Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Sleutels tot gesinsgeluk

Geldsake

Geldsake

Hy sê: “Ek dink my vrou, Laura, * gee geld uit op onnodige dinge—ten minste op dinge wat ek nie dink ons nodig het nie. En dis vir haar blykbaar onmoontlik om geld te spaar! Dit skep regtig ’n probleem wanneer ons onverwagte uitgawes het. Ek het al dikwels gesê: As my vrou geld in haar sak het, sal sy dit uitgee.”

Sy sê: “Dalk is spaar nie my sterk punt nie, maar my man het geen benul van hoe duur alles is nie—kos, meubels, huishoudelike uitgawes—en ek is die een wat die meeste by die huis is. Ek weet wat ons nodig het, en ek koop dit, al weet ek dat dit tot nog ’n ‘bespreking’ oor geld gaan lei.”

GELD is soms een van die onderwerpe wat ’n egpaar die moeilikste vind om kalm te bespreek. Dit is geen wonder nie dat dit boaan die lys onderwerpe is waaroor egpare die meeste stry.

Egpare wat ’n ongebalanseerde beskouing van geld het, kan stres en konflik ondervind en emosioneel—selfs geestelik—skade ly (1 Timoteus 6:9, 10). Ouers wat hulle finansies nie goed bestuur nie, moet dalk langer ure werk en ontneem sodoende hulle kinders en mekaar emosionele en geestelike ondersteuning. Hulle leer ook hulle kinders om ’n onredelike beskouing van geld te hê.

“Geld [dien] as ’n beskerming”, erken die Bybel (Prediker 7:12). Maar geld sal jou huwelik en gesin slegs beskerm as jy nie net leer hoe om daarmee te werk nie, maar ook hoe om met jou maat daaroor te praat. * Trouens, pleks daarvan om ’n twispunt te wees, kan besprekings oor geldsake in werklikheid die band tussen huweliksmaats versterk.

Maar waarom is geld die oorsaak van soveel probleme in ’n huwelik? En watter praktiese stappe kan jy doen om konstruktiewe gesprekke oor geld te hê pleks van daaroor te stry?

Wat is die uitdagings?

Dikwels draai geskille oor geld nie eintlik om krediet of kontant nie, maar om vertroue of vrees. Byvoorbeeld, ’n man wat wil hê dat sy vrou rekenskap moet gee van elke sent wat sy uitgee, sê dalk in werklikheid dat hy min vertroue het in haar vermoë om die gesin se finansies te bestuur. En ’n vrou wat kla dat haar man te min spaar, gee dalk in werklikheid uiting aan haar vrees dat ’n toekomstige gebeurtenis die gesin finansiële skade kan berokken.

Egpare kom ook voor ’n ander uitdaging te staan—hulle agtergronde. “My vrou kom uit ’n gesin waar geld goed bestuur is”, sê Matthew, wat agt jaar getroud is. “Sy het nie die vrese wat ek het nie. My pa was ’n alkoholis en ’n kettingroker en was soms lank sonder werk. Ons moes dikwels sonder noodsaaklikhede klaarkom, en   ek het ’n werklike vrees ontwikkel om in die skuld te beland. Soms veroorsaak hierdie vrees dat ek onredelik is met my vrou wanneer dit by geldsake kom.” Dit maak nie saak wat die spanning veroorsaak nie—jy kan seker maak dat geld jou huwelik tot voordeel strek en nie benadeel nie.

Wat is vir jou die belangrikste—geld of jou huwelik?

Vier sleutels tot sukses

Die Bybel is nie ’n finansiële handboek nie. Maar dit bevat wel praktiese wysheid wat ’n egpaar kan help om finansiële probleme te voorkom. Ondersoek gerus die raad daarin en pas die volgende wenke toe.

1. Leer om kalm oor geld te praat.

“By dié wat saam beraadslaag, is wysheid” (Spreuke 13:10). Weens jou agtergrond voel jy dalk ongemaklik om ander, veral jou maat, oor geldsake te raadpleeg. Nogtans sal dit wys wees as jy leer om hierdie belangrike onderwerp te bespreek. Byvoorbeeld, dit sal dalk goed wees om aan jou maat te verduidelik watter invloed jou ouers se gesindheid teenoor geld op jou gehad het. Probeer ook verstaan hoe jou maat se agtergrond sy of haar gesindheid teenoor geld beïnvloed het.

Julle hoef nie te wag totdat ’n probleem opduik voordat julle oor geld praat nie. Een Bybelskrywer het gevra: “Sal twee saamloop tensy hulle mekaar volgens afspraak ontmoet het?” (Amos 3:3). Hoe kan hierdie beginsel toegepas word? As julle ’n vasgestelde tyd opsysit om oor geldsake te praat, sal julle die moontlikheid verminder dat misverstande tot twis lei.

PROBEER DIE VOLGENDE: Kies ’n gereelde tyd om oor die gesin se finansies te praat. Julle kan die bespreking op die eerste dag van elke maand hou of op ’n vasgestelde dag elke week. Hou die gesprek kort, moontlik net 15 minute of minder. Kies ’n tyd wanneer julle albei waarskynlik ontspanne sal wees. Kom ooreen om op sekere tye nie oor geld te praat nie, soos wanneer julle aan tafel is of saam met die kinders ontspan.

