Spring na inhoud

Ek voel skuldig – Kan die Bybel my help om beter te voel?

Ek voel skuldig – Kan die Bybel my help om beter te voel?

Die Bybel se antwoord

 Ja. Die Bybel kan ons help om te doen wat nodig is sodat ons ophou skuldig kan voel (Psalm 32:1-5). As ons iets verkeerds gedoen het, maar regtig jammer is, sal God ons vergewe en ons help om weer beter te voel (Psalm 86:5). Die Bybel wys dat skuldgevoelens partykeer goed kan wees. Skuldgevoelens kan ons help om op te hou om verkeerde dinge te doen en om harder te probeer om dit in die toekoms te vermy (Psalm 51:17; Spreuke 14:9). Maar die Bybel waarsku ons om nie vas te hou aan skuldgevoelens nie. Wanneer ons dit doen, oordeel ons dalk onsself en dink ons moontlik dat ons onwaardig is in God se oë. As ons onsself op hierdie manier beskou, kan dit veroorsaak dat ons “moed opgee”. – 2 Korintiërs 2:7, Contemporary English Version.

 Wat kan veroorsaak dat ons skuldig voel?

 Ons voel dalk vir verskillende redes skuldig. Ons besef moontlik dat ons iemand wat ons liefhet, seergemaak het of dat ons dit nie reggekry het om te doen wat ons dink ons moet nie. Partykeer kan ons skuldig voel sonder om regtig skuldig te wees. Byvoorbeeld, as ons onredelike hoë standaarde vir onsself stel, sal ons heel moontlik onnodig skuldig voel elke keer as ons nie by daardie standaarde kan bly nie. Dit is hoekom die Bybel ons aanmoedig om redelik te wees in wat ons van onsself verwag. – Prediker 7:16.

 Hoe kan ek skuldgevoelens hanteer?

 Doen wat jy kan om dinge reg te maak, eerder as om hopeloos te voel as gevolg van jou skuldgevoelens. Wat kan jy doen?

  •   Erken jou foute. Vra Jehovah a God in gebed om jou te vergewe (Psalm 38:18; Lukas 11:4). Jy kan seker wees dat God jou sal hoor as jy berou het, regtig jammer is en hard probeer om nie dieselfde fout te maak nie (2 Kronieke 33:13; Psalm 34:18). Hy sien die innerlike persoon, iets wat ander mense nie kan sien nie. Wanneer God sien dat ons probeer ophou om verkeerde dinge te doen, “is hy getrou en regverdig om ons sondes te vergewe”. – 1 Johannes 1:9; Spreuke 28:13.

     Wanneer jy iemand anders seergemaak het, moet jy dit natuurlik erken en regtig jammer sê vir die persoon. Dit is dalk nie maklik nie! Jy sal moedig en nederig moet wees. Maar wanneer jy uit die hart jammer sê, doen dit twee belangrike dinge: Dit lig ’n groot las van jou skouers af, en daar sal weer vrede tussen jou en die ander persoon wees. – Matteus 3:8; 5:23, 24.

  •   Dink aan Bybeltekste oor God se genade. Kyk byvoorbeeld na 1 Johannes 3:19, 20. Daar erken die Bybel dat “ons hart ons veroordeel”. Dit beteken dat ons dalk te hard is op onsself en dat ons moontlik nie goed genoeg voel om God se liefde te verdien nie. Maar daardie teks sê ook: “God is groter as ons hart.” Hoe so? Hy weet alles omtrent ons en hy verstaan ons gevoelens en swakhede. Hy weet ook dat ons onvolmaak gebore is en geneig is om te doen wat verkeerd is (Psalm 51:5). b Daarom verwerp hy nie mense wat regtig jammer is vir hulle foute nie. – Psalm 32:5.

  •   Moenie in die verlede lewe nie. Die Bybel praat van baie mans en vrouens wat slegte dinge in die verlede gedoen het, maar wat later hulle lewe verander het. Een voorbeeld is Saul van Tarsus, wat later bekend geword het as die apostel Paulus. As ’n Fariseër het hy Jesus se volgelinge wreed vervolg (Handelinge 8:3; 9:1, 2, 11). Maar toe hy uitvind dat hy eintlik God en die Messias, of Christus, teëstaan, het hy berou gehad, sy lewe verander en ’n voorbeeldige Christen geword. Paulus was natuurlik baie spyt oor wat hy in die verlede gedoen het, maar hy het nie aangehou om in die verlede te lewe nie. Omdat Paulus bewus was van God se groot genade teenoor hom, het hy ’n ywerige prediker geword en nooit sy hoop op die ewige lewe vergeet nie. – Filippense 3:13, 14.

 Bybelverse oor skuldgevoelens en vergifnis

 Psalm 51:17: “O God, u sal nie ’n gebroke en verpletterde hart verwerp nie.”

 Betekenis: God sal jou nie verwerp vir jou foute as jy regtig jammer is dat jy hom seergemaak het nie. Hy is genadig.

 Spreuke 28:13: “Iemand wat sy oortredings geheim hou, sal nie sukses hê nie, maar die persoon wat dit bely en ophou daarmee, sal genade ontvang.”

 Betekenis: As ons teenoor God erken dat ons gesondig het en veranderinge maak, sal hy ons vergewe.

 Jeremia 31:34: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en ek sal nie meer aan hulle sonde dink nie.”

 Betekenis: Wanneer God ons vergewe, sal hy ons nie herinner aan ons foute nie. Hy is regtig genadig.

a Jehovah is God se persoonlike naam. – Eksodus 6:3.

b Die rede hoekom ons verkeerde dinge doen, is as gevolg van oorgeërfde sonde wat ons van die eerste mens, Adam, gekry het. Saam met sy vrou, Eva, het hulle teen God gesondig en volmaakte menselewe en die vooruitsig daarvan vir hulle nakomelinge verloor. – Genesis 3:17-19; Romeine 5:12.