag gee.

Behou redelike verwagtinge

Om te leer hoe om ’n gelukkige, gebalanseerde huweliksverhouding te handhaaf, is soos om te leer fietsry. Jy verwag dat jy ’n paar keer sal val terwyl jy jou selfvertroue as ’n fietsryer opbou. Net so moet jy verwag dat jy ’n paar dom foute sal maak terwyl jy in die getroude lewe ervaring opdoen.

Behou ’n sin vir humor. Neem jou maat se kwellinge ernstig op, maar leer om vir jou eie flaters te lag. Gryp geleenthede aan om in jou eerste huweliksjaar aan jou maat vreugde te verskaf (Deuteronomium 24:5). Laat bowenal toe dat God se Woord julle in julle verhouding rig. As julle dit doen, sal julle huwelik jaar ná jaar sterker word.

^ par. 9 Van die name is verander.

VRA JOU AF . . .

  • Is my huweliksmaat my intiemste vertroueling of verkies ek om ander te raadpleeg?

  • Wat presies het ek in die laaste 24 uur gedoen om te toon dat ek my huweliksmaat liefhet en respekteer?