2. Besluit hoe inkomste beskou sal word.

“Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). As jy die enigste een is wat ’n inkomste verdien, kan jy aan jou maat eer betoon deur jou inkomste nie as jou persoonlike geld te beskou nie, maar as die gesin se geld.—1 Timoteus 5:8.

As jy en jou maat albei geld verdien, kan julle aan mekaar eer betoon deur te sê hoeveel julle verdien en watter groot uitgawes julle het. As jy enige van die twee geheim hou, sal jy heel moontlik jou maat se vertroue in jou ondermyn en julle verhouding benadeel. Jy hoef nie noodwendig jou maat te raadpleeg oor elke sent wat jy wil uitgee nie. Maar as jy groter aankope met jou maat bespreek, toon jy dat jy waarde heg aan jou maat se opinie.

PROBEER DIE VOLGENDE: Besluit saam op ’n bedrag wat elkeen van julle mag uitgee sonder om die ander een te raadpleeg, hetsy dit R100, R1 000 of ’n ander bedrag is. Bespreek dit altyd eers met jou maat as jy meer as hierdie bedrag wil uitgee.

3. Stel julle planne op skrif.

“As jy beplan en hard werk, sal jy oorgenoeg hê” (Spreuke 21:5, Contemporary English Version). Een manier om vir die toekoms te beplan en seker te maak dat julle harde werk nie verniet sal wees nie, is om ’n begroting vir die gesin op te stel. Nina, wat vyf jaar getroud is, sê: “Om jou inkomste en uitgawes op papier te sien, is waarlik ’n openbaring. Jy kan nie juis met die feite stry nie.”

Julle begrotingsmetode hoef nie ingewikkeld te wees nie. Darren, wat 26 jaar getroud en die vader van twee seuns is, sê: “Ons het eers ’n koevertmetode gebruik. Ons het die week se geld in verskillende koeverte gesit. Ons het byvoorbeeld koeverte vir kos, vermaak en selfs vir afsprake by die haarkapper gehad. As ons te min in een koevert gehad het, het ons uit ’n ander een geld geleen, maar ons het altyd seker gemaak dat ons dit terugsit sodra ons kon.” Veral as jy selde jou rekeninge kontant betaal  en eerder elektroniese bankoorplasings doen of ’n kredietkaart gebruik, is dit belangrik dat jy ’n plan het en op hoogte bly van jou uitgawes.

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf al jou vaste uitgawes neer. Besluit saam watter persentasie van julle inkomste gespaar moet word. Maak dan ’n lys van julle veranderlike uitgawes, soos kos, elektrisiteit en telefoonrekeninge. Hou dan ’n paar maande lank rekord van julle werklike uitgawes. Indien nodig, pas julle lewenstyl aan sodat julle nie in die skuld beland nie.

4. Besluit saam wie wat sal doen.

“Twee mense is beter as een omdat hulle meer bereik deur saam te werk” (Prediker 4:9, 10, New Century Version). In party gesinne sien die man na die finansies om. In ander gesinne behartig die vrou hierdie verantwoordelikheid op bekwame wyse (Spreuke 31:10-28). Baie egpare besluit egter om die las te deel. “My vrou werk met die rekeninge en kleiner uitgawes”, sê Mario, wat 21 jaar getroud is. “Ek sien om na die belasting, kontrakte en die huur. Ons hou mekaar op hoogte en tree nie onafhanklik op nie.” Watter metode julle ook al gebruik, die sleutel is om as ’n span saam te werk.

PROBEER DIE VOLGENDE: Bespreek wie watter verantwoordelikheid sal hê, terwyl julle mekaar se sterk en swak punte in ag neem. Kyk ná ’n paar maande weer na die reëling. Wees bereid om aanpassings te maak. Dit sal dalk goed wees om van tyd tot tyd rolle te ruil sodat julle die werk kan waardeer wat die ander een doen, soos om rekeninge te betaal of inkopies te doen.

Die ware boodskap agter besprekings oor geld

Julle besprekings oor geld hoef nie julle liefde vir mekaar te demp nie. Leah, wat vyf jaar getroud is, het gevind dat dit waar is. Sy sê: “Ek en my man het geleer om openhartige en eerlike gesprekke oor geld te hê. As gevolg daarvan werk ons nou as ’n span saam, en ons liefde het toegeneem.”

Wanneer egpare praat oor hoe hulle geld wil bestee, bespreek hulle die verwagtinge en drome wat hulle het en toon hulle dat hulle toegewyd is aan die huwelik. Wanneer hulle mekaar raadpleeg voordat hulle groot aankope maak, toon hulle respek vir mekaar se opinies en gevoelens. Wanneer hulle mekaar die vryheid gee om ’n sekere bedrag uit te gee sonder om dit eers te bespreek, is dit ’n bewys van hulle vertroue in mekaar. Dít alles dra by tot ’n waarlik liefdevolle verhouding. So ’n verhouding is beslis meer werd as geld—waarom dan oor geld stry?

^ par. 3 Name is verander.

^ par. 7 Die Bybel sê: “’n Man is die hoof van sy vrou.” Hy dra dus die grootste verantwoordelikheid vir hoe die gesin se geld gebruik sal word en is ook verplig om sy vrou op ’n liefdevolle, onselfsugtige manier te behandel.—Efesiërs 5:23, 25.

VRA JOU AF . . .

  • Wanneer laas het ek en my maat ’n kalm gesprek oor geld gehad?

  • Wat kan ek sê en doen om my waardering te toon vir die finansiële ondersteuning wat my maat die gesin gee?